Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Ouwêreldse sjarme op dié roetes

Eendag was daar ’n hoteleienaar wat van mening was dat hy nog nooit ’n dag in sy lewe gewerk het nie. Al wat hy gedoen het, was om sy stokperdjies te beoefen. Ilse Zietsman vertel meer van dié visioenêr.

Wyle Gert Lubbe het reeds in 1997 met die idee van Cape Country Routes vorendag gekom. Foto: Ilse Zietsman

Dié hoteleienaar is Gert Lubbe, die eienaar van die Montagu Country Hotel, die enigste Art Deco-hotel in Suid-Afrika. Lubbe het die hotel op ’n bankrotveiling gekoop en in ’n viersterhotel omskep.

Reeds voordat hy die Montagu Country Hotel aangeskaf het, was hy ’n visioenêr wat met die idee en konsep van Cape Country Routes vorendag gekom het.

Lubbe het reeds in 1997 die behoefte raakgesien om gaste na gastehuise en hotelle op roetes wat sin maak, te kanaliseer.

Hy het mede-eienaars van hotelle en gastehuise om ’n tafel laat sit en só is met Cape Country Routes begin.

Dié projek het ’n gaping in die mark gevul en terselfdertyd verblyfbestemmings wat deur individue besit word, bemark.

Die saambindende faktor was dat alle bestemmings sjarme, karakter en ’n element van romanse moes hê. Aanvanklik was Cape Country Routes op Roete 62 van Kaapstad na Port Elizabeth gefokus.

In 1997 was die oorspronklike lede van Cape Country Routes die Alphen-boetiekhotel in Constantia en Winchester Mansions in Seepunt, Kaapstad; D’Ouwe Werf in Stellenbosch; Montagu Country Hotel in Montagu; Queen's Hotel in Oudtshoorn; Matoppo Inn in Beaufort-Wes; Lake Pleasant in Sedgefield; Belvidere Manor in Knysna; en laastens The Beach Hotel in Port Elizabeth.

Sedert die 1990’s het nie net baie in ons land verander nie, maar ook Cape Country Routes is heeltemal herstruktureer. Die fokus is steeds in sommige gevalle op dieselfde roete, dit wil sê van die Wes-Kaap na die Oos-Kaap, maar die roetes (daar is aktiwiteite by die portefeulje gevoeg) is uitgebrei.

Die eetvertrek in die Eendracht-hotel in Dorpstraat, Stellenbosch. Foto: Eendracht-hotel

Só slaap jy oor in Stellenbosch

Dis nie net Simon van der Stel wat reeds in 1679 liries oor Stellenbosch geraak het nie; baie mense beskou dié dorp, die tweede oudste dorp in die land, as een van die mooiste in Suid-Afrika.

Stellenbosch en om­gewing bied natuurskoon, argitektuur, kuns, wynplase en eetplekke; die Adventure Shop (www.adventureshop.co.za) reël begeleide fietstoere asook Vine Hopper-wyntoere.

As jy by die Evergreen Manor & Spa (www.evergreenmanor.co.za) of die Eendracht-hotel (www.eendracht-hotel.com) oorbly, is jy binne stapafstand van alles wat in die hart van die dorp gebeur.

Bespreek ’n tafel op die stoep by Helena’s Restaurant by die Coopmanhuijs-hotel sodat jy die bedrywighede in Kerkstraat kan dophou.

Die Cascade Country Manor, net buite die Paarl, het ’n uitgestrekte tuin met ’n swembad en word omring deur olyfboorde.

Pak af in die Paarl

Net soos Stellenbosch, bied die Paarl veral argitektuur en wynplase. Op ’n historiese staptog deur die Paarl (www.paarlhistoricaltours.co.za) leer jy nie net van die geskiedenis en die verskillende boustyle nie, maar jy hoor ook die interessantste staaltjies van die inwoners van ouds.

By die Cascade Country Manor (www.cascademanor.co.za) bly jy oor in ’n imposante herehuis omring deur olyfboorde net buite die dorp. By d’Olyfboom (www.dolyfboom.co.za) bly jy binne die dorp, maar teen die hange van Paarlberg. Albei verblyf­opsies spog met ’n pragtige uitsig.

Arniston se vissershawetjie met gekleurde skuite is prentjiemooi.

Ry oor die berg na die Overberg

Die naam Overberg beteken letterlik “oor die berg” en is volgens oorlewering die broodmandjie van die Kaap. Rondom Caledon, Napier en Bredasdorp is die golwende heuwels groen in die winter, staan die graan geil in die somer en blom die kanola goudgeel in die lente.

Die Overberg is ’n onderskatte bestemming met ouwêreldse sjarme. Die De Hoop-natuurreservaat (www.dehoopcollection.com) is bekend vir walviskyk, die Walvisstaproete en die spierwit duine by Koppie Alleen. Ywerige voëlkykers kan meer as 150 spesies probeer uitken.

Die Agulhas Country Lodge (www.agulhascountrylodge.com) is ’n flukse stappie (net meer as 4 km) vanaf die suidelikste punt van Afrika.

Jy kan met 71 trappies tot bo in die Kaap Agulhas-vuurtoring klim. Ongelukkig het ’n kortsigtige besluit daartoe gelei dat Agulhas, die suidelikste dorp op ons vasteland, nie meer oor ’n toerismekantoor beskik nie.

Die Arniston-spahotel (www.arnistonhotel.com) sit amper óp die see en die vissershawetjie met kleurvolle skuite is ’n klipgooi weg. Arniston en Agulhas is minder as 50 km van mekaar.

As jy avontuurlustig is, kan jy by Marine Dynamics (www.marinedynamics.co.za) in Gansbaai ’n haaihokduik-ekskursie bespreek.

