Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Namakwaland se agterpaaie – veel meer as net blomme

Agterpaaie, in teenstelling met geteerde gebaande weë, gee dikwels aan reis ’n ander, selfs dieper dimensie. Want agterpaaie vra moed, bring hope avontuur en skei die manne van die muise, het Heleen Coertze so in haar enigheid gedink terwyl sy onlangs oor die hoeveelste hobbel van ’n sinkpad in Namakwaland gery het.

Wildeperdehoekpas: Lieflike vergesigte en die son wat deur die wolke kom, sorg vir dramatiese effek. Foto: Heleen Coertze

Ons kuier op Koingnaas, ’n piepklein plekkie aan die Noord-Kaap se weskus en 142 km suid van Port Nolloth. Só klein, beduie een van die permanente inwoners, dat daar vier jaar gelede slegs 34 mense in die dorpie gebly het.

Koingnaas lê digby die Namakwa Nasionale Park en is deel van ’n landstrook waar vroeër heelwat mynbedrywighede aan die gang was. Daar lê ’n gelate verlatenheid oor die omgedolwe landskap en jy wonder onwillekeurig hoe dit hier gelyk het voordat amper ’n eeu gelede met mynbedrywighede begin is.

Op dag een spring ons vroeg­oggend in die pad in Oranjemund se rigting. Die dik sleepmis druk land se kant toe.

Die 65 km lange teerpad tot by Kleinsee is in uitstekende toestand. Dis juis waar die Buffelsrivier by Kleinsee uitmond dat die onderwyser Pieter de Villiers in 1927 ’n diamant ontdek het terwyl hy ’n plaasskooltjie daar aan die bou was.

Deesdae gee die dorpie die indruk van beperkte aktiwiteite. Van die eens glorieryke bedrywige diamantmyngemeenskap waarheen die Oppenheimers glo in die 1980’s gevlieg het tydens tennis-, krieket- en muurbalnaweke, is geen teken nie.

Ons kies vinnig koers Port Nolloth se kant toe, maar die gruispad tussen die twee dorpe is in so ’n swak toestand dat niemand vrolike geselsies probeer maak voor die aansluiting by die geteerde R382 nie.

Die bekoring om onverwags op onvergeetlike, amper filmiese tonele af te kom, is gewaarborg op só ’n reis. Hierdie lieflike deur is op Eselsbank. Foto: Heleen Coertze

Net voor Port Nolloth draai jy skerp links by die afdraaibordjie na McDougallsbaai. Die ingerygde strandhuisies met vrolike name lê soos melktande op die wit strandlyn.

Port Nolloth, bekend daarvoor dat die eerste diamant in Namakwaland deur ene Jack Carstens in 1925 hier ontdek is, het ’n voelbare atmos­feer wat jou herinner aan ’n goeie John Wayne-cowboyfliek.

Dié afgeleë grensdorpie wag ons in met ’n verwelkomende dik misjas met sakke vol legendes aan die einde van ’n struikwoestynlandskap.

Die museum in Strandstraat met sy entoesiastiese kurator, George Moyses, vertel van roemryke dae toe kopererts tussen 1852 en 1920 van Okiep, Nababeep en Springbok hierheen gebring is om uit Namakwaland verskeep te word.

Van vervloë dae met drie kroeë, ’n paar honderd inwoners, maar geen polisie of selfs tronk nie. Van vergange tye toe water 8 km ver vanaf Julieshoogte met ’n donkie en ronde rolvaatjie na die dorpie gebring moes word. Deesdae is die Rooms-­Katolieke kerkie Immaculate Heart of Mary met sy wit en blou aksente ’n besliste trekpleister vir besoekers.

Op dag twee swaai ons die viertrekvoertuig se neus doelbewus in ’n oostelike rigting, Namakwa Nasionale Park se kant toe. Die Swartlintjiesrivier se droë loop draal saam met die netjies geskraapte pad. Ná ongeveer 18 km, net ná die Soebatsfontein-padteken regs, sien ons ’n rooihartebees en sy maat teen die horison galop.

Wit kapokbosse en helder gousblomme vang skelm jou oog.

Die veld is geil hier op die Namakwalandse vlaktes, met botterbome, ghwarriebos en kolle melkbosse wat vrolik tussen die surrealistiese granietrotse blom. Wit kapokbosse en helder gousblomme vang skelm jou oog.

Die pad styg geleidelik tot by die begin van die historiese Wildeperdehoekpas. 4,8 km lank draai en swaai die pad op hierdie indrukwekkende stukkie pak-en-bouwerk wat in 1867 deur die padingenieur Patrick Fletcher en ’n groep gevangenes begin is.

