Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
‘Ons sien alles met nuwe oë’

Die natuurfotograaf Hannes Lochner smag na die reuk van olifantmis en die sing van honderde voëls om ’n watergat, maar sy terugkeer na die bos gaan dié keer baie moeiliker wees, skryf Eben Human.

Met vyf boeke op sy kerfstok het Hannes Lochner hom gevestig as een van die land se top-natuurfotograwe. Om dit te kon regkry, was baie harde werk want ons land is geseën met uitstekende fotograwe.

Dit is moeilik om te glo Hannes was eens ’n student wat hom gekwalifiseer het as grafiese kunstenaar. Sy grafiese kuns is mooi, maar hy sê dit is vir hom ’n baie tydsame proses om sulke kunswerke te lewer.

Ná goeie reën in die Savuti-wildtuin van Botswana het Hannes Lochner hierdie brulpadda gevind wat ’n Bosveldkapel gevang het. Dit is net wanneer jy baie tyd in die natuur deurbring dat jy sulke uitsonderlike foto’s kry.Foto’s: HANNES LOCHNER

Die avontuurlus bruis in hierdie man se are. As een van die gidse vir kanovaarders op die Oranjerivier was hy in sy element. Om van avontuurlike werk ’n bestaan te probeer maak, kan ’n groot waagstuk wees. Al kom jy uiteindelik met natuurfotografie goed op dreef, kan daar onverwagte terugslae kom – iets soos die koronavirus-pandemie wat nou die land se ekonomie ’n geweldige knou gee.

Dit is dan wanneer ’n fotograaf soos Hannes net nóg meer besef sy volgelinge en ondersteuners is ’n waardevolle bate. Hulle kan hom ook deur moeilike tye help.

Heinrich van den Berg, self ’n top-natuurfotograaf en Hannes se uitgewer, het in ’n onderhoud ook ’n waarskuwing aan fotograwe gerig: Moet eerder nie vanjaar jou foto’s probeer verkoop terwyl die ekonomie op sy knieë is nie; werk liewer hard om nuwe materiaal te versamel.

Die natuurfotograaf en uitgewer Heinrich van den Berg moedig fotograwe aan om uit ongewone hoeke na hul onderwerp te mik. Hierdie leeufoto van Hannes is ’n goeie voorbeeld.

Hannes se lewe as natuurfotograaf het in alle erns begin met ’n eerste boek oor die Krugerwildtuin. ’n Boek oor die Kalahari het gevolg. Kort voor publikasie van sy eerste boek het hy ook aandag getrek as ’n pryswenner in een van Buite se natuurfoto-kompetisies.

Dit is geen geheim nie dat sy loopbaan nuwe woema gekry het toe hy en Noa Köfler begin saamwerk het. Sy is ’n uitstekende videograaf en het self waardevolle materiaal versamel terwyl hulle nagfotografie gedoen het vir Hannes se trefferboek The dark side of the Kalahari.

Ná hul troue in die noorde van Italië het die Lochners volstoom gewerk. Hulle het die droë en geharde Kalahari verruil vir die bosse van die Moremi-wildtuin in Botswana. Hannes was ses jaar in die halfwoestyn en hy het gesmag na ’n plek met water.

Een van Hannes se foto’s wat op die voorblad van die Spaanse weergawe van National Geographic gepryk het.

Daar is eers in Maun die nodige werkpermitte gekry. Die Bo­tswana-regering besef die waarde van natuurfotograwe en word as baie behulpsaam beskryf.

Die oomblik as jy jou kamp in afsondering in die Moremi-bos opslaan, moet jy volkome selfversorgend wees. Dit is iets waaraan Hannes en Noa die afgelope dekade gewoond geraak het.

Wanneer die apies en bobbejane jou blyplek kom plunder, moet jy maar op jou tande byt. Jy raak gewoond daaraan as jou voertuig se spieëls gereeld gebreek word.

Erger nog was baie lekbande en wanneer hul voertuig in moerasagtige toestande onklaar geraak het. Onderdele moes van Maun bestel word as Hannes nie self die herstelwerk kon doen nie.

Daar was ook mooi tye. Om laataand op ’n hoë miershoop te gaan sit en kyk hoe die olifante in die water speel terwyl die son sak, was baie spesiaal.

Ná twee jaar se harde werk kon Heinrich toe Hannes se boek Planet Okavango publiseer. Dit was nog ’n treffer, maar hierna moes almal diep dink en beplan vir hul lewe ná die pandemie. Kan iemand soos Lochner sy volgelinge weer verras met iets nuuts uit die natuur?

Van den Berg waarsku: “Omdat ons so gebombardeer word met cliché-foto’s van perfekte dinge, het ek persoonlik partykeer ’n hunkering om iets te sien wat nie perfek is nie. Iets wat gebreek of afgesny is, met die doel om ’n storie te vertel.”

Hierdie ongewone voorval van ’n seekoei wat ’n bok aanval, was een van Hannes se ervarings by die Okavango-moerasse van Botswana. Dit het verskyn in sy boekPlanet Okavango.

Die uitgewer sê rekenaars het ons lewe verander: “So as fotograaf moet ons kykers uitdaag om verder te dink met hul oë. Hoe dieper ’n foto is, hoe langer gaan jy na hom kyk.”

Heinrich sê ons lewe nou in ’n wêreld van “vlak dinge” en dit is hierdie wêreld wat ’n fotograaf soos Hannes moet uitdaag.

“Fotografie is in sy wese ook ’n vlak ding en is byvoorbeeld nie so ingewikkeld en uitdagend soos iets wat geteken of geskets is nie. Daarom is dit belangrik om dieper as pixels foto’s te neem.”

Aan aspirant-natuurfotograwe het die uitgewer die volgende raad. Neem jou foto’s uit ongewone hoeke – gaan hoog of baie laag.

Hy voeg dan by: “Maar om dit te kan doen, moet jy eers deur al die clichés gaan. Jy moet eers die gewone foto’s kan neem voor jy die uitsonderlike, kreatiewe foto sal raaksien.”

Nog ’n foto in Planet Okavango. ’n Maanhaar stap op ’n veilige afstand verby olifante om water te gaan drink gedurende die droë seisoen in Botswana.

Die Lochners wil nou hul volgelinge betrek by hul patreonblad (patreon.com/hanneslochner). Aan hierdie lojale ondersteuners gaan hulle nuus en raad uit die bos verskaf. Daar is ook afslagpryse op Hannes se boeke en ander voordele.

Hulle doen tans hul voorbereiding in die Bosveld naby die Krugerwildtuin.

“Toe ons eers weer kon rondbeweeg ná ’n ruk in isolasie, was dit asof ons alles met nuwe oë sien.”

Kos proe net lekkerder in die veld, het Hannes in ’n onderhoud gesê. “Vir my en Noa is die natuur alles. Ons was so bly dat mense weer uiteindelik uit isolasie kon kom om weer te kan stap, draf of om fiets te ry. Ek en Noa is gewoond om ’n klein ruimte in afsondering te deel, maar mis die boslewe.

“Ons voel eintlik baie veiliger tussen die wilde diere.”

Meer oor:  Fotografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.