Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
SA ruiter 2de in wêreld se langste perderit
Wiesman Nel van die plaas Moolmanshoek by Rosendal in die Vrystaat het tweede gekom in die wêreld se langste uithourit in Mongolië. Foto: Mongol Derby/The Adventurists

Die Suid-Afrikaanse weergawe van William Wallace in die fliek Braveheart het Dinsdag tweede gekom in die langste perdewedren ter wêreld wat vandeesweek oor 1 000 km in Mongolië gehou is.

Wiesman Nel (40) van die wildplaas Moolmanshoek by Rosendal in die Vrystaat het die afgelope agt dae die Mongol Derby saam met 42 ruiters van 12 verskillende lande aangepak.

Hulle het sedert verlede week Woensdag van 06:30 soggens tot 20:00 saans ongekende ruigtes op half wilde Mongoolse perde aangepak.

“Wat ’n ongelooflike ervaring met ongelooflike mense,” sê Nel.

Hy was kort op die hakke van Bob Long (70) van Wyoming in Amerika, die wenner wat vanjaar geskiedenis gemaak het as die oudste ruiter nog in die wedren.

Op die Mongol Derby se Facebookblad word Nel beskryf as “die Suid-Afrikaanse Braveheart”.

Hy teel reeds 25 jaar uithouritperde deur boerperde en arabierperde te kruis. Hy ry ook gereeld lang afstande aan die Wildekus en in Lesotho.

Wiesman Nel sê dit was ’n ongelooflike ervaring om Suid-Afrika by die Mongol Derby te verteenwoordig en tweede te kom. Foto: Mongol Derby/The Adventurists

Sampie Mokoakoe (42), sy regterhand en “perde-inbreker” op die plaas, het hom na Mongolië vergesel. Dit was sy eerste keer in ’n vliegtuig en buite die grense van Suid-Afrika (behalwe Lesotho).

Nel sê hy het Mokoakoe ongelukkig Dinsdag verloor toe dié gestraf is omdat sy perd se polsslag te hoog was.

Mokoakoe het teen Woensdag nog 25 km oorgehad en behoort die 11de plek te behaal, sê Nel.

Mokoakoe se Engels het hom ook glo in die steek gelaat, wat daartoe gelei het dat hy verdwaal het.

“Al wat hy kan sê is yes, so dit was nogal ’n storie toe hy vandag 23 km van die roete afgegaan het en ons hom ’n bietjie moes help.”

Dit verg baie goeie perdevernuf, omdat jy nie weet wat jy kry met die perd wat op jou wag nie.

Nel sê dit is ’n enorme voorreg om Suid-Afrika te kon verteenwoordig.

“Ek het hard geoefen en het my bes gedoen. Dit verg baie goeie perdevernuf, omdat jy nie weet wat jy kry met die perd wat op jou wag nie.”

By elke stasie word ’n ondersoek deur ’n veearts gedoen, waarna die ruiters ’n nuwe perd kies.

“Daar is 28 stasies met slaapplek en dan die eindstreep. Elke 40 km kry jy ’n ander perd.”

“Die polsslag van die perd moet onder 56 wees, wat baie laag is. In Suid-Afrika werk ons op 64 op uithouritperde.”

Om dít te verseker, moet jy baie versigtig ry.

Die weerstoestande wissel van harde reënbuie en erge koue tot “hitte wat skrik vir niks”.

Die beperking op die gewig van elke ruiter is 85 kg met ’n 5 kg-sak waarin klere en ’n slaapsak saamgedra word.

Meer oor:  Wiesman Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.