Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Namakwaland: Oorrompelende prag van blomme

Blomkykers by ’n lieflike uitkykpunt in die Weskus Nasionale Park Foto’s: Sam J. Basch
Namakwaland en die Weskus se blomme gaan laat wees, maar besonder mooi. Só sê die ou mense wat in dié geweste gebore is en weet om die tekens te lees. Sam J. Basch onthou ’n blommetoer.

’n Koue front daal oor die Kaap terwyl ons einde Augustus noordwaarts op die N7 voortsnel. Maar dit bly mooi; ’n geel tapyt van kanola tussen mosgroen landerye rol voor ons oop. Weliswaar nie veldblomme nie, maar ons hou moed. Ons het immers op verskeie plekke op ’n lang, eliptiese roete bespreek.

Strandfontein lê knus in ’n baai. Vanaand smul ons aan Weskussnoek by die Kommetjie-restaurant, terwyl ’n vuurrooi son in die see wegsak.

By Klawer, onderweg verder noord na Kamieskroon, koop ons ’n 2015 Cape Vintage-dessertwyn wat die tong sag streel – vir die slaapdoppie saans op ons reis.

Maar die volgende oggend hang ’n vaalgrys miskombers oor die dorp en oor Doringbaai. Skynbaar is geen wingerd êrens in die wêreld so naby die Atlantiese Oseaan as hier nie.

By Klawer, onderweg verder noord na Kamieskroon, koop ons ’n 2015 Cape Vintage-dessertwyn wat die tong sag streel – vir die slaapdoppie saans op ons reis.

Die netjiese oornagkothuis, een van Kamieskroon Cosy Cottages, is gerieflik naby die Namakwa Nasionale Park wat beloof om mooi blomme te hê. Maar ook hier kortwiek gure weer ons planne. Tog is die park se Skilpadroete ’n juweel; berge tot in die verskiet, plate vetplante en selfs ’n troppie elande.

Die verlatenheid is bykans tasbaar by Koeroebees se 1844-bouvalle.

By Koeroebees ontdek ons ’n godverlate wêreld. Hier moes mense grou vir water: “koeroe” in die Namataal beteken grawe en “bees” is water. Songebakte murasies van ou opstalle uit 1844 is ’n krummelende baken van ’n vergange pioniersbestaan.

By Koeroebees ontdek ons ’n godverlate wêreld. Hier moes mense grou vir water: “koeroe” in die Namataal beteken grawe en “bees” is water.

Net voor sonsondergang haal ons Springbok – maar ons ry gou tot by Nababeep, waar uiteindelik ’n sprinkeling van oranje bittergousblom op die sand gestrooi lê. Die kaart wys ons is ’n uur se ry weg van Namibië se grens!

By Springbok het Simon van der Stel in 1685 gaan soek na koper. Ons soek eerder nog blomme in die Goegap-natuurreservaat digby die dorp. ’n Asemrowende landskap, selfs ’n kokerboomwoud.

’n Koue ystervuis

Die volgende oggend lê ’n laag ys op die motor se voorruit. Ons keer suidwaarts terug, op die N7 Vanrhynsdorp toe. Vandaar oos op die R27 deur die indrukwekkende Vanrhynspas na Nieuwoudtville. Almal sê dís die plek vir blomme. “Net jammer dis nog te koud vir hulle om oop te maak,” word ons vertel. Lae wolke hou steeds met ’n ysige hand die blomme toegevou.

Ons slaap oor by Algeria in die Cederberg-wildernisgebied. ’n Vreemde naam vir hierdie omstreke; só genoem deur ’n Franse adellike vir wie die omgewing gelyk het soos die Atlasgebergte in Noord-Afrika.

Die gerieflike bosbouhut – Prik se Werf – is toegerus met sonkrag, maar het ’n kaggel wat ons perfek pas, want dit reën en die koue gryp aan jou lyf.

Die dag breek egter met sonskyn en trae miswolke wat soos spookasem aan die bergtoppe kleef. Strome water loop uit die klowe. Ons is verheug om te sien oral is die voue van die berg in geel getooi.

Die indrukwekkende uitstalling van veldblomme in Clanwilliam se ou NG kerk – nou bekend as die Blomkerk.
Blomme op skou

In Clanwilliam se NG kerkgebou, wat sedert 1864 bestaan, is die jaarlikse veldblomfees in volle gang. Hier is jy ten minste seker jy sal blomme sien.

Al sou ’n mens net vir hierdie geleentheid die Wes-Kaap besoek, is dit die moeite werd. Besoekers van oral het op die “Blomkerk” toegesak.

Meer as 300 spesies van verskeie streke se blomme word ’n week lank uitgestal, van die Sandveld en Strandveld tot die Knersvlakte, Sukkulente-Karoo en Kaapse fynbosgebied. (Dié fees is ongelukkig vanjaar afgelas.)

Vir ’n lafenis – en leersame ervaring hierna, gaan proe ons rooibostee by die Rooibosteehuis. Dit het intussen na die Velskoendraai-restaurant verskuif. Jy kies uit ’n magdom gegeurde, natuurlike en versnit-rooibostees om van te proe.

’n Kort video wys hoe hierdie gewilde drankie verbou en verwerk word vir die plaaslike en uitvoermark. Daar’s inderdaad ’n Rooibosroete om te verken as jy nog meer wil weet.

Wit Namakwalandse madeliefies in oorvloed.

