Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
FOTO'S: Skyrun by Lady Grey ‘leeftyd se avontuur’

’n Leeftyd se avontuur binne 30 uur.

Dít is hoe talle mense die bergwedloop Skyrun op ’n hoogte van meer a 2 000 m bo seevlak in die Lady Grey-omgewing beskryf, sê Kelly Burke, die wedloop se woordvoerder.

Dit is met dié wedloop in die Witteberg-bergreeks in die noorde van die Oos-Kaap dat baie individue hulself vind.

Sabine Müller, ’n fisioterapeut van Kaapstad, het groot vreugde uit die wedloop geput. Sy was 45ste onder die vroue. Foto: Reblex Photography – Llewellyn Lloyd

“Baie mense sê hulle gaan die berge op en vind regtig hulself omdat dit so afgeleë en verlate is – omdat mense self hul koers op die roete moet vind, maak jy 100% op jouself staat,” sê Burke.

Die 23ste Skyrun, waar deelnemers vir die 38 km-, 65 km- of 100 km-wedloop kon inskryf, is die afgelope naweek aangebied. Die afsnytyd is 30 uur.

Volgens Burke het 196 van die 242 hardlopers wat vir die 100 km-wedloop ingeskryf was, dit voltooi. In die 65 km was dit 108 van die 124, terwyl 46 van die 49 deelnemers aan die 38 km dit kon klaarmaak.

Deelnemers aan Saterdag se Skyrun in die Witteberg-bergreeks in die Lady Grey-omgewing. Foto: Reblex Photography – Llewellyn Lloyd

Altesaam 129 inwoners van die Vrystaat en Noord-Kaap het deelgeneem.

Burke sê ongeveer 15% van die deelnemers aan die Skyrun is topatlete wat dit as ’n wedloop beskou, terwyl die res dit vir die avontuur doen.

Die toestande Saterdag met die wedloop was uiters warm en droog, veral teen die middag, sê sy.

Die 23ste Skyrun is Saterdag aangebied. Hier is een van die deelnemers in aksie. Foto: Reblex Photography – Llewellyn Lloyd

“Wanneer dit by dié wedloop kom, weet mense dit sal sneeu of winderig wees, of stortreën, of warm wees. Daar is nie normale toestande nie, maar dit was Saterdag goeie wedlooptoestande.”

Sy is nie bewus van enige ernstige beserings nie.

’n Uitsig van bo.Foto: Gerhard Beukes

Die Bloemfonteiner Gerhard Beukes (44), hoofbestuurder van Redstar Agency, het vanjaar vir die vyfde keer deelgeneem.

Beukes sê hy het vanjaar teruggekeer om sy eer te herstel nadat hy in 2018 slegs 65 km van die 100 km-wedloop kon voltooi. Hy was verlede jaar onder meer gedehidreer.

Hy sê vanjaar se omstandighede was gunstiger.

Nou het hy nie net die wedloop voltooi nie, maar ’n persoonlike beste van 19 uur en 40 minute opgestel. Hy het twee keer vantevore die 100 km binne sowat 21 uur voltooi.

Beukes, wat ook al aan die Comrades-wedloop deelgeneem het, was Saterdag algeheel 17de.

Die natuurskoon in dié bergwêreld is asembenemend.Foto: Verskaf

Maar waarom sal mense vir 100 km ver oor berge en dale wil hardloop en klouter?

“Dit is ’n ongelooflike persoonlike ervaring,” sê Beukes. “As jy daar in die berge is, kan jy nie nader aan die natuur kom nie.

“Dis baie moeilik om vir iemand te verduidelik waardeur jy eintlik gaan – jy is absoluut daarbuite in die natuur in hierdie massiewe berge.”

Hy sê deelnemers toets hulself op ’n ander vlak.

“Jy kan fisiek daarvoor voorbereid wees, maar jy moet geestelik sterk genoeg wees om jouself na die volgende punt te vat.

“Dis net jy en jou rugsak en jy moet na jouself omsien.

“Daar is nie waterpunte of stalletjies of mense wat vir jou hande klap nie.”

TC Botha (28), wat in die distrik tussen Elliot en Barkley-Oos met vee boer, het aan die 38 km-wedloop deelgeneem, wat hy in sowat 9 uur voltooi het. Dit was sy eerste Skyrun. Vriende van hom het ook deelgeneem.

Deelnemers teen die bergagtige agtergrond. Foto: Reblex Photography – Llewellyn Lloyd

Botha sê ook dit is moeilik om te beskryf waardeur elke atleet met die wedloop gaan. “Dit is net jy en die elemente.”

Gerhard Beukes met ’n vorige wedloop. Foto: Verskaf

Hy sê dit is “’n emosionele ding” en daar is kameraadskap tussen die deelnemers.

Sy raad is om nie een van dié wedlope ligtelik op te neem nie en goed voor te berei.

Hy en sy vriende het voor die tyd ’n paar keer gaan stap om ’n gevoel vir die wedloop te kry, maar hy meen hy kon beter voorberei het.

Hy beskryf die ervaring as “ongelooflik lekker”.

* Lucky Miya van Johannesburg was vir die 2de keer die algehele wenner met sy tyd van 13 uur en 56 minute. Dit is die vierde keer dat hy deelneem.

* Jeannie Dreyer van Pietermaritzburg was eerste onder die vroue en algeheel negende in ’n tyd van 17 uur en 48 minute.

TC Botha met Saterdag se Skyrun.Foto: Verskaf
TC Botha, links op die voorgrond, Saterdag by die wegspringplek van die 38 km-wedloop. Foto: Verskaf
’n Toneel met Saterdag se Skyrun. Foto: Reblex Photography – Llewellyn Lloyd
Jeannie Dreyer van Pietermaritzburg, die Skyrun-vrouewenner, en Lucky Miya van Johannesburg, die algehele wenner. Foto: Xavier Briel
Meer oor:  Witteberg-Bergreeks  |  Lady Grey  |  Skyrun  |  Wedloop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.