Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Oor kranse, dale in Baviaanskloof

As daar een kloof is wat sy pad na jou hart vind en daar nes wil skrop, is dit die Baviaanskloof, skryf Danie Pienaar.

’n Ruskansie by Reflection Pools. Foto: Danie Pienaar

Dis nie ’n plek waar jy kan aanklop en sonder meer kan vertrek nie. Lank nadat jy by die huis aangekom het, kuier die beelde van kranse en berge wat jou toevou nog in jou gedagtes en hunker jy weer na wat vir jou so aangrypend was en jou so vasgevang het.

Op ’n goeie Vrydag die 13de Mei het 11 lede van die Sanlam-stapklub vertrek om die vierdag­roete te gaan stap, min wetend watter verskeidenheid van emosies hulle sou ervaar tydens hul besoek. Die roete begin by die Cedar Falls-basiskamp, 55 km vanaf Willowmore. Die woonplek bevat 12 beddens vir stappers en sluit ’n gerieflike kombuis en twee badkamers in.

Op die roete slaap elkeen in ’n eie tent. Kos en voorraad, asook die tente word na elk van die drie kampplekke aangery en dit is derhalwe net nodig om water en kos vir een dag se stap saam te neem.

Vleis en drinkgoed vir elke dag word in gemerkte houers vir elke dag in ’n vrieskas gebêre en word elke dag afgelewer.

Dag 1: 5 uur

Die roete op die eerste dag is relatief maklik, maar begin met ’n wakkermaak-bult, die Kickstart-bult, wat die asems ’n bietjie laat jaag totdat die plato bereik word. Daarna strek die roete vir bietjie meer as 9 km tot by die eerste kampplek. Feitlik die hele roete loop in ’n vallei.

Na sowat 5 km kom ons aan by ene Gabriel se ou graf en murasie, van waar ons uitdraai na ’n kloof met styl kranse aan weerskant waar ons by ’n heerlike waterpoel rus. Dis die enigste water wat op die dag se roete gevind kan word. Van daar strek die roete in ’n vallei langs tot by die kampplek.

Wat ons verbaas het, was dat daar warm water in die stort was, die gevolg van ’n toevoerpyp wat in die son lê van waar dit uit die berg kom. Die eerste dag was redelik warm, maar nie so erg soos die dae wat sou volg nie. Elke kamp is toegerus met ’n kombuistent en by ons aankoms was ons bagasie reeds daar. By elke kamp is voldoende vuurmaakhout vir braai en ’n geselsvuur.

Op dag drie moet drie berge uitgeloop word. Foto: Danie Pienaar

Dag 2: 5 tot 7 uur

Die tweede dag se roete is ongeveer 16 km lank en begin met ’n maklike paadjie langs die Reebokvallei. Die maklike gedeelte eindig skielik by ’n afdraai na ’n kloof. Dit lei na die Seder-uitkykpunt. Die sowat 400 m tot by die sederbome is redelik moeilik en soms moet daar oor groot rotse geklouter word tot hoog bokant die kloof-bodem waar ’n klompie groot sederbome wat ’n onlangse brand vrygespring het, staan. Hier het ons vir ’n wyle vertoef om die asems terug te kry.

Terug by die hoofroete begin ’n paar steiltes wat die asems soms laat jaag het tot by die bo-punt van waar ons die pragtige uitsig oor die Baviaanskloof-berge kon inneem.

Nadat ons nog ’n erge steilte afgesak het, kon ons vir ’n rukkie vertoef by die Reflection Pools waar ons weer ons waterbottels kon volmaak, of selfs ’n bietjie swem. Van hier volg ’n paar steiltes wat jou daaraan herinner dat jy in die ongerepte Baviaanskloof is. Sommige dele van die tweede dag se roete is redelik moeilik en wanneer Labyrinth Hill bereik word, is die bene amper te moeg om die finale twee bulte uit te klim tot by die tweede kamp.

Die kamp is teen die berg-hang geleë en die kombuis-tent is effens verwyder van die gemerkte tentpersele. Die stort het net koue water. Stappers se bagasie word weer afgelewer.

