Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
NSRI: Ons vrywillige helde

Dis vir hom vreemd om nie meer twee selfone by hom te dra nie, maar hy sien uit daarna om sonder een te gaan bad, sê die uittredende hoof van Port-Elizabeth se NSRI-stasie. Cara-Lee Dorfling het met hom gesels.

Ian Gray in die kleedkamers waar die NSRI-vrywilligers soos blits hulle gewone klere vir hul duikpakke verruil wanneer daar ’n noodgeval is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die NSRI-stasie 6 by Port Elizabeth het pas sy 50ste bestaansjaar gevier en vir 37 jaar lank reeds is Ian Gray een van die toegewyde vrywilligers hier. Die afgelope 21 jaar was hy ook die bevelvoerder van dié stasie en sy naam het al sinoniem geword met reddings ter see aan die Baaise kus.

Tesame met die bestaansvieringe het dit tyd geword vir hom om die leisels aan Justin Erasmus oor te gee.

“Dit is eintlik vreemd om nie twee selfone te dra nie. Dit is ook vreemd om te gaan bad sonder ’n selfoon. Die foon was 24 uur per dag by my. Dit is moeilik vir my om net na my foon te kyk terwyl daar iets aan die gebeur is. Mense by die stasie het geweet hulle kan my dag of nag bel vir bystand.”

Die NSRI het oor die jare landsburgers en buitelanders uit die see se doodskake en op die strande gered – selfs uit damme. Hoewel party mense dink daar wag aan die einde van die maand ’n tjek in die pos vir hierdie dapperheid, is dit slegs onbaatsugtige toewyding wat vrywilligers soos Ian, met ’n gewonde nege-tot-vyf-werk, dag en nag op hulle pos hou.

Hoewel daar sedert 1982, toe hy aangesluit het, baie by die NSRI verander het, sal die kameraadskap en toewyding tussen vrywilligers nooit verander nie, meen hy.

Ian Gray (regs) oorhandig ’n seremoniële teleskoop aan sy opvolger, Justin Erasmus, terwyl hulle op een van die NSRI se reddingsvaartuie staan by Stasie 6 in Port Elizabeth.Foto: Cara-Lee Dorfling

Ek het ’n baie goeie vriend gehad wie se pa ’n lid was. Sy pa was ’n lid, want die NSRI het in die laat 70’s sy vennoot gered by Bird-eiland.

Ian Gray tree ná 21 jaar uit as die hoof van die NSRI in Port Elizabeth. Foto: Cara-Lee Dorfling

Ek onthou hy het naweke (na die hawe) gekom, dan het hulle op bote uitgaan en bier gedrink. Dit het dus na ’n goeie plan geklink!

Ek was jonk, daar was adrenalien, die kameraadskap – ek dink dis waaroor dit aan die begin vir my gegaan het. Selfs vandag is dit wat die mense lok, maar later besef ’n mens waaroor dit eintlik gaan.

Die pret en kameraadskap is beslis daar, die adrenalien ook. Maar sodra jy besef wat die instituut doen – die verskil wat dit aan mense en ook lede se lewens maak – besef jy hoe gelukkig jy is.

Daar is so baie mense wat beïnvloed word deur dood, beserings en ’n ramp ter see. Daar buite in die see is die kans baie klein om te oorleef. Die kans op selfredding is baie beperk en uiteindelik is dit net die NSRI wat jou gaan kom help. Ons het nie ’n regeringsdiens met hierdie soort kapasiteit nie en enigiets anderkant die branderlyn is buite die jurisdiksie van die menseredders en die strandkantoor.

Sonder die NSRI is daar geen hoop nie.

Toe en nou: Toe Ian Gray 37 jaar gelede by die NSRI aangesluit het, was stasie 6 van NSRI in Port Elizabeth (bo) nie veel groter as twee vertrekke nie, terwyl dit vandag (onder) veel groter is en met moderne tegnologie toegerus is.Foto’s: VERSKAF
Foto:

Die eerste keer wat ek uitgeroep is, was dit vir ’n Hobie Cat-boot wat omgeslaan het. Daardie dae was Hobie-strand – vandaar die naam – nog vol van dié bote gewees. Jy was gewaarborg van ’n Hobie Cat of ’n windsurfer wat jy sal moet gaan help.

Maar ek dink die eerste keer wat jy ’n dooie mens terugbring . . . dít is die voorval wat die grootste impak op die lede het. Tot vandag toe kan ek my eerste keer onthou. Daardie tyd was dit heeltemal anders, daar was geen sielkundige uitlaat ná die tyd nie. Ons het nie eers reddingsbaadjies, helms of duikkouse (booties) gedra nie. Ons het ou duikpakke en tekkies gedra.

