Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Ongelooflike avontuur deur ongerepte poorte

Kos vir die siel. Dis al hoe jy dié ondervinding kan beskryf. Om op ’n driedaagse ekskursie die geheime van die Grootrivierpoort en die Baviaanskloof-wêrelderfenisgebied te probeer verken, is te min tyd. Colin Hoffman en Mouton van Zyl (foto’s) het probeer sin maak van die ongerepte juwele. 

Een van ongelooflikste uitsigte op die Grootrivierpoort-uitstappie. Moet net nie links kyk as jy aan hoogtevrees ly nie.Foto’s: MOUTON VAN ZYL

Een van die laaste projekte wat Thomas Charles John Bain aangepak het, was ’n korter roete tussen Steytlerville en Patensie. Die Grootrivierpoort was die antwoord.

As ’n padingenieur was Bain (saam met sy pa, Andrew Geddes Bain) natuurlik ook verantwoordelik vir passe soos die Swartberg-, die Bainskloof- en Michells­pas en natuurlik die wêreldberoemde Meiringspoort.

Een van Thomas Bain se grootste hekels was om paaie te bou en te ontwerp waar water betrokke was. Meiringspoort is een daarvan en die deurgang moes twee keer gebou word. Hy het altyd gesê sy drie grootste kopsere om ’n pad te bou is: “Water, water en nogmaals water.”

Vandag, meer as ’n eeu later, is die Grootrivierpoort steeds in gebruik en een van die mees uitdagende stukkies pad wat jy kan aandurf. Die enigste probleem in dié stadium is dat daar geen water is nie.

Die “stof-scooter”-brigade op die tweede dag net voordat hulle van die Bhejane-wildreservaat vertrek het.

Die Grootrivier het weens die droogte verdwyn, maar Thomas Bain se pad (PO397/R332) bestaan nog.

Met ’n gewone voertuig (sedan) het jy geen kans nie. Slegs 4x4’s, 2x4’s en natuurlik die “stof-scooters” (veeldoelige motorfietse) is jou enigste middel van vervoer om dié paaie baas te raak.

Op ’n toer van drie dae met die ridders van die stofpaaie op hul twee wiele oor en deur die Grootrivierpoort en die Baviaanskloof, het ’n mens weer waardering gekry vir dit wat Suid-Afrika jou kan bied.

Dit was ’n ongelooflike avontuur. Met 18 van die 22 stofpad-ridders wat nog nooit die paaie gery het nie, was dit ’n taamlik grootoog-groepie wat na die voorskoue van die toerleier, Mouton van Zyl, geluister het. Omdat hy die roete al in sy slaap kan ry, het hulle geluister wat gesê is en dit tot in die fynste besonderhede uitgevoer.

Ongevalle was gelukkig min. Behalwe vir die omdop hier en daar oor die onsekerheid van hoe om ’n lyn oor die ruwe terrein te volg, het selfs die mediese beampte, Marco Figgeland van Tygess Ambulanse, ’n rustige rit gehad.

Die stappie na jou “kamer” toe net buite Patensie in die Tia Ghee-tentkamp, sowat 12 km buite die dorp.

Die ergste wat hy moes doen, was om spiere te vryf en Panado’s uit te deel vir kopseer die volgende oggend.

Daar was natuurlik van die jongeres en meer avontuurlustiges wat die voortou wou neem op die eerste dag, maar hulle het baie vinnig terug op die roetine gekom nadat hulle heeltemal verdwaal het en eers ná donker by hul eerste oornagstop in die immergewilde Bhejane-natuurreservaat aangekom het. Rooi gesigte en strawwe drankies was aan die orde van die dag.

Bhejane, wat swartrenoster beteken en sowat 50 km van Willowmore is, is ’n absolute oase in dié deel van die Karoo. Dat dit egter droog is, lei geen twyfel nie.

