Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Pa’s en seuns jag voor in MacNab

Die Royal MacNab-jagkompetisie in die Lady Grey-distrik in die Oos-Kaap het vir baie jagters ’n pa-en-seun-tradisie geword.

Nelius Smith (43) van Pretoria het die naweek vir die vyfde keer aan die Royal MacNab-jagkompetisie in die Lady Grey-distrik in die Oos-Kaap deelgeneem. Dit is die tweede keer dat hy ’n MacNab behaal. Sy kinders, Brigitte (9) en Christiaan (7), was by. Foto: Verskaf

Dít is die uitstaande kenmerk van die 20ste Royal MacNab-jagkompetisie waar vier van die nege jagters wat die afgelope naweek ’n MacNab kon behaal, pa’s en seuns was.

Die meeste van die nege wat dié driekuns kon behaal om Saterdag tussen 06:00 en 18:00 ’n rooiribbokram en patrys te skiet en ’n forel te vang, kom van Gauteng.

Altesaam 25 jagters het deelgeneem.

Verlede jaar het slegs twee jagters hierin geslaag, vergeleke met die 12 in 2017, volgens Tersia Cock, sekretaresse van die kompetisie.

André (54) en Tim Peach (23) van Pretoria en Eugene (52) en Uys Ehlers (24) van Middelburg, Mpumalanga, is die pa’s en seuns wat elk ’n MacNab behaal het.

Die twee kere wat André, ’n ortopediese chirurg, ’n MacNab behaal het, was elke keer toe een van sy seuns ook aan die kompetisie deelgeneem het.

In 2017 het hy en sy oudste seun, Dian (25), dié driekuns behaal, nou hy en Tim. Dit was Tim se eerste deelname.

Nelius Smith (43) van Pretoria saam met sy kinders, Christiaan (7) en Brigitte (9), met sy rooiribbokram, forel en patrys.Foto: Verskaf
André Peach (54, links) van Pretoria saam met sy gidse, pa en seun Hennie en Francois Vorster, op vanjaar se Royal MacNab-jagkompetisie. Hy het vanjaar vir die tweede keer ’n MacNab behaal. Francois (16) is met akute limfoblastiese leukemie (ALL) gediagnoseer. Altesaam R120 500 is deur die Royal MacNab-jagkompetisie deur lootjieverkope en ’n veiling vir hom ingesamel. Foto: Verskaf

Hoekom so ver reis vir dié jagkompetisie?

“Dis maar die mense daar, sout-van-die-aarde-mense; dis absoluut ’n plesier om daar te wees,” sê André.

Hy sê vanjaar was baie spesiaal vanweë die geldinsameling vir Francois Vorster (16), wat met akute limfoblastiese leukemie (ALL) gediagnoseer is.

Francois het weer vanjaar sy pa, Hennie, een van die kompetisie se gidse, vergesel. André voel bevoorreg dat hulle vanjaar sy gidse was.

Volgens Cock is altesaam R120 500 vir die Francois Vorster-leukemiefonds deur lootjieverkope en ’n veiling ingesamel. Cock sê organiseerders het verwag sowat R50 000 gaan ingesamel word. “Ons is uit die veld geslaan.”

Charlene Vorster, Francois se ma, is oorstelp. “Ons is verslae oor mense se goedheid, ons kan dit nie glo nie. Ons is verskriklik dankbaar.”

Dit is die mense in die omgewing se vriendelikheid en gasvryheid wat hom keer op keer daarheen lok, sê hy.

Nelius Smith (43), ’n siviele ingenieur van Pretoria, sê dié kompetisie is vir sy gesin ’n familienaweek. Hy was vanjaar die deelnemer wat eerste die MacNab behaal het. Hy het die driekuns omstreeks 09:50 voltooi.

Pa Adrian (61) en seun Peter Werren (22) van Johannesburg op 2019 se Royal MacNab-jagkompetisie. Adrian is die deelnemer wat die meeste kere aan dié kompetisie deelgeneem het. Peter vergesel sy pa na dié kompetisie vandat hy vier of vyf jaar oud was. Hy het nog nie self aan die kompetisie deelgeneem nie. Foto: Verskaf

Met Nelius se vyfde keer dat hy deelneem, was Brigitte (9) en Christiaan (7) by om te aanskou hoe hul pa vir die tweede keer ’n MacNab verower. Hy is vol lof vir sy gids, Jannie Schlebusch.

Dit is die mense in die omgewing se vriendelikheid en gasvryheid wat hom keer op keer daarheen lok, sê hy.

Nelius en ander jagters sê dit was goeie weerstoestande en nie so koud soos vorige jare nie.

Adrian Werren (61), eienaar van ’n ingenieurswerkswinkel in Johannesburg, het vir die 8ste keer ’n MacNab behaal. Hy is die deelnemer wat die meeste kere aan dié kompetisie deelgeneem het.

Sy 22-jarige seun, Peter, vergesel sy pa reeds vandat hy vier of vyf jaar oud was.

Peter het nog nie self aan die kompetisie deelgeneem nie. Hy is trots op sy pa en sê die beste deel van die kompetisie is die tyd wat hulle saam deurbring.

Deelnemers wat ’n MacNab behaal het:

- Adrian Werren (61) van Johannesburg met gids Kevin Isted

- Eugene Ehlers (52) van Middelburg in Mpumalanga met gids Wimpie Mostert

- Uys Ehlers (24) van Middelburg in Mpumalanga met gids Cloete du Plessis

- André Peach (54) van Pretoria met gidse Hennie en Francois Vorster

- Tim Peach (23) van Pretoria met gids Byron Duke

- Johnny Orsmond (66) van Centurion met gids Schalk Cloete

- L.D. Griesel (46) van Mosselbaai met gids J.P. Potgieter

- Nelius Smith (43) van Pretoria met gids Jannie Schlebusch

- Ruan Coetzee (28) van Petoria met gids Francois Pretorius

Tim Peach (23) van Pretoria het nes sy pa, André, op vanjaar se Royal MacNab-jagkompetisie ’n MacNab behaal. Dit was die eerste keer dat Tim deelgeneem het.Foto: Verskaf

Meer oor:  Royal Macnab-Jagkompetisie  |  Oos-Kaap  |  Lady Grey  |  Jag  |  Macnab
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.