Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
’n Stywe galop op Piet Pad se plaas

Om honderd myl deur die Karoo te perd af te lê is nie vir sissies nie, maar op die Lormar-uithourit buite Middelburg is daar verbasend min trane. Dis seker maar oor die kameraderie en die herinneringe aan Piet Pad, meen Johanette van Heerden.

Wyle Piet Pad

Eintlik is hy na regte Piet Pad die Tweede en het hy sy liefde vir perde en uithouritte by sy pa, Ou Oom Piet Pad, gekry. Die uithouritstorie het ook by Ou Oom Piet Pad begin. Nico Theunissen, ’n jarelange familievriend, onthou nog ’n artikel wat hy eenkeer in ’n ou Landbouweekblad op Fairview gelees het.

“Lank gelede, in 1965, het Landbouweekblad ’n perdemarathon aangebied. Altesaam 144 deelnemers het op Hanover weggespring. Die eerste dag het hulle vanaf Hanover na De Aar gery en dan van De Aar na Richmond op die tweede dag. Boet Ferreira van Patensie het met Ou Oom Piet Pad se wit Arabiermerrie Lorraine dié eerste langafstand (uithou)wedren gewen deur die 126 myl in 13 uur 9 minute af te lê. Oom Piet se ander wit Arabiermerrie Cruiser (suster van Lorraine) het 12de geëindig. Oom Piet het weer met hierdie twee merries die stoet laat herleef. Die naam Lormar is daarna afgelei van Lorraine en Marathon.”

“Ek is stokflou, ja, maar ek doen dit vir Oom Piet – hy bly maar ’n legende,” sê Carmen du Preez.

Dit is Saterdagaand, 19 Oktober, en die Lormar Endurance FEI en Erasa (Endurance Ride Association of South Africa) se 2019-uithourit, waarvan Carmen die hooforganiseerder was, is pas agter die rug. Oor die afgelope twee dae het 95 ruiters hulself blikners gery aan vier verskillende roetes van 40 km, 80 km, 120 km en 160 km oor Karoovlaktes, randjies en stofpaaie. Dis die laaste van twee jaarlikse uithouritte hier op die plaas Fairview, 50 km wes van Middelburg.

Jy moet jou Engels ken

Fairview is die plaas van oorle’ Piet van der Merwe, Oubaas van der Merwe, of sommer net Piet Pad. Dis hy wat in 2010 vir die eerste keer die uithouritte hier aangebied het. Die rit wat hy aanvanklik in 2010 (onder die vaandel van Erasa) vir perde en ruiters van die Karoo begin het, het spoedig ruiters van reg oor Suid-Afrika gelok.

Oor die jare heen het Piet ook verskeie topgehalte Arabierperde na Saoedi-Arabië uitgevoer en gereeld vir sy Arabiese vriende in Dubai gaan kuier. Dit was nie vreemd vir hom om hulle dan weer hier op Fairview in die Karoo te ontvang nie. Piet het ongelooflik baie vriende gehad. Reg oor die wêreld het hy mense se harte aangeraak en sy Lormar-betowering uitgeleef.

In 2017, maande voor Piet se skielike dood ná ’n beroerte, is Lormar onder die internasionale vereniging vir perdesport FEI (Fédération Équestre Internationale) se standaarde geregistreer. Deesdae moet ’n mens jou Engels ken as jy ’n geselsie wil aanknoop by Lormar, want in die laaste twee jaar het ruiters van Slowakye, Australië, Italië en Portugal na Lormar gekom om aan dié unieke Karoo-uithourit deel te neem. Die buitelanders skakel vinnig in en by Lormar voel almal in elk geval soos familie.

Piet se vrou, Annette, en haar twee seuns, Pieter en Briërs, se gul verwelkoming laat buitendien enige vreemdeling dadelik welkom voel. Annette en haar helpers hou al die tweebeendeelnemers se mae vol met aandetes uit Fairview se kombuis. Danksy Piesang (Christiaan du Toit), ’n jarelange vriend van Piet, was daar Donderdagaand voor die lang rit begin vars gebraaide snoek en soetpatats uit die Wes-Kaap vir almal.

Piesang kom kuier nog gereeld op Fairview en koester steeds die herinneringe en grappies wat hy en Piet tydens Lormar gedeel het. Al is Lormar nie 100% dieselfde sonder Piet Pad hier nie, voel dit of hy uit die hemel koning kraai wanneer die donderweer bulder, die wind verwoed waai en groot druppels die stofpad val . . . Niks ruik so lekker soos Karooreën nie.

Carmen en Andries Pretorius verwelkom al die deelnemers en Carmen lê die roete uit, terwyl dr. Nolte Troskie, president van die veeartse vir die rit, almal die leviete voorlees vir die naweek wat voorlê. Die veeartse se doel is om te verseker die perde se gesondheid word eerste gestel. Veeartse uit Namibië, Botswana en selfs Portugal is ’n algemene gesig by Lormar, waar die perde keurig ondersoek word voor, tydens en ná die rit en seker gemaak word daar word streng by die reëls gehou.

