Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Ontsnap en haal diep asem

Die Langebergreeks blyk amper oor ’n stukkie grond op Swellendam te waak wat blyplek vir diegene bied wat die natuur en een van die oudste dorpe in Suid-Afrika in dié pragstreek wil verken. Malani Venter het by Gaikou Lodge gaan kuier.

Gooi lyne nat! Hope pret vir klein en groot wag vir ’n ieder en ’n elk by Gaikou Lodge op Swellendam. Foto’s: GAIKOU LODGE

Gaikou Lodge betrap jou onverhoeds. Die een oomblik ry jy deur die hoofstraat van Swellendam (wat volgens my een van die mooiste dorpies in die land is), en dan swenk jy links deur woonbuurte.

Skielik koekeloer die Langebergreeks deur die miswolke en jy bevind jou by die ingangshek na dié oord wat “wit skitterende berge” beteken.

Kees se kind verwelkom my en kollega Engela Kruger langs die ingangspad. Dié stoute boggerslaat my altyd lag, al weet ek hulle is meeste van die tyd in staat tot meer kattekwaad as enigiets anders.

Dié stukkie aarde van 16 ha is amper onwerklik. Die groen grasperke en hange van die berge oorweldig ’n mens . . . op ’n goeie manier.

Dié oord is in 2002 deur die Belgiese Verder-familie oorgeneem en gerestoureer. Dit word as ’n oase beskryf. Ek stem volkome saam. Die harwar van verkiesingspraatjies, stygende brandstofpryse en betogings laat ’n mens agter. Hier wil jy net asemhaal en verken!

Kom oefen jou gholfhoue op die oefenbof by Gaikou Lodge.

Oorgenoeg plek vir almal

Die lodge het 12 eenhede vir oorslaap. Ontbyt word ingereken, maar as jy middag- of aandete ook hier wil geniet, moet jy vooraf met personeel reël.

Hier is onder meer gesins­villas wat elkeen twee en suite-slaapkamers en ’n sentrale leefgebied het. Elke villa het ook ’n privaat veranda en uitsig oor die uitgestrekte grasperke en pragtige berge. Die dubbel- luukse kamers het en suite-badkamers.

Die lodge bied ’n kontinentale buffet-ontbyt met die opsie van ’n heerlike warm ontbyt.

* Besoek gaikoulodge.co.za vir al die verblyfopsies.

Die swembadgebied. Hier kan lekker gekuier word.

Kom verken!

Die lodge het verskeie doendinge op die werf wat jy en die hele gesin saam kan geniet.

Hier is onder meer ’n swembad met ’n onbelemmerde 180 °-berguitsig, ’n rivierwandelroete, twee visvangdamme, fietse om die terrein of die dorp te verken, verskeie bordspeletjies, ’n DVD-biblioteek en ’n enorme grasperk vir sokker of raakrugby. Jy kan ook jou gholfhoue op ’n mini-oefenbof hier oefen (gholfstokke is by ontvangs beskikbaar).

Die oord is so geleë dat jy binne stapafstand is van restaurante, museums, snuffelwinkels en galerye.

Doendinge op die lodge se drumpel

* Gaikou Lodge grens aan die Marloth-natuurreservaat. Vir natuurliefhebbers bied die reservaat ’n groot verskeidenheid fynbos en natuurlike woude om te verken. Die reservaat het meer as 25 erica-spesies wat in November tydens blomtyd ’n fees vir die oog is.

Vir stappers, drawwers en bergfietsryers is daar ’n groot keuse van stap-, draf- en bergfietsroetes. Bergfietsryers het ’n keuse van ’n 9 km-roete (groen roete), 16 km-roete met ’n 320 m-klim (blou) en ’n meer tegniese 28 km rooi roete vir meer ervare fietsryers.

* Digby die lodge is Two Feathers Horse Trails, wat perdryritte deur die reservaat aanbied.

Een van die eenhede waarin jy kan oorbly.

Roetes is vir beginners en ervare ruiters beskikbaar. Die Two Feathers-perde kom kuier gereeld by Gaikou Lodge.

Reservaat-permitte en perderit-besprekings kan vooraf met die Gaikou Lodge-personeel ge­reël word. Swellendam self is iets om te aanskou en het hope geskiedenis. Kom besoek die Drostdy-museum in Swellengrebelstraat wat jou 300 jaar terug in tyd sal neem.

Dis een van die oudste geboue in die land en is in 1747 as woonplek vir die landdros gebou. Dis oop van Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:45 en oor naweke en op openbare vakansiedae (dis wel toe op 25 en 26 Desember, 1 Januarie en Goeie Vrydag) van 10:00 tot 15:00.

* Hier is ’n magdom koffiewinkels en restaurante – almal ewe mooi, en moeilik om te kies waar jy volgende wil aangaan.

Republic of Swellendam, La Belle Alliance, Ikigai Coffee Bar & Deli, Old Gaol, Old Mill, Café Sofietjie, Koffiespore Coffee Shop en Tredici is enkeles om op te noem. Dan is hier ook snuistery-winkels soos Boondoggle wat jou lank sal besig hou.

Maak dus genoeg tyd in jou besoek hier om elkeen te besoek.

Kom só daar

Vanuit Kaapstad via die N2  sal dit jou ongeveer 2 uur en 30 minute tot by die lodge neem. 

Draai links van die N2 na Swellendam en hou reguit aan op Swellengrebelstraat. 

Draai regs na Bergstraat en hou reguit aan. 

Gaikou Lodge se ingang sal aan jou linkerkant wees.

As jy op die N1 uit Kaapstad ry, sal dit jou ongeveer 30 minute langer neem (as gevolg van padwerke).

* As jy ’n paar staproetes wil beproef, probeer Duiwelsbos wat twee opsies vir jou bied – een van 90 minute lank wat jou van die parkeerterrein na ’n waterval neem en terug.

Opsie twee is korter en duur ongeveer 30 minute.

Jy kan ook die Bontebok Nasionale Park besoek wat ongeveer 22 km buite die dorp is.

Swellendam het elke Saterdag ’n Parkrun (5 km) wat om 08:00 by die Marloth-natuurreservaat se hoofhek begin. Dit is gratis.

* As jy ’n kaasliefhebber soos ek is, moet jy die padstal Keurbomen langs die R60, sowat 2 km buite Swellendam, besoek.

Dis nie vreeslik groot nie, maar die mense hier ken goeie kase en laat jou die interessantste variante proe. Hier is ook ander lekkernye soos nougat en pasteie te koop. Dis elke dag van 08:30 tot 17:00 oop.

* Vir ’n buitengewone ervaring, kan jy saam met Meisie Bokwana op ’n township-toer gaan. Die toer duur ongeveer twee en ’n half uur. Bereken dit dus in jou dag se verrigtinge in.

Op die toer sal jy onder meer rooster- en vetkoek kan eet, tradisionele Xhosa-bier drink en deur sang en dans deur die plaaslike kinders vermaak word. Bespreek by 084 775 1269.

Meer oor:  Swellendam  |  Naweekwegbreek  |  Buite  |  Doendinge  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.