Waar baie van die selfsorg-eenhede langs die rivier opgerig is, is daar in dié stadium geen voëlgesange eie aan ’n rivier wat loop nie. En natuurlik geen muskiete nie.

Dis so droog soos ’n boesman se onderbroek en jy kan deur die hele rivier droogvoets loop.

Die innerlike moes versterk word voordat die poort aangedurf is. Geen stukkie vullis is agtergelaat nie.

Dorstige wild is daar in oorvloed. Met nie minder as 43 verskillende spesies nie was dit die drie bergskilpaaie op die roete wat die meeste opgeval het. In al hul glorie, viervoet in die spoor, het hulle monde oopgehang van dors. Gelukkig berg skilpaaie water in hul dop op.

Die optimisme van mense in die droogtegeteisterde gebied is egter die opvallendste.

Mich Prinsloo van George (links) en Pieter Strydom van Durban (middel) help Zander Geldenhuys deur een van die driffies op die roete.

Philip en Adriana Theunissen van Bhejane kon dit nie beter stel nie. “Dit gaan volgende week reën,” met blydskap in hul “voorspelling”.

Mag dit so wees! Julle het dit meer nodig as wat Soweto krag van Eskom nodig het.

Die Grootrivierpoort het die volgende dag geen groot uitdagings gebied in die sin van bitter moeilike terrein nie. Selfs die toerleier was verbaas.

“Dit was een van die makliker kere wat ons dit gedoen het,” het hy gesê.

Die natuurskoon was egter asembenemend. Vir iemand wat hoogtevrees het, soos ek, is die lippies maar taamlik gelek. Aanmekaar, uit senuagtigheid.

Op verskeie plekke op die roete was die afgronde aan albei kante onbehoorlik onbeskryflik. Maar as jy vorentoe en na die horison gekyk het, was dit ’n ongelooflike gesig.

Soos op die see om nie seesiek te raak nie.

Tia Ghee, ’n tentdorp net buite Patensie, was die volgende stilhouplek.

’n Boskamer in Tia Ghee. ’n Uitsonderlike ondervinding, meen die skrywer.

Patensie, het ek tot my verbasing agtergekom, is ’n plek wat nie net met sitrusboorde geseënd is nie, maar die omgewing woel ook met aartappels.

Baviaanskloof, die Wêrelderfenisgebied, was die volgende dag aan die beurt.

En wat ’n ondervinding was dit nie. Van die oostekant (Patensie) tot die westekant (Willowmore se rigting), was dit die een verrassing op die ander. As ek gedink het die Grootrivierpoort was asembenemend, het die Baviaans my asem weggeslaan.

Die “sitkamer” in Tia Ghee. Hier is stories uitgeruil en raad gegee vir die volgende skof deur die moeilike Baviaans!

Daai outydse “foefieslaaid” waar die destydse boere skape, bokke en beeste oor ’n vallei getrek het, het my amper my balans laat verloor. Nie eens met ’n valskerm sou ek dit oorweeg het nie! Op berge en in dale: Gesang 7 het nog nooit vir my so mooi geklink nie.

Die pad was in sommige plekke taamlik moeilik. Veral daai stukkie sementpad waarop jy met ’n vierwielvoertuig moet bly, het nogal sweethandjies veroorsaak. Vir die stofpadridders was dit nie makliker nie, maar omdat die konsentrasie meer op die motorfiets is, het hulle nie alles gesien wat ek gesien het nie.

Die twee manjifieke buffels aan die onderkant van die sementpad was iets om vir die res van jou lewe in jou geheue in te prent.

Die Baviaans het natuurlik ook ander uitdagings gebring in die sin van klein riviertjies wat standhoudend is.

En dis waar die stof-scooters die meeste van hulle “probleempies” opgetel het.

Met die laaste deurgang van sowat 40 m en 60 cm diep, het van die meer ervare manne langs die kante stelling ingeneem om die onervarenes te help waar dit nodig is.

