Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Saam met my seun as spanmaat
Terésa Coetzee en haar seun Xander het vanjaar saam aan die Cycle4Cansa-bergfietsbyeenkoms by Sun City deelgeneem.

Eendag is eendag wat ek nog ’n boek gaan skryf oor bergfietsmarathons en spanmaats, want deur die jare het ek al saam met baie wonderlike én vreemde kreature fietsgery.

Daar was Hano wat vir my in die middel van die nag tydens die Trans-Baviaans-uithourit weggery en aan my eie heil oorgelaat het toe ek geval en my rib gebreek het, en David wat ek ná die Cape Pioneer Trek asseblief nooit weer in my lewe wil sien nie.

Vir Raymond wou ek koelbloedig met ’n klip doodgooi toe hy by elke waterpunt op die volgende jaar se Cape Pioneer Trek ’n bier gedrink en kort daarna in die mediese tent geëindig het met ontwatering. (Ek ry binnekort weer die Cape Pioneer Trek saam met Raymond, maar hy het op skrif belowe dat bierdrinkery tot saans ná ’n skof beperk gaan word.)

Gelukkig was daar ook spanmaats soos my Bonny wat my deur twee Epics gepraat en gesleep het, en die liewe Lulu oor wie mense tot vandag toe vra waar my sussie is. Ons lyk glo op ’n druppel na mekaar en ons kom letterlik soos sussies klaar. Saam met Isabel sal ek weer die Merino-monster te voet aandurf en die Hollander Frans sal ek ook nog ’n kans gee, solank hy weer ’n cadeau uit Holland met soute dropjes en egte botter-stroopwafeltjes saambring.

Die jongste toevoeging tot my lysie spanmaats is my seunskind Xander. Ons het die afgelope naweek die Cycle4Cansa bergfietsren by Sun City saam gery.

Die jongste toevoeging tot my lysie spanmaats is my seunskind Xander.

Ons was nie die enigste ma-en-seunspan wat al hierdie byeenkoms saam aangedurf het nie. Agterna het die organiseerder, Mauritz Meyer, my vertel van dr. Kobie Marais wat vanjaar haar 21ste Cycle4Cansa-wedren voltooi het.

“Ek was ses maande swanger met my enigste kind, Louis, toe ek aan hierdie ren deelgeneem het en Louis is nou al 18 jaar oud,” se Kobie, die waarnemende direkteur van Gauteng se departement van geestesgesondheid.

Louis was ses jaar oud toe Kobie ’n spesiale tandem vir hulle laat bou het en toe het hulle al die eerste keer begin saamry.

“Wat ’n wonderlike voorreg om dié passie met my kind te kon deel! Tot vandag toe is daar ’n wonderlike band tussen ons en ons het al soveel ervarings saam op die pad en ons fietse gedeel,” sê Kobie.

Ek was nie net naby my kind nie, maar ek het soveel kere al naby aan die Here ook gevoel as ek so trap.
Kobie Marais

Een van die redes waarom die Cycle4Cansa-ren een van haar gunstelinge is, is die plattelandse gevoel as jy so deur die townships ry waar die inwoners baldadig juig en aanmoedig omdat hulle nie aldag soveel fietsryers daar sien nie.

“Ek het een jaar ’n pap wiel gekry en een van die ou madalas van die dorpie het my kom help. Hy was in ’n toestand dat ’n vrou so alleen kon sukkel met ’n band,” onthou Kobie.

Terésa Coetzee

“Deur die jare het ek al soveel wonderlike ervarings op my fiets gehad. Ek was nie net naby my kind nie, maar ek het soveel kere al naby aan die Here ook gevoel as ek so trap. Fietsry leer kinders van dissipline en vasbyt. Maar ook hoe om die mense om jou te respekteer,” meen sy.

So aan die einde van Saterdag se bergfietsren kon ek sien Xander begin moeg raak, maar ek het hom aanhou moed inpraat, want dis juis dan dat ’n mens begin leer van jou lyf se wonderbaarlike vermoë om aan te hou en uit te hou. Opgee is nie ’n opsie nie.

Agterna het ons lekker gelag toe hy uiteindelik erken het dat hy my aan die begin probeer wegry het. Oor my dooie liggaam!

Mense waarsku my dat ek maar die oomblik moet geniet, want kort voor lank gaan die mannetjie vir sy ma begin wegry. Ek staal myself maar, en intussen geniet ek dit terwyl dit nog nie te uncool vir hom is om saam met jou ma op ’n fiets gesien te word nie.

Meer oor:  Ma  |  Seun  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.