’n Roete tydens die droogte

Die twee jaarlikse Lormar-uithouritte vind in Maart en Oktober plaas en die roete word gereeld verander om dit sodoende opwindend en uitdagend te hou. Die droogte en warm toestande word in ag geneem tydens beplanning van die roetes en die veld word kans gegee om te herstel. Vir Oktober 2019 se rit is die uitmergelende klipperige berg tussen Fairview en Donkerhoek uitgeskakel om die perde nie tydens die erge droogte aan die uiters moeilike omstandighede bloot te stel nie. Tog is die nuwe roete steeds ’n groot uitdaging, veral vir ruiters en perde wat nie aan die Karoo gewoond is nie.

’n Mens moet kophou as jy hier wil foto’s neem. Elkeen wil graag ná afloop van die rit, sy/haar ervarings koester met foto’s, maar om as dorpsjapie te snap waar die wit of rooi of swart of geel been van die roete op Fairview is, wil gedoen wees. As jy vra watter rigting nou die beste sal wees om in te vaar vir mooi aksiefoto’s met die landskap as agtergrond, is Pieter en Briërs die beste raadgewers.

“As jy nou gou maak, sal jy die 80’s op die swart been kry, of nee wag, dalk moet jy liewer die 120’s op die geel been inwag,” gee hulle raad.

Kom wat wil, iewers moet hulle tog almal wel verby gegalop kom en daarvoor is die geel been deur die sandsloot die ideale plek om die Lormar-gevoel, bultende perdespiere, stof-opskop in die sand en selfs ’n paar flukse ruiters wat dalk langs ’n perd draf, vas te vang. Tyd vir geselsies maak is daar ook nie, want mik moet jy mik, of jy mis die aksie. As ’n haastige paar jonges soos ’n trop buffels op jou afjaag, is daar nie kans vir wonder wie jy gaan raak mik nie, dan is dit tyd vir fokus, ooploop en later uitsoek wie die beste aksiefoto’s gelewer het! Soms kom ’n perd sonder ’n ruiter verbygejaag. Vir só ’n perd is daar nie baie of goeie woorde nie, want “stout” is die vinnigste woord waarmee jy hom kan toesnou. ’n Uur later kom die ruiter stokflou in die stof aangeplof: “Het hier dalk ’n bruin perd sonder ’n ruiter verbygekom?”

“Ja, hy is baie vinnig kort op die hakke van die merrie voor hom hier verby.”

Landbouweekblad berig in 1965 oor die perdemarathonwenners, waaronder Boet Ferreira van Patensie met Ou Oom Piet Pad se wit Arabiermerrie Lorraine.

“Halleluja! Ek was so bang hy is weg!”

Dit gee mens dan hoendervleis as jy dink hoe kwaad die ruiter eintlik moes wees, maar tog is daar altyd vergifnis tussen ’n ruiter en ’n perd, want net hulle verstaan mekaar.

Vreemd genoeg sien jy nie sommer trane van teleurstelling nie . . . of huil perdemense nooit nie? wonder ’n mens. Tyd vir wonder is daar ook nie juis nie, want ’n tekort aan aksie is daar beslis nie by Lormar nie. Nóg ’n perd sonder ruiter, met saal en stiebeuels klinkend onder sy pens, pyl op die wenstreep af.

“Keer die perd! Waar is die ruiter? Sy moet op die perd wees as hy oor die wenstreep gaan!” skree Susan de Meyer van Namibië, FEI se hoofbeampte by Lormar, met haar rooi hoed en hande in die lug om die perd te keer!

Vaal van die stof verskyn die ruiter om die draai. Met haar hande in die sye staan en wag sy dat haar perd na haar terug gebring word, sodat hulle kan teruggaan na waar hulle mekaar om die draai verloor het. Dan is dit weer vir self opsaal, buikgord vastrek en sonder enige trane van teleurstelling maak sy al haar moed bymekaar om weer op te klim vir daardie laaste treetjies oor die wenstreep. Vrolik word sy deur die omstanders toegejuig, want hier by Lormar deel almal in mekaar se emosies.

Deel van die Lormar-familie

Dan, op Saterdagaand, is dit tyd vir die prysuitdeling. Die Oos-Kaapse ruiters wat aan die kampioenskappe deelgeneem het, ontvang erkenning vir hul prestasies gedurende die jaar. Antoinette Birch op Kasan Viëtnam word onderskeidelik as Oos-Kaapse standaardgewig-ruiter en Perd van die Jaar aangewys. Kirsty Masterson op Delmar Nadra wen die Oos-Kaapse liggewig-ruiter, asook Perd van die Jaar, terwyl Marli Geldenhuis op Indiana die plek as Oos-Kaapse jong ruiter en Perd van die Jaar inpalm.

Nie eens die knellende droogte kan die uithouritte by Lormar onderkry nie, want hier word Piet se droom voortgeleef en uitgebou danksy sy familie, perdevriende en Carmen. “Onthou, jy is deel van die Lormar-familie,” sê Carmen toe sy Saterdagaand groet, “Maartmaand doen ons dit weer!” Ek sal daar wees – vir Piet-Pad, die Lormar-legende!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.