’n Langtongvlieg uit die Hantam dra deesdae die naam van ’n boorling van Kleinmond. Engela Duvenage vertel meer daaroor.

Die langtongvlieg met sy lang swart strootjie van ’n tong kan jy te siene kry in die Hantam- nasionale botaniese tuin digby Nieuwoudtville.Foto’s: Florian Karolyi
As jy weer in die Hantam- nasionale botaniese tuin digby Nieuwoudtville kom, maak ’n punt daarvan om een van die omgewing se vreemdste, grysste en kleinste inwoners te gaan soek.
Dis ’n langtongvlieg wat maar eers verlede jaar naam gekry het.
Teen sowat 4 cm is die vlieg se swart strooitjie van ’n tong so te sê dubbel so lank soos sy lyf.
In blomtyd is dit heel aardig om die insek, op soek na nektar, soos ’n mini-helikopter te sien hang bokant ’n plant.
Navorsers het al uitgevind dat dit die enigste insek is wat minstens vier blomsoorte kan bestuif. Dié het almal besonder lang tuite, wat beteken dat nie sommer enige insek tot heel onder kan reik om nektar uit te suig en in die proses vol stuifmeel te raak nie.
As dit nie vir die gereelde besoeke van dié langtongvlieg was nie, sou fyne blomspesies soos die perskussingtjie (Lapeirousia oreogena) of Frames-se-bobbejaantjie (Babiana framesii) dus kon uitsterf.
Die eerste voorbeeld daarvan is reeds in 1988 ingesamel. Sedertdien het plantkundiges en insekkundiges wat in die Hantam werk dit bespreek, maar niemand het nog ’n amptelike, onderskeibare naam daarvoor gegee nie.
Hulle was ook nie presies seker of dit dalk ’n heel nuwe spesie was nie.

Dié kleine vlieg is die enigste insek wat minstens vier blomsoorte kan bestuif.
Om agter die kap van die byl te kom, is voorbeelde daarvan na die Suid-Afrikaanse vliegkenner David Barraclough van die Universiteit van KwaZulu-Natal gestuur. Hy bestudeer al minstens drie dekades lank Afrika se vlieë in die fynste moontlike detail.
Nadat hy dit vergelyk het met ander langtongvliegspesies het Barraclough beslis dis ’n heel besonderse spesie – en dat dit dus ’n naam van sy eie kort.

Eugene Marinus, kurator van die Hantam- nasionale botaniese tuin.Foto: ARGIEF
Barraclough het inligting daaroor aan die einde van 2018 in die vaktydskrif Zootaxa gepubliseer.
Hy is bygestaan deur Jonathan Colville van die Suid-Afrikaanse nasionale biodiversiteit-instituut (SANBI) en die Universiteit van Kaapstad, en twee Oostenrykse kollegas, Florian Karolyi en Harald Krenn.
Hulle drie doen al lank navorsing oor die vlieg, en die blomme wat dit besoek.
Saam is besluit om dit Marinus se langtongvlieg (Prosoeca marinusi) te noem, uit erkenning vir al die hulp en bystand wat hulle oor die jare gekry het van die Hantam- nasionale botaniese tuin se kurator, Eugene Marinus.
Wie is Eugene Marinus?
Eugene het in Kleinmond grootgeword.
Jongtyd was hy deel van ’n buiteleweklub wat deur kartograaf Peter Slingsby begin is. Ná skool het hy ’n werknemer van die Suid-Afrikaanse instituut vir biodiversiteit (SANBI) geword, en by die Harold Porter- nasionale botaniese tuin by Bettysbaai ingeval.
In 2001 het hy Kirstenbosch toe geskuif, waar hy as tegniese hulp onder meer deel was van ’n navorsingspan wat deur die loop van ’n paar seisoene opnames gemaak het van skaars plante in die Hantam.
In 2008 het Eugene die eerste (en sover enigste) kurator geword van die Hantam- nasionale botaniese tuin buite Nieuwoudtville in die Noord-Kaap, wat met sy meer as 6 200 ha die grootste botaniese tuin in sy soort ter wêreld is.
Nog! Nog!
Wetenskaplikes het oor die afgelope paar maande ook nuus bekend gemaak van ’n hele reeks nuwe Suid-Afrikaanse spesies.
- Drie nuwe soorte seekomkommers is beskryf deur Ahmed Thandar van die Universiteit van KwaZulu-Natal. Een kom uit die see naby Scottburgh.
- ’n Nuwe soort wildeseldery (Deverra rapaletsa) is op die Ghaapplato in Griekwaland-Wes ontdek.
- Savel Daniels en sy span van die Universiteit Stellenbosch het ’n pêrelkleurige krapspesie (Potamonautes mhlophe) in ’n woud in die Oos-Kaap gevind.