Die pas, deesdae ’n lofwaardige nasionale gedenkwaardigheid, is deel van die Rooikat-ekoroete. Bo by die uitkykpunt hou ons stil, speel ’n jubelende stukkie Mozart en vergaap ons aan die ongelooflike uitsig wat voor ons ooprol.

Geel madeliefies lê kwistig gestrooi op die grondpad tussen Eselsbank en die Cederberge. Foto: Heleen Coertze

Die park se grasvlakte strek weswaarts en jy kan jou selfs verbeel dat jy die Atlantiese Oseaan doer ver sien glinster.

Dis egter by die klipruïnes van die tronk, ’n entjie verder in die Buffelsriviervallei, waar jou agting vir goeie vakmanskap meer raak.

Die manne, wat per skip van Kaapstad na Hondeklipbaai gebring is, kon beslis met rots en klip werk.

Die roete vanaf die Messelpadpas bring jou by die N7- aansluiting en Kamieskroon. Die dorpie het sy vere reg­geskud vir stappers, fotograwe en blomkykers en hier is koffiedrinkplekke te kies en te keur.

Ons ry laatmiddag uit die dorp terug na die Namakwapark, rigting Soebatsfontein – die wolke pak saam en ons beleef ’n onverwagse buitjie reën.

Reën is altyd welkom, maar om ’n reënbui in die Namakwaland raak te ry, is pure bederf.

Verdwaalde restiade en tamariske waai wild in die wind en hier en daar sien jy selfs ’n plakkie wat blom.

“Die bekoring om onverwags op onvergeetlike tonele af te ry, is amper gewaarborg op só ’n agterpad-trippie,” laat my reismaat val toe ons ’n dag later, net voor die uitgangshek by die Skilpadgedeelte, op ses verlate ruïnes afkom.

Die bekoring om onverwags op onvergeetlike tonele af te ry, is amper gewaarborg op só ’n agterpad-trippie.

J.H.A. Aggenbach en sy gesin het reeds in 1844 rondom twee fonteine in die rivier hulself hier op Doringfontein gevestig.

Die Skilpadgedeelte van die Namakwa Nasionale Park is bekend as ’n blompark sonder weerga en die gestreepte blommassas is asembenemend mooi.

Ons voertuig is steeds allergies vir teerpaaie en wip vinnig oor die N7 en kies koers na die Leliefonteinpad by Kamieskroon. Die gruispad girts nat onder die voertuig se wiele en maak haarnaalddraaie in die Kamiesbergpas.

Plaasname soos Nooitgedacht, Olienfontein, Koorlandskloof en Gamoen rol maklik op die tong en geel Namakwalandse madeliefies aksentueer ’n kol kaal populiere.

Die rotse langs die pad is kwistig met liggroen ligene beverf en oral staan plasse water langs die pad.

By Leliefontein se ou Metodistekerkie uit 1855 ontdek jy ’n stukkie geskiedenis uit die verlede wat jy so gou as moontlik wil vergeet.

Kruispaaie soos dié maak die avonturier in jou opgewonde. Foto: Heleen Coertze

Net ná Karas se klompie huisies kry jy die Langkloofpas en reënwater vloei gelate oor enorme kaal granietrotse regs.

Sophia Guest House, in vrolike pienk geverf, is jare al ’n bekende oornagplek op Garies. Hier sorg Elizna de Bruyn, die eienaar, vir vars omgewingsnuus met ’n stewige ontbyt in die eetkamer, waar elke artikel beslis ’n storie kan vertel.

Ons hoor voor ons vertrek dat Loeriesfontein se Windpompmuseum beslis ’n besoek werd is, watter paaie ons moet vermy en hoekom ons beslis moet deurdruk Wuppertal en na die Eselsbankpad toe.

Onderweg na Wuppertal kan ons nie anders nie as om links af te draai na die onbeskryflik lieflike Biedouwvallei.

By Eselsbank ry ons op die koop toe ook die lieflikste karakters raak – oom Dirk Mouton van 75 jaar, wat kiertsregop met ’n rieldanspassie staan en rooibosteeplantjies voor­berei. Cedric, wat pad wys en vertel hoe die ongeveer 40 gesinne op Eselsbank vredig saambly.

“Maar hoe dan anders,” sê hy, en waai met sy een hand na die blou lug en almagtige Cederberge wat ons omring.

Meer oor:  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.