Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Ontdek buitepaaie om Mosselbaai

Verskeie Afrikaanse liedjies roep jou jaarliks om saam met die witborskraai te kom draai in Mosselbaai. Dis egter die om- en buitepaaie wat jou bos toe vat, druiwe laat proe, stoepsit-stories laat luister en met ’n dieseltreintjie op ou Spoornet-spore laat wegskommel, skryf Heleen Coertze.

Die Jakkalsvlei-wynkelder naby Herbertsdale se moderne restaurant vanuit die wingerde. Foto: Heleen Coertze

Dié kusdorp met sy heerlike Mediterreense klimaat se munisipale grense waaier ’n baldadige 60 km-radius binneland toe – noordwaarts tot teen die Outeniekwaberge, kusweg Gouritsrivier toe tot by die Maalgate in die ooste.

Verskeie dagroetes beloof verskillende plesiere. Avontuursoekers wat graag wil sandplank en branders ry, moet beslis links draai op die R325-afrit vanaf die N2 net ná die PetroSA-aanleg. ’n Stukkie ongerepte natuurstrook strandlangs tussen Boggomsbaai en Vleesbaai is deel van die Swarttobie- (Oystercatcher) staproete en word nie verniet in die Unforgettable Walks Before You Die genoem nie. Die pikswart geveerde tobie is geklassifiseer as ’n bedreigde spesie, word tussen 30 en 40 jaar oud en kies slegs een lewenslange maat.

Branderplankryers is veral gek na die plekkie Toads en 4x4-entoesiaste geniet die uitdagende sandduine van Vleesbaai.

Sit langbeen by een van die lekker sitplekke aan die buitewyke van Mosselbaai. Kuier by Stoepsit-restaurant, slegs 7,5 km van die N2, op die einste Boggomsbaai/Vleesbaai/Gouritsmond/Fransmanshoek-afdraai.

Fietsry op een van Klipheuwel se roetes is groot pret. Foto: Heleen Coertze

Dié restaurant naby Vleesbaai is omring van skaap- en natuurlike kruieveld en is in die feestyd ’n bekende terugsit-en-ontspanplek vir lang geselse en uitgebreide stoepstories.

Stoepsit se slagspreuk is nie verniet “Kontreikos en kuier” nie, want wie is bestand teen skaapboud, lams­pastei en skaapskenkels soos ouma dit gemaak het. Met groot glasvensters wat die renosterveld binnenooi en sagte klaviermusiek op die agtergrond, vertel Attie van Zyl hoe hy en Elnida, sy wederhelf, 11 jaar gelede die klein plaaswerkershuisie met ’n kaggel, bed en een eettafeltjie omskep het tot ’n volwaardige restaurant.

Sondae word daar ’n vier-gangmaaltyd vir tot 160 mense bedien. Hy vertel voorts dat die naam Stoepsit veral te maak het met die vistas en die stilte van ’n plaasstoep en hoe aangrypend die tonele seisoenaal verander. Die blaf van die bosbok wat jy onverwags in die veld langs die restaurant kan raakloop, is net so ’n verrassing as die oog vir detail en uitgebreide wynlys wat Stoepsit voorhou.

Rigting Herbertsdale – ’n heerlike daguitstappie. Indien jy lus is vir ’n luilekker dag tussen die wingerde, is Jakkalsvlei Private Wynkelder, op die R327 Herbertsdalepad, net die plek. Op pad daarheen moet jy uitkyk vir wild by die Gondwana-wildreservaat, want groot gedeeltes grens aan die pad. Van seevlak klim jy tot by die Du Plessis-pas met ’n ver-kyk-uitsig oor die kronkelende Gouritsrivier. Oral is melkplase langs die pad, en net voordat jy Herbertsdale inry, is die afdraaibordjie na Jakkalsvlei.

Dié 34 ha-wingerdplaas is slegs 40 km van die Indiese Oseaan aan die voet van die Langeberge, wat deel is van die Outeniekwabergreeks.

Die kombinasie van suidelike en noordelike hange waarteen die wingerd aangeplant is, dra beslis by tot die gehalte druiwe wat hier gekweek word.

Vanaf einde Februarie kan besoekers self hier kom hanepoot pluk, vroeg in April word die somerseisoen gegroet met die Sundown Festival en begin November kan jy met jou bergfiets deel wees van die jaarlikse bergfietswedren.

Die Stoepsit-restaurant naby Vleesbaai. Foto: Heleen Coertze

Vir stappers en fietsers is die gedeelte aan die oostekant van Mosselbaai ’n bonus op jou doenlysie. Die gedeelte tussen Klein- en Groot Brakrivier staan as Midbrak bekend en die strandstap tussen die twee Brakriviere is ’n gewilde 10 km-stappie.

Draai gerus by Seeplaas-restaurant se houttrap in om dalk ’n glimpsie van ’n dolfyn of selfs ’n walvis in seisoen te vang. Klipheuwel-padstal, ’n gerestoureerde plaashuis uit 1920, is slegs 500 m van die N2-afrit na Kleinbrak.

Hier wag daar groot opwinding vir die hele gesin – terwyl die kinders na die drie alpakkas, Rockey, Maggie en Daisy kyk, staan die twee donkies, Whiskey en Champagne, ook nuuskierig nader. Kinders kan na hartelus gly en klim terwyl jy rustig onder die druiweprieel ’n bobaas-vetkoek bestel.

Klipheuwel bied beslis veel meer as net ’n padstal. Fietsers ontmoet mekaar gereeld hier op ’n Saterdagoggend vir ’n uitgebreide ontbyt, wat dan oorgaan in ’n laatoggend-wynproe van Boplaaswyne uit Calitzdorp of Salty River se craftbier.

Verskeie fietsroetes, van verskillende lengtes en moeilikheidsgrade, begin juis hier by Klipheuwel en kronkel op sommige gedeeltes deur koejawelboorde, langs Botlierskop-wildreservaat en tot by die Mosselbaai-dam verby.

Ontdek ’n hele dorpie deur stok en hoed nader te trek. ’n Klipgooi van Klipheuwel af lê Groot-Brakrivier met sewe korterige dorpstappe en na die nabygeleë Wolwedansdam. Hier kan jy die volop voëllewe, vleiland, interessante waterslote, die bekende Eiland met sy enkelbaan-houtbrug met slegs 40 permanente inwoners en oorvloed melkhoutbome verken.

Op jou eie tyd, op jou eie pas, voorwaar soveel om te ontdek, te sien en te doen.

Inligting
  • Stoepsit-restaurant naby Vleesbaai: 076 190 3330 | stoepsit@gmail.com.
  • Jakkalsvlei-wynplaas naby Herbertsdale: 028 735 2061 | www.jakkalsvlei.co.za.
  • Klipheuwel-padstal: 044 696 6855 of 081 271 2063 | lilani@klipheuwelpadstal.co.za.
  • Roetekaarte vir die Stok- en Hoed-roetes in Groot-Brakrivier is by die toerismekantoor by die Dekke, Groot-Brak, te vind.

Meer oor:  Mosselbaai  |  Reis  |  Buite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.