Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
So skiet jy ’n maanhaar

Wintertyd is wildtuintyd en besoekers wil dikwels hul interaksie met een van die Groot Vyf vir ewig vasvang. Tog is daardie maanhaar nie altyd bereid om stil te sit vir sy nabyskoot nie. Johann Visser, bekroonde fotograaf, gee ’n paar praktiese wenke om jou dierefoto’s na nuwe hoogtes neem, of jy nou met ’n selfoonkamera of ’n deftige D-SLR-kamera skiet.

Hulle baklei dat die spoeg spat. Die relletjie tussen die twee Kgalagadi-maanhare het net ’n paar oomblikke geduur en Visser moes blitsvinnig met sy kamera wees. Hy het hier ’n hoë sluiterspoed gebruik om dit vas te vang. Foto: Johann Visser

Onwillige onderwerpe, onvoorspelbare meevallers en afgeleë bestemmings – dis alles struikelblokke wat natuurlewefotograwe moet trotseer wanneer hulle in die veld werk.

Die Bloemfonteinse natuurlewefotograaf Johann Visser bring die afgelope 28 jaar soms weke op ’n slag in die natuur deur, geduldig op soek na daardie perfekte oomblik.

Hy neem foto’s vir reis- en natuurtydskrifte en private versamelaars en sy foto’s het hom ook al ’n paar internasionale pryse besorg. Hy deel ’n paar wenke om aspirantfotograwe te help om hul wildfotografie op te skerp.

“Die belangrikste ding is dat jy dit geniet,” beklemtoon hy.

“Neem foto’s vir jouself. As jy dit deel op fotografieforums en mense goeie terugvoering gee, of ’n tydskrif of koerant dit publiseer, dan is dit ’n bonus.”

Geduld word beloon. Visser het meer as vyf uur gewag sodat die luiperd sy posisie verander en hy het ’n helder skoot van die dier se gesig, sonder enige steuring, gekry. Die foto is in die Kgalagadi-oorgrenspark in die Noord-Kaap geneem. Foto: Johann Visser

Wees voorbereid

Van die beste natuurfotogeleenthede duur ’n vlietende oomblik – die Franse fotograaf Henri Cartier-Bresson het daarna verwys as die “beslissende oomblik”. Maak dus seker jou kamera is byderhand wanneer iets besonders jou pad kruis – daar is ’n gesegde dat “die beste kamera die een by jou is”.

Dit help nie jy het ’n kamera-kit wat soveel soos ’n intreevlak-motortjie kos en dit lê weggesteek agter jou sitplek of in jou kattebak nie.

Hier geld goeie beplanning ook – is jou battery vol gelaai en het jy ’n spaarbattery, vir ingeval die eerste een die gees gee? Wat van jou kamera se geheuekaarte?

Maak seker dit het genoeg plek, maar dra altyd ’n tweede een in jou kamerasak, net vir ingeval. Leer ook jou kamera, lens en hul funksies ken voordat jy die veld invaar en veral wanneer jy ’n nuwe een koop.

Jy wil nie kopkrap oor wat die verstellings en simbole beteken wanneer die trop wildebeeste nou uiteindelik besluit om die Mara-rivier oor te steek nie.

In die lig van . . .

Die fotograaf Johann Visser is op sy gelukkigste in die veld, met ’n kamera in sy hand.

Die woord “fotografie” is afkomstig van die Griekse photós, wat “lig” beteken, en graphé, wat “teken” beteken.

Dus beteken dit letterlik om met “lig te teken”.

“Daarom is lig seker dié belangrikste element vir ’n suksesvolle foto. Die mooiste foto’s word gewoonlik vroegoggend en laatmiddag geneem, fotograwe praat hier van ‘die goue uur’ – die uur ná sonsopkoms en ’n uur voor sonsondergang,” sê Visser.

“Dis wanneer die lig op sy heel beste is – sag, warm en daar val geen harde of skerp kontrasterende skaduwees op jou dieronderwerpe se profiele nie.”

In die winter is dit ook nog lekker koel, en die kanse is goed dat jy roofdiere soos leeus, luiperds, jakkalse en hiënas sal kry wanneer hulle nog aktief is – ’n foto van ’n trop leeus wat middaghoogte soos sleg robbies onder ’n doringboom lê, is mos glad nie interessant nie!

