Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Op ’n sending vir die wilde diere

Etienne Britz skryf uit Nairobi oor dié stad se moedige Suid-Afrikaners, oor sy kitsvriendskappe met Uber-bestuurders en oor Gareth Jones, ’n Suid-Afrikaanse rubriekskrywer en fotograaf. Volgens Jones verkwik hy sy siel deur hom aan Kenia se fauna te wy, van die magtige renoster tot die hardwerkende klein miskruier.

Die Suid-Afrikaanse fotograaf Gareth Jones het dié foto in die Nairobi Nasionale Park, wat aan die stad grens, geneem. Foto: Gareth Jones

In Desember 2018 verhuis ek, my vrou (vir haar werk) en ons kind na Nairobi in Kenia. Onseker oor wat ons te wagte kan wees. 

Veral ek, gewoond aan die beskutte Stellenbosch, voel ietwat skrikkerig. Dit is immers die land van die Mau-Mau!

Bangbroek sal hom egter skaam. Want toe ek eers in Nairobi met sy 4 miljoen inwoners is, verstom ek my aan die stad se vriendelike, gemanierde, ondernemende burgers. Hulle is beskeie, maar terselfdertyd mense met selfvertroue.

Daarby gewapen met ’n ironiese uitkyk op die lewe, met ’n soort Britse humorsin. Op byna elke Uber-rit blyk die bestuurder ’n filosoof te wees wat graag vir my grappies lag. ’n Kitsvriend. Genoeg geselskap vir die hele dag.

Ek kom agter baie Keniane in Nairobi is die produk van ’n sterk gesin, met ’n aanwesige vader. Mense word ook gevorm deur Kenia se besielde kerklewe, deur die goeie skoolstelsel en deur die erfenis van 60 jaar van onafhanklikheid, of eintlik self-afhanklikheid.

Dit val my spoedig op dat die Keniane elke soort beroep of vaardigheid wat ’n moderne staat nodig het, self onder die knie probeer kry. Hulle is selfs die wêreld voor wat digitale geld betref.

Jones in die Nairobi Nasionale Park, met leeus in sig. Foto: Gareth Jones

Die Keniane het ’n manier gevind om iemand met behulp van jou slimfoon onmiddellik vir enigiets te betaal. Onder die huidige omstandighede beteken dit jy hoef nooit aan die vermoedelik koronavirus-besmette papiergeld in jou beursie te raak nie.

Ons word kort ná ons aankoms na byeenkomste van Suid-Afrikaners genooi. Ek sê in een van hierdie geselskappe dat Kenia vir my lyk na ’n volwasse postkoloniale land.

Die land het die oorgevoeligheid, die neiging tot vergelding en geweld en die ongestrafde korrupsie van ’n nie-volwasse post-koloniale land ontgroei. Jy sal nog ’n paar lelike dinge hier leer, waarsku een van die aanwesige manne my.

Nie lank daarna nie, gryp iemand my splinternuwe slimfoon uit my hand waar ek niksvermoedend in ’n Uber-motor sit en grappige wyshede met die bestuurder uitruil. My eerste lelike ding geleer. Dié grypdiefstal was eintlik my eie skuld omdat die Uber-bestuurder my twee keer teen my oop venster gewaarsku het.

Ná hierdie leersame voorval skaam Bangbroek hom weldra oor iets anders as sy aanvanklike skrikkerigheid vir die Keniane. Dit is die praktiese teenwoordigheid van gees, en die durf en daad, van sy mede-Suid-Afrikaners in Kenia.

Nóg ’n foto van Jones. ’n Verkeersknoop in die Nairobi Nasionale Park. Foto: Gareth Jones

Ek ontdek ook die kloekmoedigheid van die groot Suid-Afrikaanse maatskappye wat hul heil hier kom soek.

Met my eerste, behoedsame verkenningstog deur die stad slaan Old Mutual se massiewe, moderne toringgebou my asem weg. Maar ’n ent verder sien ek die mededinger. En dit is sowaar nóg ’n Suid-Afrikaanse onderneming, naamlik Sanlam!

Dié versekeraar, in 1918 gebore uit die stryd om die Afrikaner ekonomies op die been te bring ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog, het ’n pragtige wolkekrabber in Nairobi opgerig. Sanlam se bekende logo, twee hande beskermend gevou om ’n menskop, skitter hoog bo my in die lug.

Ek slaan my oë op na niks minder nie as ’n simbool van die onverskrokke transformasie van Suid-Afrika. Uiteindelik staan ons vierkant binne die groot vasteland waar ons boer.

Sedertdien leer ek ander Suid-Afrikaanse ondernemings in Nairobi ken. Name soos Absa en Stanbic Bank is hier goed bekend. Die lekkerste boerewors koop mens by Shoprite. Ook die wyne van Stellenbosch is by dié Suid-Afrikaanse supermarkwinkel in oorvloed te koop.

Vir ’n seemsleerlap, byna ongekend in Kenia, kon ek my wend tot Game Store. Ek wens Game wil my gunsteling- Suid-Afrikaanse produk, Pratley Putty, ook maar laat kom.

’n Pragtige spreeu met ’n vangs. Foto: Gareth Jones

By die private skole van Nairobi beman raakvat-vroue van Suid-Afrika die kermisstalletjies wat liefdadigheidsprojekte help finansier.

Stewige Suid-Afrikaanse mans, soos my vermaner gesout in die weë van die vasteland Afrika, bestuur suksesvolle besighede. ’n Groot Suid-Afrikaanse vrouevereniging sorg vir interessante uitstappies.

Selfs mans soos ek is van harte welkom om saam besoek af te lê by byvoorbeeld ’n plaas wat rose kweek en na Europa uitvoer. ’n Magtige plaas met ’n Suid-Afrikaanse bestuurder en 5 000 plaaslike werknemers.