Die Melkkamer Manor vir groepverblyf by De Hoop.
Die Evergreen Manor in Stellenbosch is in ’n stil straatjie naby die Botaniese Tuin en binne stapafstand van die dorp.

Enigste Art Deco-hotel in land

Jy hoef nie ’n Art Deco-liefhebber te wees om die atmosfeer van die Montagu Country Hotel (www.montagucountryhotel.co.za) te geniet nie.

Dis egter onvermydelik dat dié dekorstyl en die gepaardgaande neiging na die kitsch-fenomeen in jou gesprekke insluip as jy hier tuisgaan.

Amper almal diep iets uit hul geheue op, of dit nou jou ouma se spieëlkas of jou oom se leunstoel met staander-asbakkie is.

By die Montagu Country Hotel eet jy soos in vanmelewe se dae by kerslig en gestyfde tafeldoeke. Jy kan ook ’n ekskursie met American Dream Cars (www.capecountryroutes.com/pages/american-dream-cars-2/) by die hotel bespreek. Dis nie sommer gou weer dat jy die kans gaan kry om met ’n Cadillac in Robertson te gaan wyn proe nie!

By @Four Cousins in Voortrekkerlaan, Robertson, kan jy wyn, craftbier en whisky proe en aan pizzas smul.

Nie net volstruise in Oudtshoorn

Die verblyf op De Zeekoe-gasteplaas (www.dezeekoe.co.za) of Wildehondekloof- privaat natuurreservaat (www.whkloof.co.za) is nie een in ’n voormalige vere­paleis van Oudtshoorn nie, maar dit beteken nie hulle hoef ’n tree terug te staan nie. Die vere- of volstruispaleise van die veer­baronne dateer uit die tye (1865-1870 en 1900-1914) toe die volstruisveerbedryf gedy het.

Dis egter onvermydelik dat dié dekorstyl en die gepaardgaande neiging na die kitsch-fenomeen in jou gesprekke insluip as jy hier tuisgaan.

De Zeekoe se naam is ontleen aan die Nederlandse naam vir dié lusernplaas, Zeekoegat. Hier gaan jy weliswaar nie meer ’n seekoei raakloop nie, maar wel één van die “Skaam 5”, eerder as die “Groot 5”, word op die plaas se webwerf verduidelik. Die “Skaam 5” is die aardvark, ystervark, aardwolf, bakoorvos en meerkat.

Op De Zeekoe kan jy douvoordag saam met die 5 Skaam Meerkatte (www.dezeekoe.co.za/meerkat-tours/) uithang sonder om hulle te versteur. As die stad se gedruis of jou werksdruk te veel raak, kan jy jou siel voed en jou batterye herlaai deur die berg- en rivieruitsigte by Wildehondekloof in te drink.

Verken Knysna

Knysna kan met Stellenbosch meeding as een van die mooiste dorpe in die land. Knysna ís die hart van die Tuinroete. By The Lofts-boetiekhotel (www.thelofts.co.za) op Theseneiland word jy gepamperlang; ruim genoeg tyd hiervoor in aangesien daar baie is wat jou in Knysna kan verlei.

Dit sluit in bootvaarte met sonsondergang, oesters eet, in die woud gaan stap en inkopies doen.

Dalk is jy selfs gelukkig genoeg om op ’n nagrit ’n aardwolf of aardvark te sien.

’n Uur vanaf Port Elizabeth

Jeffreysbaai is nie nét vir branderplankryers nie. Al kan Jeffreys in die seisoen besig raak, verloor dit nooit sy stranddorp­gevoel nie. As jy op pad na Port Elizabeth of die res van die Oos-Kaap is, kan jy by die Super­tubes-gastehuis (www.super­tubes­collection.co.za) oorbly.

Die Zuurberg Mountain Village (www.zuurbergmountainvil­lage.co.za) is, soos Jeffreysbaai, sowat ’n uur se ry vanaf Port Elizabeth. Vanaf Zuurberg is daar ’n lieflike uitsig oor die Addo-olifantpark.

Neig noord

Daar is mense wat so passievol oor die Karoo voel as wat ander oor die see voel. As Karoosand en ’n hemelruim vol sterre jou hart vinniger laat klop, moet jy jou na die New Holme-gasteplaas (www.karoogariep.co.za) in die Karoo Gariep-natuurreservaat begewe.

Dalk is jy selfs gelukkig genoeg om op ’n nagrit ’n aardwolf of aardvark te sien.

By die Naries Namakwa Retreat (www.naries.co.za), ook in die Noord-Kaap, kan jy ook die sand tussen jou tone laat kriewel en na die sterre staar.

As jy see se kant toe mik, kan jy na die skeepswrakke gaan kyk, en in die blommetyd sal jy ver soek om ’n beter plek te kry om blomme te sien.

  • Gert Lubbe is verlede week, ná die skryf van dié artikel, oorlede.
Die roetes waarop Cape Country Routes fokus:
  • Roete 62: www.capecountryroutes.com/collections/route-62/
  • Die Weskus en die Cederberg-roete: www.capecountry­routes.com/collections/west-coast-and-cederberg-route/
  • Vier bergpasse en die Wynland-roete: www.capecountryroutes.com/four-passes-and-winelands-route/
  • Die Walvisroete: www.capecountryroutes.com/collections/whale-route/
  • Die Tuinroete: www.capecountryroutes.com/collections/garden-route/
  • Die Sonskynkus en die Addo-roete: www.capecountry­routes.com/collections/sunshine-coast-and-addo-route/

    Meer oor:  Art Deco  |  Buite  |  Vakansie  |  Hotel  |  Sjarme  |  Reis
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.