Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
’n Rivier kry sy fut stadigaan terug

Sedert 2019 word ’n grootse poging deur die Gouritsgroep-biosfeerreservaat se Goukou Resilient River Project, wat in Riversdal gebaseer is, aangewend om die Goukourivier te herstel. Tisha Steyn het meer gaan uitvind.

Die Korentepoortrivier en -dam vorm deel van die Goukouriviersisteem. ’n Projek is aan die gang om dié sisteem so ver as moontlik te herstel en sluit in die beheer van indringerplante en erosie.Foto: TISHA STEYN

‘Wêreldomgewingsdag gaan oor aksie en nie net woorde nie,” sê Rita Liebenberg, projekbestuurder van die Goukou Resilient River Project.

“Die doel van die projek wat in 2019 met buitelandse finansiering van stapel gestuur is en tot 2021 duur, is om die verlies van biodiversiteit te verminder en die stukkies versnipperde habitat van die Goukourivierstelsel weer met mekaar te verbind.”

Die ekologie van die rivier, wat in die Langeberge bo Riversdal ontspring en in die see by Stilbaai uitmond, word verbeter deur die beheer van indringerplante en erosie in die opvanggebied, op die oewers en in die rivierbedding.

Die projek fokus hoofsaaklik op private eiendom in die opvanggebied waar reeds 384 ha in die laer- en 380 ha in die hoër Goukougebied skoongemaak is.

“Die doel van dié langtermynprojek is nie noodwendig om die hele riviersisteem te herstel nie, maar soveel as moontlik daarvan afhangend van die beskikbare geld.

“Die droogte van die afgelope drie, vier jaar het almal laat wakker skrik en nou moet ons fokus op watersekerheid,” sê Liebenberg. Inligting oor die hoeveelheid en standaard van die water asook die verskeidenheid inheemse plante in die hele gebied,word deur ander instansies verskaf.

“Ons gaan nie die ganse verskeidenheid inheemse plante in die hele gebied aanteken nie, maar net op uitgesoekte proefpersele wat op ons projek van toepassing is.”

Die indringerspesies, wat naas wattel ook rooipitjie insluit, het die inheemse fynbos verdring. Die indringers is gehard en groei vinnig, veral waar die veld gebrand het. As die afgekapte plante nie behandel word nie, groei dit lustig terug.

In sommige van die gebiede is die meeste wattels reeds deur middel van biologiese beheermaatreëls behandel, maar origens word onkruiddoder gebruik.

Waar die indringerplante verwyder word, sal dit mettertyd met inheemse spesies wat hier aard en waarvoor ’n kwekery aangelê word, vervang word.

“Deur die uitheemse plante met inheemse spesies te vervang, kan die indringers se groei aan bande gelê word en die diversiteit van die veld herstel word. Die hervestiging hang van baie faktore af en ons beplan nog watter plante ons gaan kweek.”

Covid-19

Soos ander sektore, het die koronavirus die werk van die kontrakteurs wat die uitheemse spesies verwyder ’n ruk lank aan bande gelê, maar hulle het reeds op 4 Mei weer begin werk.

“Omdat die eienaars en terreine verskil, word elke gebied anders benader. Die dienste van die vier onafhanklike kontrakteurs van Riversdal en Heidelberg wat altesaam 52 mense in diens het, word gebruik. Hulle is in 2019 opgelei en verskillende metodes word gebruik om die afgekapte plante te verwerk: Dit word gestapel of opgekap, terwyl mense uit die gemeenskap of die grondeienaar self hout maak om te verkoop.”

cco
Die Goukourivier mond by Stilbaai in die Indiese Oseaan uit. Foto: DEONA AUCAMP

Volgens haar kan nog nie bepaal word of en hoe die veld tydens die inperkingstyd verander het nie. “Daar sal hergroei wees tot die saadbank uitgeput of heeltemal onderdruk is. Dit is ’n langtermynproses.”

’n Basislyn-biodiversiteit­analise van die studiegebied word vir later vanjaar beplan.

Water vir almal

Volgens Louis van Dyk, bestuurder van die Korente-Vetterivierbesproeiingsraad op Riversdal, het die vlak van die Korentepoortdam tydens die inperkingperiode van einde Maart tot middel Junie nie baie gewissel nie.

Einde April was die damvlak op 68,8%, terwyl dit op 25 Mei 72% was. Ná goeie onlangse reën was die dam se vlak op 10 Junie op 79%.

Vanaf die dam vloei water in die Korenterivier af na die Novo-keerwal. Die Vetterivier vloei by die keerwal in ’n kleiner dam, vanwaar die water verdeel en met ’n kanaalstelsel vir landboubesproeiing versprei, asook met ’n pyplyn na die dorp se suiweringswerke langs die N2 gevoer word.

Van die keerwal af vloei dit in die Vetterivier tot by die Riversdal-gholfbaan, waar dit in die Goukourivier loop. Daar is ook eiendomme met waterregte wat direk uit die Goukourivier mag pomp.

In die voetheuwels van die Langeberg word met suiwel, groente en vrugte geboer, terwyl hoofsaaklik met droëlandgewasse op die gebied bekend as die Droë Vlakte tussen die N2 en die kuslyn geboer word.

Volgens Van Dyk dui die reënval wat die afgelope 25 jaar gemeet word, dat die hoogste gemiddelde syfers in die herfs – Maart (81 mm) en April (75 mm) – en in die lente – Oktober (74 mm) en November 92 mm – aangeteken word.

“Reënvalsyfers die afgelope jaar is heelwat hoër as in 2018 en ’19 en dit kan daarop dui dat dit besig is om na normaal terug te keer.”

Tonne uitheemse hiasinte ná swaar neerslae wat in die getyrivier beland. Foto: JEAN DU PLESSIS, CAPENATURE

Of dit beteken dat die riviersisteem genoeg water van goeie gehalte vir die dorpe se groeiende bevolkingstal en landbou-uitbreidings het, bly egter ’n ope vraag.

Volgens hom het landbou-aktiwiteite tydens die grendelperiode normaal met besproeiing voortgegaan.

Getyrivier by Stilbaai

Tog het CapeNature by die Goukougetyrivier by Stilbaai ’n toename in varswatertoevoer opgemerk.

“Ons navorsing toon dat daar ’n toename in die invloei van vars water in die getyrivier was wat daarop kan dui dat minder water hoër op uit die rivier onttrek is,” sê Jean du Plessis, bestuurder van CapeNature se Stilbaai- mariene bewaringsgebied.

Volgens hom ly die monding die afgelope aantal jaar voortdurend onder ’n gebrek aan varswatertoevoer. Dit het ’n invloed op die groot verskeidenheid waterlewende spesies wat in die monding voorkom.

“Ons kon weens die inperking nie ons normale werksaamhede voortsit nie en kan dus nie regtig sê hoe die hoeveelheid of standaard van die water in dié tyd verander het nie.

“Omdat hengel- en bootaktiwiteite ook deur die maatreëls aan bande gelê is, kon ons nie vasstel of die verminderde aktiwiteite op die rivier ’n positiewe uitwerking op die sisteem gehad het nie.

“Die voortplanting van visspesies is seisoenaal en die inperkingstyd was waarskynlik te kort om enige verandering te kon teweeg bring.”

Meer oor:  Riversdal  |  Buite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.