Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
RESEP: Met goeie wors in vrieskas is die saak reg

Dikwels word daar vir my gevra wat my lekkerste braai nóg was.

As iemand wat daaraan verslaaf is om langs ’n knetterende vuur te sit en kosmaak, was daar al baie heerlike geregte asook wonderlike plekke waar gebraai is.

Maar ’n braai wat in my kop uitstaan was die een op Dwaalberg in die diep Karoo – ’n baie spesiale plek waarvan net ek en ’n paar ander mense weet.

Daar het ek jare gelede saam met die boer, my kinders en my skoonsus een laat middag opgery om die skouspelagtige sonsondergang oor die wye, oop vlaktes te gaan kyk.

Koos Vos neem toe tuisgemaakte wors en ’n rooster saam. Bo gekom op ’n pad wat slegs geskik is vir ’n 4x4-voertuig, het ons dooie takkies van Karoo-bossies af gebreek en ’n vuurtjie gemaak.

’n Worsie op die kole is koningskos, maar het jy al jou eie wors gemaak? Foto: VERSKAF

Nog voordat die vlamme uitgebrand het, is die skaapwors vinnig gebraai en terwyl die laaste stukkie son nog uitsteek, staan ons daar in stilte en verwondering en eet wors met ’n glasie wyn in die hand.

Ja, ’n werklik skouspelagtige aangesig, die wêreld vanaf Dwaalberg. Maar Koos Vos se boerewors was uit die boeke uit.

Worsmaak bly vir my ’n gunsteling-stokperdjie.

As ek goeie wors in my vrieskas het, dan is die saak reg. Maar beslis nie die gestopte saagsels wat jy in ’n supermark koop nie.

Almal het nou nie die gepaste toerusting om wors te maak nie, maar jy kan steeds goeie vleis in die hande kry – of as jy self ’n bok gaan skiet het – die vleis en speserye verwerk na jou smaak en jou slagter vra om te maal en te stop.

Probeer dit gerus en pas aan na jou eie persoonlike smaak.

Dwaalberg se boerewors

Jy benodig:

  • 5 kg vleis (bees of wild)
  • 1 ½ kg vet (vark of skaap)
  • 4 e. sout
  • 1 e. peper
  • 2 ½ e. fyn koljander (skroei eers in ’n pan en maal)
  • 1 ¾ e. fyn wonderpeper
  • 1 ½ t. fyn neut
  • ¾ koppie asyn
  • 2 e. bruinsuiker (opsioneel)

So maak jy:

  • Maak seker jou vleis is baie koud – sny dit in mooi blokkies op.
  • Meng al die speserye saam. Vryf die speserymengsel goed oor die vleis en voeg die asyn by. Laat dit nou marineer vir ’n uur of twee.
  • Maal als saam, verkieslik grof, en stop dan in jou verkose derms (dik of dun).
  • As die wors klaar gestop is, steek dadelik ’n vuurtjie aan en braai ’n proesel.

Geniet dit!

Lise Beyers
Meer oor:  Lise Beyers  |  Wors  |  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.