Toe ek aangesluit het, het ons nog houtbote gehad. Die meeste was ou plesierbote wat in reddingsbote omskep is. Daar was geen GPS nie. Daar was geen selfone nie. Inteendeel, kort nadat ek aangesluit het, was daar ’n nuwe ontdekking van pagers.

Die NSRI help ook om verstrengelde walvisse te red. Vrywilligers word spesiaal vir dié taak opgelei en volgens Ian Gray, uittredende hoof van stasie 6 in Port Elizabeth, is dit een van die reddingswerkers se gunsteling-operasies. Foto: VERSKAF

In daardie tyd moes die vrywilligers self goed regmaak wanneer iets breek. Daar was geen struktuur soos ons vandag het nie. Om eerlik te wees daar was geen geld beskikbaar nie. Daar was tye wat ons nie duikpakke kon koop nie, ons moes ons petrol rantsoeneer vir opleiding om genoeg te hê vir operasies. Ons het gesmeek, geleen en soms gesteel om die NSRI aan gang te hou.

Die opleidingstruktuur was merendeels net die ouer lede wat die jonger lede touwys gemaak het. Daar was bitter min standaard-riglyne hiervoor.

Vandag het ons ’n nasionale opleidingstruktuur en akademie en ’n toegewyde bootbou- en onderhoudspan.

Tegnologie het ook aansienlik verbeter. Die kwaliteit van telekommunikasie is soveel beter. Die handradio’s wat ons destyds gehad het, was so groot soos bakstene met lang antennas. Jy kon dit soms verder gooi as wat enigeen jou kon hoor praat oor die ding!

Daar was ook nie iets soos ’n waterdigte radio nie. Daar was eintlik niks waterdig nie – as jy nie ’n Tupperware-houer op die boot gehad nie, het dinge nat geraak.

Ek het geen idee nie. Ons reageer gemiddeld tussen 50 en 60 voorvalle per jaar. As ons 50 gedoen het, sou ek seker by ’n minimum van 40 direk betrokke wees. Soms is daar ook die gevalle waar ons ondersteuning aan ander stasies bied, maar ek kan nie sê hoeveel tonele ek al bygewoon het nie. Té veel om te tel.

Wat is die moeilikste deel van stasiebevelvoerder wees?

Wanneer ons uitgaan see toe, is ons in ’n situasie wat dalk vir ander ongemaklik en moeilik is. Danksy ons opleiding is dit egter nie ’n buitengewone ervaring nie. Daar is natuurlik dae wanneer ons uitgaan wat ons ver­moëns getoets word en dit kan vreesaanjaend wees, maar alles het nog altyd goed uitgewerk.

Dit is die goed wat buite jou beheer is wat die groter probleem is. Veral in die leierposisies, want jý is die een wat aan ’n familie moet verduidelik hoekom die soektog afgelas word. Jý is die een wat moet probeer verduidelik wat gebeur het, die een wat soms die oorskot aan die familie moet voorlê, en soms die buffer tussen die familie en polisie moet wees. Daar is ook tye wanneer ons die skuld en blaam dra wat uitgedeel word.

Die vrywillige en dienende helde van die NSRI-stasie 6 in Port Elizabeth. Heel regs is die uittredende hoof, Ian Gray, en langs hom sy opvolger, Justin Erasmus. Foto: VERSKAF

Ek sukkel soms om die goeies te onthou, maar onlangs was daar twee duikers wat by Kaap Recife vermis geraak het. Hulle het geduik en nie weer by die boot opgekom nie. Die toestande op die betrokke dag was baie rof en gewoonlik wanneer duikers vermis raak, is die kans op oorlewing klein.

Daardie dag het ons hulle gevind, op die uiterste hoek van ons soekgrens.

Hulle het opgekom en is deur ’n stroom weggetrek. Die boot kon hulle nie sien nie en weens die wind kon niemand hulle hoor nie. As ons hulle daar misgekyk het, sou hulle nie in daardie toestande kon oorleef nie.

Natuurlik is dit ook wonderlik om betrokke te wees by die bevryding van ’n walvis wat in nette of toue verstrengel geraak het. Die lede is mal daaroor om die seereuse te help en hiervoor kry hulle gespesialiseerde opleiding.

NSRI is deel van die South African Whale Disentanglement Network (SAWDN). Die redding van verstrengelde walvisse is SAWDN se mandaat, maar hulle het nie noodwendig die personeel of genoeg toerusting (soos bote) nie, so die NSRI het deel van die netwerk geword vir reddingstake.

Boekhouding dekades gelede – toe begrotings voor fondsinsamelingsprojekte nog op tikmasjiene uitgetik is. Foto: VERSKAF

Dit is deel van die NSRI se groter prentjie. Die NSRI het oor die afgelope paar jaar eksponensieel gegroei. Wat mense aan betref, is dit seker vyf keer so groot as toe ek aangesluit het.