Dag 3: 6 tot 9 uur

Die derde dag is die langste van die vierdagstap en ook die moeilikste. Stappers wat nie tot ’n mate stapfiks is nie, sal op hierdie dag swaarkry. Die helfte van die roete bestaan uit die uitstap en daling van vier steiltes, die Honeybush, Hill Inconvenient, Truth en Ain’t So Bad. Elke steilte voel soos ’n ewigheid en aan die bopunte moet eers asem geskep word voordat die dalings versigtig aangepak word. Daar is geen water beskikbaar op die eerste helfte van die dag se roete nie. Dit was ons warmste dag en elkeen moet seker maak dat daar genoeg water saamgeneem word.

By die basiskamp kon die stappers eers kuier voor die staptog begin het. Foto: Danie Pienaar

Nadat die Ain’t So Bad-saaltjie uitgeklim is, daal stappers af na Turning Point en lei die tweede deel van die roete ons na die pragtige 9 km-lange Kasey-kloof met foto-mooi kranse aan weerskante.

Hier word al langs die rivier gestap en ons neem ’n ruskans en swem in die koue water. ’n Groot deel van die kloof is onlangs deur ’n brand verwoes en ons stap in die hitte van die een skadukol na die volgende een.

Die tog in die kloof is redelik maklik, maar die eerste deel van die dag het sy tol geëis op die bene en dit is met dankbaarheid dat die derde kamp bereik word. Die totale afstand van die derde dag is ongeveer 20 km en beproef stappers se vermoë.

Die kamp is weer eens gerieflik met nog ’n toegeruste kombuistent. Al die tente het opwasgeriewe met lopende water. Die tentpersele is ver van mekaar af, netjies gelyk en afgemerk met klip-omrandings.

Die looppaadjies word ook afgemerk en daar is moeite gedoen om die natuur te bewaar.

Alle vuilgoed en afval word weer saamgeneem wanneer die goedere die volgende dag afgehaal word nadat die stappers vertrek het.

Dag 4: 5 tot 6 uur

Op hierdie dag moet ons 12 km stap en begin met ’n gemaklike stap in die Birdsong-vallei, tussen die kranse, wat ná 4 km tot ’n wrede einde kom by die Fond Farewell-punt waar ’n hewige steilte op ons wag.

Hierdie rotsagtige steilte is vir sommige stappers die moeilikste van almal en ons rus halfpad van waar ons tot ver onder in die kloof kan sien.

Hierna styg ons tot bo-op die berg en stap op die kruin langs van waar ons daal tot in die Cauldron, ’n reeks van twee klein valleie. Hierna volg ’n erg klipperige spoor teen die steiltes af na die vallei wat lei na die Cedar Falls-basiskamp. Hoewel die laaste dag heelwat korter is as die derde dag, is dit nie veel makliker nie en ons kon heerlik ontspan voordat die vuur aangesteek is.

Die tweede kamp op die roete. Foto: Danie Pienaar

Dag 5: 5 uur

Ons het besluit om die nabygeleë waterval te gaan besoek en het deur die kloof aan die westekant van die basiskamp gestap.

Dit was duidelik dat daar onlangs ’n groot vloed was want sommige van die aanwysingbordjies was weg. As gevolg daarvan het ons ’n verkeerde roete geneem en eers nadat ons teen ’n krans moes uitklim, het ons besef dat ons verkeerd stap.

Ons het gelukkig die regte roete gekry en by die watervalpunt uitgekom, waar daar heerlik geswem is.

Luiperdroete

Die Baviaanskloof-luiperdroete is een van die roetes wat nog nie baie besoekers kry nie en die gevolg daarvan is dat dit ’n ongerepte roete is wat pragtige uitsigte bied.

Die stiltes is rustig op die gees en die son se spieëling teen die kenmerkende kranse is onbeskryflik pragtig.

Die diens wat ons gekry het by Cedar Falls is uitstekend en die personeel was uiters hulpvaardig. Ons het die kloof met ’n gevoel van genoegdoening verlaat nadat ons ’n laaste aand by een van die Makedaat-grotte se hutte gebly het met die voorneme om binnekort weer ’n besoek daar te bring.

Meer oor:  Baviaanskloof  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.