Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Praktiese riglyne oor insekte

’n Nuwe boek van 600 bladsye deur prof. Michael Samways van die Universiteit Stellenbosch (US) bevat akademiese insigte sowel as praktiese riglyne oor waarom en hoe insekte wêreldwyd bewaar moet word.

Samways word beskou as een van die voorste kenners wêreldwyd van insekbewaring, en een van die dryfvere agter die totstandkoming van die navorsingsveld. Hy is ’n uitgelese professor in die US se departement bewaringsekologie en entomologie in die fakulteit agriwetenskappe.

Prof. Michael Samways met ’n kopie van die 16de boek wat hy reeds geskryf het. Die jongste is Insect Conservation: A Global Synthesis.Foto: ENGELA DUVENAGE

Sy nuwe boek, Insect Conservation: A Global Synthesis is deur die uitgewery CABI in Brittanje uitgegee. Dit bevat ’n omvattende oorsig oor die jongste navorsingsinsigte op die gebied. Klem word gelê op die bewaring van enkele spesies, asook hoe insekte binne ekosisteme as geheel beskerm kan word. Dit wys ook uit hoe insekbewaring binne natuurgebiede en in stedelike gebiede gedoen kan word.

Volgens Samways het hy gedurende die skryfproses nie net studente in bewaringsekologie in gedagte gehad nie, maar ook professionele entomoloë met ’n belangstelling in bewaring, en bewaringskundiges met ’n passie vir insekte. Hy reken dat belangstellende lede van die publiek aanklank sal vind by hoofstukke oor die bewaring van insekte binne dorpe, stede en die landbousektor, aangesien talle praktiese riglyne daarin gegee word. Spesifieke hoofstukke word ook gewy aan insekbewaring binne varswaterstelsels, in woude, grasvelde en grotte.

Die omslagillustrasie en dié van die eerste vier hoofstukke is gedoen deur die Amerikaner Tierney Brosius, ’n kunstenaar wat spesialiseer in insekte. Die Suid-Afrikaanse botaniese kunstenaar Vicki Thomas het die oorblywende illustrasies gedoen. Nagenoeg 260 illustrasies is te sien in die boek.

Gedurende sy ryke loopbaan het Samways reeds meer as 360 navorsingsartikels en hoofstukke in 61 boeke help skryf. Hy was skrywer of medeskrywer van 16 ander boeke.

Dit sluit gidse in oor Suid-Afrikaanse naaldekokers, ’n handleiding oor hoe om die stand van varswaterstelsels soos riviere te ondersoek met naaldekokers as maatstaf, en boeke oor insekbewaring in die algemeen. Ook het hy ’n boek help skryf oor hoe die natuurlewe op ’n eiland in die Seychelle merkwaardig herstel het danksy spesifieke ingrepe waarby hy betrokke was.

Talle van sy idees en bestuursbeginsels oor insekbewaring is reeds prakties in werking gestel op plase en in plantasies.

Deur die loop van sy lang loopbaan het hy talle nasionale en internasionale eerbewyse ontvang. Dit sluit onder meer ’n prys vir sy lewenswerk van die US-rektor in, asook erkenning deur die IUCN/Species Survival-kommissie. Verlede jaar het hy ook die invloedryke Marsh-prys van die koninklike entomologiese vereniging in Brittanje ontvang. Dit het sy lewenslange bydrae tot insekbewaring erken. – Engela Duvenage

Meer oor:  Universiteit Stellenbosch  |  Bewaring  |  Insekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.