Met die groei van NSRI wat nou ’n “groot besigheid” raak, het korporatiewe bestuur baie belangrik geword. Die NSRI se bedryfskoste is R70,2 miljoen per jaar. Die geld moet ingewin word en daarvoor is ons beeld baie belangrik. Ons moet dus die regte bestuur en oudits hiervoor hê.

Toe NSRI in die 1967 ontstaan het, het die meeste lede ’n mariene agtergrond gehad. Vandag sluit normale – normaal is dalk die verkeerde woord – maar hulle is gewone mense, by ons aan. Van die oorspronklike groep mense is steeds by NSRI betrokke.

Ons kyk egter nou na die instituut se voortbestaan en dit kan nie gebeur as dieselfde groep mense die heeltyd in beheer is nie, want daar sal dus geen groei wees nie.

Daarom is ’n nuwe perk gestel dat ’n stasiebevelvoerder net vir ’n tydperk van nege jaar die posisie mag vul en dan moet hy uittree, sodat ons voortaan nuwe bloed inkry en die idees nie stagneer nie.

Dié bord wys die reddingsbote wat oor dekades by die NSRI in PE gebruik is. Foto: cARA-lEE dORFLING

Ek is nog nie uitgeskop nie . . . Ek sal steeds hierrond wees. Ons staan nou op ’n punt waar ons moet vasstel hoe ek die beste kan dien. Ek sal hier wees om Justin te ondersteun, maar ek is nie hier om vir hom te sê wat hy moet doen nie.

Hoekom moet mense betrokke raak by die NSRI?

Mense moet betrokke raak, punt.

Mense moet verby hulle daaglikse werk kyk en die gemeenskap begin dien. Dit kan op enige manier gedoen word. Die NSRI is maar net een van daardie gespesialiseerde maniere om dit te doen. Daar is so baie wat ons gemeenskap benodig, wat die staat eenvoudig nie kan verskaf nie.

Ons weet groot dele van die gemeenskap maak staat op die see vir ’n inkomste óf plesier. Hulle moet weet hulle kan dit doen en ons sal daar wees.

As daar ’n ongeluk op land is, weet hulle die ambulans kan gebel word. Net só moet mense weet hulle kan die NSRI vir ondersteuning bel.

Die NSRI gaan selfs nog ’n stap verder, ons red nie net mense nie, ons probeer mense opvoed om verdrinkings en tragedies ter see te voorkom.

Só kan jy help

Die NSRI is geheel en al afhanklik van skenkings en vrywilligers om menselewens te red, maar jy hoef nie eens jou voete in die water te sit om te help nie.

Maak ’n skenking

Jy kan maandelikse skenking van so min as R50 aan die NSRI doen om te help betaal vir brandstof, noodtoerusting en die onderhoud van die reddingstasies en -bote. (Die instituut streef daarna om sy administratiewe koste sover moontlik met korporatiewe borgskappe deur maatskappye soos Oceana Group, Italtile, I&J, Absa, Saldanha Pilchards, ebmpapst stet, Standard Bank, ACSA, SAMSA en DeBeers te finansier.) Jy kan selfs bepaal by watter stasie jou skenking aangewend word. Die NSRI is ook ’n geregistreerde welwillendheidsorganisasie, wat beteken jy kan jou skenking weer aan die einde van die jaar van jou belastingopgawe verhaal. Hou dus jou oë oop vir die NSRI se fondsinsamelaars in jou naaste inkopiesentrum, of bel 021 430 4701.

Koop ’n kaartjie 

Vir die afgelope 20 jaar reeds hou die instituut ’n prystrekking waarin die allemintige eerste prys twee Mitsubishi-voertuie beloop. Die tweede prys is R250 000 kontant en die derde prys is ’n vakansie ter waarde van R80 000. Kaartjies kos R735 elk. Bel 021 430 4703 as jy ’n kaartjie wil koop.

Laat iets ná 

Jy kan ’n bedrag geld in jou testament aan die instituut bemaak. Alle geld wat bemaak word, is kwytgeskeld van boedelbelasting. Daar is selfs ’n bestaande kodisil op die NSRI se webwerf wat jy kan aflaai om by jou testament te voeg.

Borg ’n boot

Die prys van die NSRI se vaartuie wissel tussen R200 000 en R19 miljoen en elke boot het ’n gemiddelde leeftyd van rofweg 11 jaar. As jy en jou familie, of dalk jou maatskappy, regtig ruimhartig voel, kan julle ’n boot borg. Jy kry dan die kans om die boot ’n naam te gee vir solank as wat dit in diens is. As jy dus wil hê een van die NSRI-bote moet met jou naam spog, bel vir Alison Smith by 021 434 4011.

  • Besoek die NSRI se webwerf by NSRI.org.za vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak.
Meer oor:  Nsri  |  Ian Gray  |  Port Elizabeth  |  Seeredding  |  Vrywilligers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.