“Bewolkte dae bring ook geleenthede vir fotograwe; die wolke versag die lig, daar is nie so baie harde skaduwees op jou voorwerp nie. Moenie jou kamera wegbêre as die weer sleg is nie, dramatiese weer dra by tot die mooiste foto’s,” beklemtoon hy.

Die geduld van Job

Die natuur is onvoorspelbaar en enige wildfotograaf sal jou vertel dat hulle ’n groot gedeelte van hul werksdag deurbring deur vir die perfekte oomblik te wag.

“Partykeer moet jy vir lang tye wag vir ’n voël om te vlieg om daardie aksiefoto van hom, in die lug met uitgespreide vlerke te kry.

“Dalk sien jy net ’n stert wat bo ’n graspol flits, maar as jy net ’n rukkie wag, sal die roofdier opstaan en verby jou drentel vir ’n nabyskoot,” vertel Visser.

“Wanneer jy ’n skugter dier of voël in jou visier het, sal dit ook eers aan jou teenwoordigheid gewoond moet raak. Dit beteken jy gaan dag ná dag moet teruggaan na die plek waar jy die voëltjie of dier wil afneem.”

Beroepsfotograwe het dikwels die luukse van tyd; daardie nabyskote wat jy in natuurdokkies en in glanstydskrifte sien, is dikwels weke, en selfs maande se geduldige gewag en bekruipery om die dier in sy natuurlike habitat waar te neem en sy gedrag te leer ken.

As jou tyd beperk is, roep die hulp van ’n spesialisgids of spoorsnyer in as jy self nie ’n dieregedragskenner is of die streek of omgewing so goed ken nie.

Leer ook die diere en voëls wat jy afneem se gedrag en gewoontes ken. So kan jy in ’n mate voorspel wat hulle volgende gaan doen, en voorbereid wees.

Die agtergrond op die foto is mooi skoon en komplementeer die onderwerp, die leeuwelpie. Die foto is in die Kgalagadi-oorgrenspark geneem. Foto: Johann Visser

Van agter af

“Jou agtergrond bepaal dikwels of jou foto net goed, of uitsonderlik gaan wees,” sê Visser.

“Of dit nou heeltemal uit fokus (blurred) is, of in fokus met meer detail – jou agtergrond moet die dier of onderwerp wat jy afneem komplementeer.”

As jy met ’n D-SLR-kamera skiet, vergewis jouself van sy F-stop-funksie, wat die grootte van die lensopening bepaal.

Kortliks, hoe groter jou lensopening hoe kleiner jou F-stop, hoe meer lig laat jy in en hoe meer vaag gaan jou agtergrond wees. Hoe kleiner jou lensopening, hoe hoër sal jou F-stop wees, en jou agtergrond sal ook meer in fokus wees.

“Die agtergrond en onderwerp moet nie meeding vir die kyker se aandag nie – met ander woorde, jy wil nie iets in die agtergrond hê wat die kyker se aandag weglei van die dier af nie,” benadruk hy.

Pasop ook vir visuele steurnisse en hindernisse, jy kan die mooiste fotokomposisie hê, maar ’n takkie of blaar wat voor die dier se kop hang, is die jansalie wat alles bederf.

Visser het die foto van die baardaasvoël (Gypaetus barbatus) 15 minute ná sonsopkoms geneem tydens die “goue uur.” Die foto is by Giant’s Castle in die Natalse Drakensberge geneem. Foto: Johann Visser

’n Glinster in sy oog

Oogkontak met jou onderwerp is ontsettend belangrik wanneer jy wilde diere afneem, verduidelik Visser.

Die oë en gesig van jou onderwerp is die fokuspunt van die foto.

Dit sorg ook dat die kyker ’n emosionele verbintenis met die onderwerp, en by verstek jou foto vorm.

Maak seker die dier of voël se oë is skerp en in fokus, en probeer om ook ’n glinstering of ligweerkaatsing in die dier se oog te kry.

“Sonder daardie vonkel in die oog is die beeld donker en dood. So verloor jy al die lewenslus en -krag van die dier wat jy afneem,” verduidelik hy.

Oog tot oog

Wanneer jy wilde diere afneem, probeer om ook op dieselfde ooghoogte as die dier te kom. “ ’n Oog-tot-oog-hoogte foto is meer dramaties en kykers ervaar ’n meer intieme verbinding met die onderwerp,” sê Visser.

