Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Ook in Darling en Yzerfontein is daar al tekens van blomtyd

Nadat ons Blomme-bylae Dinsdag verskyn het, laat weet die toerismekantore uit Darling en Yzerfontein dat daar by hulle ook al plek-plek blomme begin kop uitsteek het.

So lyk die veld reeds by Yzerfontein - vrolik en verwelkomend. Foto: Verskaf

“Die Tienie Versfeld-reservaat buite Darling sal so teen einde Augustus pragtige blomme hê en die velde om en in Darling en Yzerfontein gaan omtrent blom met die goeie reën en sonskyn wat ons ervaar,” sê Kiewiet van Rooyen van Swartland Toerisme. “Rondeberg-natuurreservaat word ook altyd ’n lus vir die oog en die orgideë by Duckitt Orchids is natuurlik ’n moet-sien. Hulle is tans nog nie oop nie, maar sal teen blomtyd gereed wees vir besoekers.”

In Darling is daar ook heelwat ander dinge om te sien en doen as net blomme kyk. Koop heerlike olywe en toffies by Darling Olives en Darling Sweets. As die hongerpyne knaag, gaan sit aan by The Red Box, Cafe Mosaic, The Marmalade Cat (hier is ook ’n snuisterywinkeltjie waarin jy kan rondsnuffel) of Darling Brew, waar hulle tans gemmerbier en alkoholvrye appeldrankies bedien saam met jou kos.

Die groot verskeidenheid veldblomme wat jy in en om Darling vind, bly egter hierdie dorpie se grootste trekpleister. “Die verskeidenheid is hoofsaaklik te danke aan die vier verskillende soorte veld in hierdie klein stukkie aarde. Sandveld, Strandveld, Renosterveld en Rietveld kom hier bymekaar om veral geofiete (bolplante) te lewer wat sorg vir baie diversiteit in grootte en kleur,” sê Van Rooyen.

Al langs die Weskus steek daar al blomkoppies in sulke kolle uit soos hier by Yzerfontein. Foto: Verskaf

In Augustus en September X spitstyd vir blommekyk X is daar verskeie staproetes in die omgewing, en wanneer daar nie ’n viruspandemie is wat die hele wêreld tot stilstand ruk nie, is daar gewoonlik ’n baie indrukwekkende Darling-veldblomskou wat sedert 1917 die derde naweek van September deur hierdie dorpie aangebied word. Hulle hoop om dit weer volgende jaar te kan aanbied.

Eweneens is Yzerfontein ’n besoek werd in blomtyd met gewilde en mooi staproetes soos Swemgat en die Schaapeiland-roetes om te ontdek asook die Inheemse Tuin en Labirint.

Hier is die restaurante oop vir aansit of wegneemetes en die meeste van hulle verwelkom ook jou troeteldiere. Bring die kinders om te kom speel by die Weskus Padstal terwyl die ouers die pragtige voëls kyk wat hulle daar aanhou of kom smul aan die varsgebak by Artisan Bakery.

!Khwa ttu se bergfiets-, stap- en perdryroetes is oop vir besoekers. Bring jou hond saam en kom hou sommer daar piekniek.

“As Darling die veldblom van die Weskus is, is Yzerfontein die pêrel van die Weskus. Ons wag vir julle!” sê Van Rooyen.

Koop olyfprodukte uit Darling om saam te neem huis toe. Foto: Verskaf
Die soettande moet gaan aandoen by Darling Sweets vir iets om aan te kou op die pad. Foto: Verskaf
The Marmalade Cat verkoop lekkernye en snuisterye. Foto: Verskaf

Meer oor:  Darling  |  Yzerfontein  |  Blomme 2020  |  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.