Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
RESEP: Gelukkie bring wildspastei in ’n pot

Net soos met bykans alle dinge in 2020 is die jagbedryf erg gekwes, indien nie morsdood geskiet deur die Covid-19-pandemie nie. Wel, dalk nie die pandemie as sodanig nie, maar die drakoniese wette wat daarmee gepaard gaan.

My jaarliks Namibië-jagtog is ook ’n slagoffer hiervan en die afgelope ruk hou ek maar oë en ore oop vir waar ek wildsvleis in die hande kan kry. Winter is immers nie winter sonder ’n bietjie wildsvleis byderhand nie.

En toe val ’n onverwagte gelukkie in my skoot met ’n skelm jagtog in die Karoo. Sjuut asseblief hieroor. Huidiglik het die leiers van die land immers die meeste van ons daartoe gedwing om ’n onwettige bestaan te voer.

Winter is nie winter sonder ’n wildspastei nie.Foto: VERSKAF

Maar hieroor gee ek nie om nie, solank ek wildspastei kan maak.

  • 2 kg wildstowevleis soos skenkels
  • 500 g vet lamstowevleis
  • 1 groot ui, fyngesny
  • fyn koljander
  • heel naeltjies
  • sout en peper na smaak
  • 2 koppies rooiwyn
  • ¼ koppie rooiwynasyn
  • worcestersous
  • 2 lourierblare
  • 1 suurlemoen
  • onversoete kakaopoeier (op­sioneel)

Maak só:

  • Verhit ’n bietjie olie in ’n pot en braai die vleis oor hoë hitte. As die vleis effe bruin is, voeg die ui by en roer tot sag.
  • Dan kom twee teelepels koljander en vier heel naeltjies by, die lourierblare, sout en peper na smaak, rooiwyn, asyn, sowat twee eetlepels worcestersous en die fyn gerasperde skil van die suurlemoen.
  • Laat prut ongeveer twee uur lank totdat die vleis van die bene af val. As die vloeistof ná ’n tydjie te min lyk, voeg jy water by – jy wil ’n souserige pastei hê.
  • Laat die pot effe afkoel en haal al die vleis van die bene af. Voel goed daardeur met jou vingers vir beentjies, en verwyder ook die naeltjies en blare.

Vir ’n lekker ryk sous:

  • Neem ’n eetlepel kakaopoeier en voeg ’n bietjie van die vleissous daarby sodat dit kan oplos. Roer hierdie pasta nou goed deur die pasteivleis.
  • Jy wil ook heelwat sous hê vir die kors, wat netnou gaan bykom. Voeg dus nog ’n bietjie wyn by indien nodig.

Slap deegkors: Ek het al jare gelede verlief geraak op hier maklike kors en gebruik dit vir die meeste van my pasteie.

Bestanddele:

  • 1 koppie bruismeel
  • bakpoeier
  • Engelse mosterdpoeier
  • gemengde kruie
  • ½ koppie melk
  • ½ koppie olie
  • sout
  • 1 eier

Maak só:

  • Klits die olie en melk saam. Voeg hierby die bruismeel, twee teelepels bakpoeier, een teelepel elk mosterdpoeier, gemengde kruie en sout. Meng alles deeglik saam.
  • Giet die deeg eweredig oor die wildsvleis in die pot of oondskottel. As jy oor die kole pot maak, sit die deksel op en nes met ’n potbrood, plaas ’n hopie kole daarop. Indien jy hom in die oond bak, bak hom op 180° C
  • Ná sowat 30 minute behoort die kors goudbruin en gaar te wees.
  • En onthou tog die lekker gestoofde perskes wat saam met jou wildspastei voorgesit moet word.
Lise Beyers
Meer oor:  Lise Beyers  |  Jagbedryf  |  Pandemie  |  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.