Intussen het die korona- virus-pandemie ook Kenia lamgelê en hokgeslaan. Maar gelukkig is Suid-Afrika se DStv beskikbaar in hierdie land.

Dit maak ons halflewe, vasgekeer in ons sitkamer, presies so draaglik soos die halflewe wat ons familie en vriende in Suid-Afrika moet verduur.

Van al die Suid-Afrikaners wat ek in Nairobi ontmoet, maak Gareth Jones van Pretoria uiteindelik die grootste beskamende indruk op my.

’n Mens verhuis na ’n vreemde land in die hoop op ’n beter lewe. Maar dié beter lewe gaan nie na jou aangeloop kom nie.

Jy sal jou toekoms tegemoet moet stap met iets van waarde vir die plaaslike bevolking in jou hand. Jones se bydrae, en sy besondere durf en daad, is iets besonders.

Miskruier bemes die grond. Foto: Gareth Jones

Wat Jones doen is om die ryk natuurlewe van Nairobi se nasionale park, ’n soort mini-Krugerwildtuin wat aan die stad grens, met sy koerant- en tydskrifartikels en sy foto’s vir die stad se bewoners te ontsluit.

Dit is ’n merkwaardige wildtuin in die sin dat die skeidslyn tussen die groen oerwoud, die wildernis, en die beton-oerwoud, die stad, duidelik gesien kan word.

Jy kan impalas of hartbeeste sien verby jaag, miskien op vlug van ’n groot kat, met die buitelyn van Nairobi se wolkekrabbers duidelik sigbaar op die agtergrond. Jones tree oor hierdie skeidslyn met sy berigte uit die wildernis.

Die rubriekskrywer verdien sy brood as ingenieur en besigheidsbestuurder wat vir die Suid-Afrikaanse firma PG Bison in Nairobi werk.

Maar sy byna daaglikse besoeke aan die wêreldbekende wildpark van 117 km² bied aan hom sy liefdeswerk.

Ná sowat 5 000 besoeke aan die park, soms douvoordag om die nagdiere te kan sien, praat Jones as’t ware namens die diere met die mense van Nairobi. Hy blaas ook die fluitjie wanneer iets of iemand, miskien ’n dom beleidsbesluit, die wilde diere bedreig.

Maar sy byna daaglikse besoeke aan die wêreldbekende wildpark van 117 km² bied aan hom sy liefdeswerk.

Eintlik praat Jones met mense oor die hele wêreld, want jy kan sy artikels lees en sy foto’s sien in die aanlyn tydskrif H&S (kenya.hsmagazine.digital) en in Nairobi se koerant The Star (www.the-star.co.ke/).

Danksy die respek wat sy diereliefde vir hom verdien het, is hy deesdae voorsitter van die gesiene Friends of Nairobi Na-tional Park-vereniging. Hy het Nairobi se “mnr. Diereliefde” geword.

Jones lyk na die sagmoedige en blymoedige mens wat hy ook is. Maar hy is in teenstelling met Bangbroek totaal vreesloos. Hy is veel taaier as wat mens sou dink of wat ek sou kon wees.

Toe hy, sy vrou, Tarris, en hul dogter in 2002 na Nairobi verhuis, wys hy sy werkgewer se aanbod van ’n lugreis van die hand. Die gesin ry sewe dae lank met hul eie Land Rover Defender deur Botswana, Zambië, Malawi en Tanzanië, sonder ’n GPS of ander navigasie-toerusting.

Slegs ’n kaart en ’n eksemplaar van die reisboek Lonely Planet byderhand.

Ná 5 160 km, met plek-plek vloedwater en diep modder op ’n bergpas in Malawi, bereik hulle uiteindelik Kenia. As jong man was Jones, soos sy pa, ’n ereveldwagter wat vrywilligerswerk vir Suid-Afrika se Nasionale Parkeraad gedoen het. Dit was die era van die Bosoorlog.

Die kleinste voël of insek het vir hom waarde uit hierdie perspektief. Jones dien die Nairobi Nasionale Park deels ter verkwikking van sy siel.

Jones moes oor ’n tydperk van tien jaar weermagkampe bywoon en ook met patrollies te voet Suid-Afrika se landsgrense help bewaak.

Naby die grens met Mosambiek ontsnap Jones saam met sy makkers ternouernood ’n trop mensvreter-leeus. Die bedrywighede van vegters en stropers in die grensgebied het sommige leeus ’n spesiale smaak vir mensvleis laat ontwikkel.

Sy “wakkerwordskrik”, soos Jones die voorval noem, laat hom vra waarom hy gered is en nie sy lewe verloor het nie.

Waarom, tot watter nut, moes hy langer leef?

Hierdie vraag laat hom tot bekering kom. Hy sien die wilde diere van Kenia waaraan hy so baie tyd en werk wy, as deel van die skepping van God.

Die kleinste voël of insek het vir hom waarde uit hierdie perspektief. Jones dien die Nairobi Nasionale Park deels ter verkwikking van sy siel.

Naas die sielsrus wat hy in dié park ervaar, is hy ook wetenskaplik in die diere geïnteresseerd. Deur sy lees- en skryfwerk het hy baie kennis opgedoen.

Hy vertel in ’n onlangse rubriek byvoorbeeld hoe miskruiers van Kenia na Australië uitgevoer is om die gehalte van die weiding en landbougrond daar te verbeter.

Sommige Suid-Afrikaanse inwoners van Nairobi is van formidabele stoffasie gemaak. Dit begin ek sedert ons aankoms deeglik besef.

  • Britz is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Etienne Britz  |  Vakansie  |  Wilde Diere  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.