Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Somer se sneeuvlokkies, die witgatwitjies, inspireer

Toe duisende skoenlappers Januarie uit die Noord-Kaap begin noordwaarts vlieg, is honderde Suid-Afrikaners deur hierdie wit wolkies energie betoor. Wetenskaplikes beraam dat miljarde skoenlappers vanjaar aan hierdie groot trek deelgeneem het. Sarie Marais-Nell vertel meer. 

Vir seker dui ons nuusfokusse die toestand van ons samelewing aan.

Dink onder meer aan die langdurige droogte en 2019 se Donker Lente, toe moorde op jong vroue en kinders ongekend toegeneem het.

Gelukkig ook vir onlangse berigte oor die vrolike witgatwitjie – ’n skoenlappersoort wat jaarliks in groot getalle uit die Kalahari en Noord-Kaap opstyg en honderde kilometers verder die Mosambiekse seewaters aandurf.

“Dis skoenlapperhemel; dit lyk soos sneeuvlokkies in die somer” is hoe mense verslag doen wanneer hierdie spierwit verskynsel bo-oor hul koppe trek.

Dis effe onseker wie vanjaar eerste hieroor berig het. Dalk televisiebeelde vanaf Kimberley se o.19-krieketwêreldbekerreeks, dalk een van die land se honderde skoenlapper-entoesiaste.

Ja – skoenlapperbewonderaars bestaan regtig: Hulle sluit aan by skoenlapperverenigings met ’n president as voorsitter, akademici doen doktorsgrade hieroor en bedrywige Facebook-groepe het skoenlappers as tema.

Mense deel graag hul kennis met statistieke, foto’s, feite, fop­nuus, gissings en meer. En pas het ’n Unisa-professor en habitatkenner in vrolike luim sy kennis oor die witgatwitjie op SAUK-nuus gedeel.

Hierdie vlinders, voorheen bekend as die grasveldwitjie, broei meestal in witgatbome uit, vandaar die naam witgatwitjie (Belenois aurota), verduidelik die kenners.

En hul jaarlikse gevliegery in ’n noordoostelike rigting is beslis nie migrasie nie, want hulle keer nie na hul plek van oorsprong terug nie. Hul dagtrippies oor honderde kilometers word eerder dispersie genoem en winde help hulle voortstu. Dis ook geen unieke verskynsel nie; skoenlapper-verskuiwings vind oor die aardbol heen plaas.

Wat dryf die witgatwitjie om elke Desember en Januarie hierdie tog aan te pak? Volgens prof. Reinier Terblanche is skoenlappers geneties geprogrammeer daarvoor.

“Nadat ’n kolonie larwes die bronne van hul gasheerboom uitgeput en uiteindelik tot vlinders ontwikkel het, verskuif hulle graag vanuit ’n droër omgewing na ’n klammer klimaat. Soos hulle vlieg, help entoesiaste ons om die skoenlapperroete vas te stel. Ons ontvang berigte uit Maun in Botswana, regoor Noordwes, Gauteng, tot Mpumalanga en Noord-Natal. Volgens alle aanduidings is hierdie jaarlikse reis nou in sy doodsnikke; hul ‘Groot Trek’ is amper verby.”

Die verskynsel is niks nuuts nie en nuusberigte en navorsing hieroor word reeds jare lank neergepen. Asook verwysings na vlinderwit Bosveld-Kersfeeste in vroeër jare.

Navorsers dui aan dat witgatwitjies in 1966 laas so baie, en dus so sigbaar was. Terblanche skryf vanjaar se duisende dansende wittetjies toe aan die droogte wat moontlik ’n afname van hul natuurlike vyand veroorsaak het (die meeste van hulle word as larwes verorber), asook die onlangse reën in streke op hul roete Mosambiek toe.

Akademici begin vermoed dat sekere vlinders dalk langer leef as wat vroeër geglo is. Dit lyk ook of baie nuwe “medereisigers” langs die pad by die groep aansluit; die gevolg van eiertjies wat vlieënde vlinders vorige jare tydens hul reis gelê het.

“Hoe meer navorsing ons doen, hoe meer nuwe vrae duik op,” sê Terblanche. “Hier lê nog baie navorsingswerk voor.”

’n Witgatwitjie,’n skoenlappersoort wat jaarliks in groot getalle uit die Kalahari en Noord-Kaap opstyg en honderde kilometers verder die Mosambiekse seewaters aandurf. Foto: Nikki Brighton

Intussen het ’n klomp mistastings ook reeds vlerke gekry. Die kenners sê: Hulle dra nié peste oor na jou oeste nie; hulle verniel nie jou tuin nie omdat hulle bloot nektar soek. Witgatwitjies vlieg wel in Mosambiek die see in, maar land beslis nie kort daarna in Madagaskar nie.

“Daar bestaan wel soortgelyke vlinders in Madagaskar. Totdat ons genetiese toetse op albei groepe uitgevoer het, sal dit onwys wees om te aanvaar hul voorsate kom uit Suid-Afrika.”

Terblanche, wat ’n doktorstudie hieraan wy, raak opgewonde oor die bestuiwingsfunksie wat witgatwitjies oor hul roete heen verrig. Hy verseker lesers dat hul eiertjies slegs op inheemse bome gelê word.

“Hulle is nie ’n tipe boorwurm nie. En hulle versprei beslis nie die Afrika-perdesiekte nie.”

Ander Afrikaanse skoenlappername streel my oor: bok-ogie en padwagtertjie, sondagsrokkie en dartelaar, springertjie, sandmannetjie, swerwer, dwaalesel, ratsvlieër, dikkoppie en melkbosvlinder – iémand het dit geniet om hierdie dansertjies te benoem.

Om af te sluit: ek lees van die mountain pride butterfly, die bergnooientjie, in J. Dobson se versameling. Met ’n vlerkspan van 8 cm en ’n passie vir die nektar van oranje en rooi blomme, is bergnooientjies die enigste bestuiwer van die gesogte rooi disa (Disa uniflora).

In skoenlapperkringe loop die gesegde dat wanneer ’n skoenlapper sy vlerke aan een kant van die aarde klap, dit ’n orkaan in ’n ander wêrelddeel veroorsaak.

Vanjaar se witgatwitjie-reis het gelukkig geen storm veroorsaak nie, maar eerder Suid-Afrikaners bemoedig, ’n welkome buffer kom bied teen al die ontstellende nuus wat ons so dikwels moet aanhoor.

Vir my bring die vlug van die vlinders nuwe hoop; die wete dat ’n gesonde ekosisteem wel iewers nog bestaan.

“Ambassadeurs van die ekologie,” noem Terblanche hulle heel tereg; hierdie skubvlerkiges wat ons van nuuts af inspireer om ons tuine so organies moontlik te versorg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.