Die pad is nog lank as ons deur Citrusdal en Piekenierskloof tot by Porterville ry. Dit lyk soos sneeu langs die pad; wit Namakwa-madeliefies so ver as die oog kan sien, afgewissel met borriegeel kanola en groen koring.

Deur Gouda tot by Riebeek-Kasteel.

Op die gewel van Kloovenburg pronk die datum 1704.

Ons kom slegs olywe koop, maar word behendig by die wynkelder ingelok deur die kundige Willie Liebenberg, wat ons 90 minute lank rustig laat proe aan hul spogreeks wyne – selfs gepaar met rissieolie en olywe.

Kloovenburg behoort aan die Du Toits, waarvan die begaafde rugbyspeler Pieter-Steph vir ons die Wêreldbeker-rugbytrofee in Japan help wen het.

Die vissershuisie waar ons oornag is poskaartmooi, nes die Voorstrandt-restaurant as die son in die goue see kwyn.

Moorreesburg, Hopefield, Vredenburg, Paternoster. Die vissershuisie waar ons oornag is poskaartmooi, nes die Voorstrandt-restaurant as die son in die goue see kwyn.

In hierdie omgewing is baie te sien – ’n fossielpark, die Vasco da Gama-museum, Dwarskersbos, Kaap Columbine se vuurtoring – maar die tyd haal ons in.

Geniet die sonsondergang by ’n restaurant op Paternoster.
Oplaas goud werd

Alle aanduidings is dat die Weskus Nasionale Park dié plek vir blomkyk is.

En ja: opeens tref die geluk. ’n Skildery van blomme in geel, pers, wit en oranje geraam in ’n blou gewelf met wolke soos bordkrytstrepe. Gousblom, Namakwalandse madeliefie, bokbaaivygie, strandvygie, skaapbos, stinkkruid. Dis asof jy elke 50 meter moet stilhou; die uitsig verander voortdurend en jy sien telkens nóg ’n fotogeleentheid.

Loop jy tussen die plante, val jou oog op insekte: vlinders, bye, byvlieë, naaldneusvlieë, sweefvlieë – hy wat feitlik botstil in die lug kan hang. Verder aan stap sprinkaanvoëls. Op die teerpad hou ons by ’n pofadder stil om te verhoed dat ander voertuie oor hom ry.

Dan ’n middagete by die Geelbek-restaurant in die historiese 1860 Kaaps-Hollandse opstal wat ook as Sanparke se inligtingsentrum dien. Dis ons laaste dag en hoewel ons nie in die park oorslaap nie, is daar verblyf in die karaktervolle Jo Anne’s Beach-, Steytler- of Van Breda-kothuise, of die huisbote by Kraalbaai.

Vanaand geniet ons ’n wegneemete in The View Sunnycove-woonstel: vis en skyfies gekoop by die blinkskoon Fish Hoek Fisheries in Vishoek. Voor ons verf die vroeë aandlig Valsbaai in perspienk kwashale. Só kom ’n toer van 3 500 km op soek na veldblomme tot ’n einde.

Ons het wonderlike mense ontmoet, ontsagwekkende landskappe gesien en plekke met pragtige name, soos Soebatsfontein, Kamiesberg, Spoegrivier raakgery.

Ons het wonderlike mense ontmoet, ontsagwekkende landskappe gesien en plekke met pragtige name, soos Soebatsfontein, Kamiesberg, Spoegrivier raakgery. Ongetwyfeld die moeite werd, al moes ons op geluk staatmaak.

Die sweefvlieg sien ’n mens as jy tussen die Weskusblomme rondstap.

Die streng regulasies gaan waarskynlik meeste blomliefhebbers se planne vanjaar kortwiek. Tog kan Noord- en Wes-Kapenaars darem die prag gaan aanskou, en hulle moet. Maak ook dan seker jy ondersteun die plaaslike ondernemings wat vanjaar so swaar kry. Bespreek sommer om ’n nag of wat oor te slaap, al is dit naby jou huis.

Dagbesoekers mag nou Sanparke se Weskus Nasionale Park en Namakwa Nasionale Park besoek, onderhewig aan Covid-19-maatreëls, soos maskers en handhawing van fisieke afstand. Dit is slegs ’n uur van Kaapstad na die Weskus Nasionale Park. Aanduidings is dat albei parke baie mooi blomme gaan oplewer wat regdeur Augustus in volle prag sal wees. Hoewel grendelregulasies tans wynproe uitsluit, bedien sommige wynplase se restaurante wel iets te ete. Skakel egter vooraf om besonderhede te bevestig. En bestel maar ’n paar bokse wyn wat versend kan word sodra die alkoholbeperkings opgehef is.

Spaar vir volgende jaar se blommetoer: Jy kan dit bekostigbaar op eie houtjie aanpak. Huur ’n motor wat meer as die gewone 200 km/dag by die tarief insluit, veral as jy lang afstande gaan aflê. Soek bekostigbare verblyf in selfsorgeenhede op die internet, soos by SafariNow en LekkeSlaap. In die Cederberge het ons die netjiese bosbouhut by Algeria deur CapeNature bespreek. Luukse, nuwe hutte is daar gebou.

Clanwilliam se Veldblomfees is afgestel, maar gaan sekerlik in 2021 weer ’n uitsonderlike besienswaardigheid wees.

Meer oor:  Blomme  |  Weskus  |  Namakwaland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.