Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
RESEP: Waterblommetjiebredie is koning

As ek snags ná werk die strate van die Paarl invaar vir ’n bietjie oefening, hang die kaggelrook hier teen die hange van Paarlberg.

Die lug is ysig, maar die winter het darem sy eie skoonheid.

Hierdie weer laat my behoorlik na waterblommetjiebredie smag. Verskoon die cliché, maar dan begin neurie ek sommer ook die Liedjieboer, oftewel Anton Goosen, se “Waterblommetjies in die Boland”.

En as ek by Wellington se waterblommetjie-damme op die plaas Oude Pont verbyry, kan ek my nie keer om op die grondpad langs hierdie damme af te draai om ’n bietjie te gaan kyk hoe die blomme gepluk word nie.

Die plate blomme wat bo-op die damme pronk, is tog te pragtig, en ek raak skoon hartseer wanneer die plukseisoen tot ’n einde kom en die water stadig minder word.

Dié tyd van die jaar is dit ’n bekende gesig in die Boland – waterblommetjie-pluktyd!

Dan weet jy dit gaan die ander kant van tien maande wees totdat hulle weer volop op die water staan.

Dit is maar een van die talle voorregte waarvoor ek so dankbaar is dat ek hier in die hartjie van die Boland woon.

Blommetjiebredie is my winter­koningskos en tog so eenvoudig om voor te berei.

Al wat ’n mens nodig het, is vars blomme, vet skaapvleis en dan die perfekte hoeveelheid sout, peper en suur.

Die peper moet heel herkenbaar wees in die bredie; so ook die geur van suurlemoen.

Die oumense het suringblare in die veld gepluk, fyn gesnipper en by hul bredie gevoeg vir die suur, maar weens ’n tekort hieraan gebruik ek vars suurlemoensap.

En siedaar, ’n pot vol Kaapse winter.

Bolandse wintersgenot!Foto’s: LISE BEYERS

Vir ses honger mense benodig jy die volgende:

  • 1,5 kg lamsvleis (ribbetjie en nek of skenkels)
  • 1 kg vars waterblommetjies
  • 500 g jong aartappeltjies, geskil
  • 1 groot ui, fyngekerf
  • Sout en witpeper na smaak
  • 3 e. suurlemoensap (of meer)
  • 3 heel naeltjies
  • ¼ t. vars gerasperde neutmuskaat
  • ¾ koppie water
  • ¾ koppie witwyn

So maak jy:

  • Maak jou pot warm en braai jou vleis tot effe bruin.
  • Voeg die uie by en braai tot hulle sag en deurskynend is. Geur met sout en baie peper. Voeg dan die helfte van jou waterblomme by.
  • Dan kom die wyn, water en speserye by en prut die pot stadig met die deksel op vir ’n uur en ’n half. Moet dit nie onnodig roer nie, maar kyk nou en dan of daar nog genoeg vloeistof in die pot is. Indien nie, gooi nog water of witwyn by.
  • Voeg nou die res van die blomme en die aartappels by, asook suurlemoensap. Proe ook of daar ’n kenmerkende pepergeur is, en indien nie, voeg nog peper by.
  • Ná ’n verdere 45 minute gaan jy ’n pot vol winter bedien.
Meer oor:  Lise Beyers  |  Koning  |  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.