Die perspektief waaruit jy die foto neem verander hoe die kyker jou foto interpreteer.

’n Ooghoogte-perspektief gee hulle die geleentheid om die dier in die oë te kyk.

’n Rapport tussen kyker en onderwerp sorg vir ’n intieme foto – Visser het op sy maag gelê om dié foto te neem. Dis by ’n wildplaas buite Bloemfontein geneem. Foto: Johann Visser

Stille lens, beter foto

As jy gelukkig genoeg is om ’n lang telefotolens te besit, weet jy seker reeds hoe belangrik dit is om dit doodstil te hou.

Enige beweging, hoe klein ook al, sal jou foto se gehalte en skerpheid beïnvloed.

“ ’n Boontjiesak is ’n nuttige en goedkoop manier om jou lens stil te hou wanneer jy uit ’n voertuig skiet,” gee Visser raad.

As jy ook groot geld bestee het aan ’n telefotolens, kan jy netsowel ook ’n driepoot koop.

Lang lense moet doodstil gehou word om die skerpste, duidelikste foto moontlik te kry, veral met ’n aksiefoto.

Jou sluiterspoed – die tyd wat die kamerasluiter oop bly om lig deur te laat – moet ook blitsvinnig wees; ’n breukdeel van ’n sekonde kan jou foto maak of breek.

Redigering van foto’s

Die redigering van natuurlewefoto’s moet so eenvoudig as moontlik gehou word, benadruk Visser.

Die enigste verstellings wat hy aanbeveel is verstellings aan die lig, die kontras en die sny van ’n foto.

As jy aan fotografiekompetisies wil deelneem, is die reëls gewoonlik ook baie streng oor redigeringstegnieke.

Jy mag nie enige ekstra elemente byvoeg of wegvat nie, of die komposisie verander, deur byvoorbeeld daardie takkie wat voor die leeu se neus hang uit te vee nie. In die praktyk word dit gesien as onetiese gedrag en talle professionele fotograwe is al gediskwalifiseer omdat hulle te mildelik met die Photoshop-kwas “geverf” het.

Die wenfoto word in die veld geskep – daar moet jy streef om reeds die beste foto moontlik te neem.

Enigiets daarna moet eintlik maar net ’n bietjie poets en blinkvryf wees.

Dit is maklik om met oorredigering jou fokuspunt te verloor, daarom moet dit so minimalisties as moontlik wees, sê Visser.

Selfoonkameras

Maricelle Botha

Die nuutste selfoonkameras het uitstekende kameras en tegnologie, en kan ook uitmuntende foto’s neem.

Ongelukkig skiet die tegnologie vir zoemlense nog tekort – jy moet redelik naby aan die dier wees om ’n goeie foto te neem, meen Visser.

“Wanneer jy van fotoredigerings-apps gebruik om jou foto te poets, onthou dat sommige jou foto se gehalte en grootte verlaag.

“Kies een wat nie jou foto gaan krimp nie.”

’n App soos Adobe Lightroom met basiese funksies kan gratis afgelaai word vir iOS- en Android-fone. As jy bietjie meer wil woeker, is daar funksies binne die app wat jy kan koop.

  • Volg Visser op sosiale media by @johannvisserphotography op Facebook en Instagram en besoek sy webblad by www.johannvisser.com.
Die reël van derdes

“Komposisie is belangrik en as jy nuut is tot fotografie, onthou die reël van derdes,” gee Visser raad.

Deel die beeld op jou kamera of selfoonkamera se soeker (viewfinder) in drie – van die nuwer modelle het ’n funksie wat dit outomaties doen.

Daar moet vier lyne wees, sowel horisontaal as vertikaal, sodat jy nege gedeeltes, almal ewe groot, op die skerm of soeker sien.

Plaas dan jou voorwerp op een van die vier punte waar daardie lyne met mekaar kruis, dit gee balans aan die foto. Enige foto lyk ook beter wanneer jy die voorwerp genoeg ruimte voor sy gesig gee, in die rigting waarheen hulle kyk of loop.

Die glinster of vonkel in ’n onderwerp se oog gee lewe aan die foto. Foto: Johann Visser

Meer oor:  Wildtuin  |  Foto  |  Fotografie  |  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.