Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
’n Oggend teen Middagberg
’n Deel van die Wemmershoekdam is sigbaar met die Wintershoekberge in die agtergrond.

’n Stap teen die Middagberg in die Hawekwa-natuurreservaat het Jannie van Rensburg aan die dink gesit oor die verganklikheid van alles.

Luipaardsbos, met sy yslike rots en klipkersbome wat skynbaar daaruit groei. ’n Ideale plek om die rugsak af te haal en terug te sit vir middagete – mits Maximus die luiperd nie reeds sy plek daar ingeneem het nie!Foto’s: JANNIE VAN RENSBURG

Byna daagliks verdwyn ’n spesie of twee iewers op die aardbol. Wetenskaplikes beraam daar is spesies wat verdwyn selfs nog voor dit deur die mens ontdek is. ’n Primaat miskien iewers in die Amasone, of ’n mikro-organisme onder jou vingernael.

Klimaatsverandering, besoedeling en oorbevolking kry meestal die skuld hiervoor. Ongerepte natuur moet dikwels plek maak vir nuwe ontwikkeling.

Soms egter is ons gelukkig en ontdek ons ’n nuwe spesie wat tot nou toe bestaan het sonder dat ons daarvan bewus was. Ander kere stap mens in die veld en kom op ’n plant, ’n dier of insek af wat jy self nog nooit gesien het nie.

Soos die vreemde rooi spinnekoppie wat ons in die Hawekwa opgemerk het, waaroor wetenskaplikes nog kopkrap.

Om by Middagberg uit te kom moet jy deur Bruce en Avril Powrie se plaas Olive Glen ry. Van Kaapstad af ry mens met die N1 verby die Paarl, en vat die afdraai na die Dutoitskloofpas. Skaars ’n kilometer ná jy afgedraai het, lê Olive Glen op die regterkant.

Middagberg regs, met Drostersberg langsaan.

Let maar goed op, want die afdraai is nie duidelik gemerk nie. Daar is verskeie elektroniese hekke, en jy moet Bruce of Avril bel om oop te maak. Dit kos R15 per persoon vir die instandhouding van die pad, wat plek-plek maar taamlik rof kan wees!

Die plaas bied ook piekniek- en kampeergeriewe, insluitend ’n onderdak-braaiplek genaamd The River House.

Vroegoggend volg ons die Wildepaardejacht-kloof tussen Klein Drakenstein op regterhand en Middagberg op. Links van Middagberg is Drostersberg. Glo só genoem omdat dit die toevlugsoord was vir slawe wat destyds uit gevangenskap ontsnap het.

Sowat twee en ’n half uur se klim het ons by die nek gebring. Tot by die piek van Middagberg is dit 1 100 m bo seespieël – ’n verdere klim van so 300 m van die nek af, maar een van ons stapmaats het nie te waffers gevoel nie en ons het besluit om aan te stap na waar ons die Wemmershoekdam kon sien.

Wat die Hawekwa so besonders maak, is dat dit ook die jaggebied van ’n luiperd is. Volgens die Kaapse Luiperd-stigting is sy naam Maximus. Presies wie op die naam besluit het, is nie duidelik nie, maar daar is ook ’n tuinslak met kolletjies, bekend as die Maximus-luiperdslak!

Die aambeibossie. Giftig vir diere, maar oor die eeue heen deur die Khoisan as geneesmiddel gebruik.

Maximus is die eerste keer in 2014 in die gebied opgemerk, waar die luiperd Enzo voorheen die dominante kat was.

’n Ent anderkant Luipaardsbos kom jy op ’n platorand wat uitkyk oor die Drakensteinrivier onder jou en verskeie bergspitse oorkant. Jy stap ook op plekke verby digbegroeide hakea-bosse – ’n indringerbos wat dreig om die inheemse flora te verswelg.

Rooi gevaar? Wetenskaplikes kon sover geen lig werp op dié spinnekop-spesie wat onlangs in die Dutoitskloof-omgewing van die Wes-Kaap opgemerk is nie.

Dis mense wat die hakea uit Australië na Suid-Afrika gebring het, en dis mense wat nou plan moet maak om daarvan ontslae te raak. Dis egter klein kewertjies wat die werk moet doen.

Botaniste het doelgerigte klein kewertjies op die hakea losgelaat, en sover lyk dit of die indringers aan die uitsterf is.

Die veld hier is oortrek met fynbos, proteas en rietgras. ’n Sierlike plant wat mens nie sommer elke dag sien nie, is die Chironia baccifera, oftewel aambeibossie. Die Engelse naam daarvoor is die Christmas berry omdat sy bessie rondom Kersfees op sy mooiste rooi is.

Ofskoon dit giftig vir diere is – sowat 250 g daarvan is genoeg om ’n skaap dood te maak – het dit medisinale waarde.

Die Khoi-San het dit oor die eeue heen vir ’n verskeidenheid kwale aangewend, onder meer vir die behandeling van aambeie.

Met die terugstap sien ons toevallig ’n klein spinnekop, wat ons nie sou gesien het as dit nie vir sy helderrooi kleur was nie! Omtrent so groot soos ’n ertjie, met geen tekens van ’n spinnerak in sy nabye omgewing nie.

Navrae by verskeie natuurwetenskaplike instellings kon tot dusver geen lig werp op sy genus nie.

Meer inligting: Bel Bruce of Avril Powrie by 082 921 4325.

Meer oor:  Natuurreservaat  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.