’n Stof-scooter is nie met sywieletjies toegerus nie en daai ronde mosbedekte rivierklippe is seepglad.

Een van die meer ervare motorfietsryers en ’n helper langs die kant, Mich Prinsloo, ’n sakeman van George, het egter aan almal gewys dat hy die volgende Chad le Clos vanuit die Baviaans gaan wees.

In sy poging om een van sy mederyers weer oor die ronde klippe te kry, het hy gestruikel en ’n bitter mooi vlinderslag uitgevoer waarop selfs Chad trots sou wees.

Prinsloo het egter ook op ’n ander vlak verbaas. Hy was die enigste een wat met ’n passasier (pillion) die roete voltooi het. Pillion beteken ’n sitplek vir ’n passasier agter die ou in beheer van die motorfiets. Van Latyn na Skots vertaal. En almal het gedink dis Frans!

Mich se ander helfte op die ekskursie is ’n veearts van Groot-Brakrivier, Rosie Hardcastle. Sy het die hele roete met die grootste gemak meegemaak. Agterop die motorfiets. Wat nogal iets sê van die man se vernuf. Hy was net nie beskikbaar vir swemlesse nie.

  • As jy ’n stof-scooter-avontuur – dit is nou ’n dubbeldoel-motorfiets – wil onderneem, is Mouton van Zyl die persoon om te kontak by admin@motoradventureSA.com.
  • Vir meer inligting oor Bhejane: Stuur ’n e-pos aan Philip en Adriana Theunissen by info@bhejane.co.za.
  • Vir meer inligting oor Makkedaat: Bel Boetie en Henriëtte Terblanche by 044 923 1921.
  • Die laaste stop en een van die interessantste plekke om te oornag was in die Makkedaat-grotte wat in selfsorgeenhede omskep is. Met warm water, toilette en alles waaraan jy kan dink.

    Die gasvryheid van Boetie en Henriëtte Terblanche is ongeëwenaard en ofskoon dit ’n werkende plaas is, het jy toegang tot ’n klomp dinge wat jy kan doen. Behalwe vir die staproetes, is daar ook roetes wat met ’n bergfiets aangedurf kan word en selfs 4x4-roetes. Dit is ’n ongelooflike mooi wêreld.

    Die Makkedaat-naam is ’n kombinasie van sy oorlede ouers se name. Sy pa, gedoop Daniël Johannes, was van kindsbeen bekend as Bakkedaat. En dis die bordjie wat jy nog sal sien sodra jy indraai na die ongelooflike plek.

    Kampvuurstories was daar ook in oorvloed. Ryk Coetzee se liefde vir brahmaan-beeste sal ’n mens altyd bybly. Hy het vir seker ’n paar staaltjies daaroor te vertel!

    Daar was darem ook ’n paar nguni-beeste op die paaie wat gery is.

    Colin Hoffmann (joernalis in die ondersteuningsvoertuig), Mouton van Zyl (fotograaf en organiseerder) en Marco Figgeland (mediese beampte).

    Moet ook net nie met Pierre Joubert in sy monster-voertuig ’n beesspoor probeer volg nie. Hy gaan vir jou maak bid oor dinge wat jy nog nooit ervaar het nie.

    Suid-Afrika beskik steeds oor ongelooflike juwele. Grootrivierpoort en die Baviaanskloof is deel daarvan. Die natuur is ongelooflik.

    Die droogte speel wel ’n groot rol, maar die positiwiteit van die mense eie aan die aarde waar hulle is, is net so ongelooflik.

    Die gebiede waardeur gery is, is uiters afgeleë. In die hele area wat gedek is deur die stofpaaie wat ons kafgedraf het, is daar slegs sewe plase (huise) gesien, 17 voertuie van voor is van telling geneem.

    Afgesonder? Vir seker! Maar mooi!

    Meer oor:  Grootrivierpoort  |  Baviaanskloof  |  Avontuur  |  Buite  |  Natuur  |  Reis
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.