Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Soos klipspringers in Jonkershoek

Stappers wat die Jonkershoek-natuurreservaat by Stellenbosch wil besoek, gaan dalk kilometers ver moet stap om die begin van ’n roete te bereik weens ’n besluit dat voertuie nie meer in die reservaat toegelaat gaan word nie. Terwyl daar nog hieroor gewik en geweeg word, het Jannie van Rensburg wel dié pragtige reservaat verken.

Jonkershoek digby Stellenbosch bied ’n verskeidenheid van staproetes vir oud en jonk, fiks of onfiks.Foto’s: JANNIE VAN RENSBURG

Ons Wes-Kapenaars is darem so bevoorreg om ’n oorvloed van ongelooflike staproetes skaars ’n hanetree van ons af te hê. Soos byvoorbeeld Jonkershoek aan die buitewyke van Stellenbosch, waar jy nie minder nie as vier staproetes het om van te kies.

Toegangsgeld beloop R40 per volwassene en R20 vir kinders, en as jy ’n Wild Card het, betaal jy niks. Dis ook ’n immergewilde bergfietsroete, met ’n sirkelpad van 10 km en verskeie ander paadjies wat deur die woud kronkel. So byna was dit egter neusie verby vir stappers wat nie kans sien om kilometers ver te stap net om by die staproete van hul keuse uit te kom nie! Die saak staan só.

Soos wafferse klipspringers op pad na die tweede waterval.

Nou die dag kom my stapgroepie te hore van ’n besluit deur CapeNature en MTO-Trails (hulle wat onder meer bergfietsroetes in Jonkershoek reguleer) dat voertuie vanaf 1 Desember 2019 nie meer in die uitsonder­like natuurreservaat toegelaat gaan word nie.

Die besluit hiervoor is drie­ledig. Ten eerste word gereken voertuie hou ’n gevaar in vir stappers en fietsryers. Tweedens meen hulle die pad is van so ’n aard dat gewone passasiersvoertuie dikwels vassit.

Die swempoel by die tweede waterval bied ’n yskoue maar verkwikkende geleentheid om af te koel.

Derdens word gesê party besoekers bly oornag. Dis verbode en, meen hulle, die voertuie kan ’n hindernis wees vir brand­bestryders. ’n Versoekskrif is teen die besluit begin, en heel gou het meer as 3 000 mense dit onderteken. Die argumente teen die besluit lui onder meer dat baie fietsryers die openbare teerpad op pad Jonkershoek toe aandurf, waar voertuie veel vinniger ry – sonder probleme.

Die rede waarom ge­wone voertuie soms in die park vasval, is omdat die pad nie in stand gehou word nie.

En laastens, as ’n behoorlike register van besoekers by die hek gehou word, sal dit mos maklik wees om te sien of enige voertuie ná sluitingstyd nog binne is. Stywe boetes behoort onwettige besoekers gou af te skrik. Die sirkelpad binne Jonkershoek – wat voertuie antikloksgewys moet benader – is 10 km lank en feitlik al vier staproetes begin aan die verste kant. Vir die ouer en minder fikse stappers beteken dit dus ’n halwe dag se stap net om by die begin van die staproete uit te kom!

Intussen moet ’n finale besluit geneem word, hangende verdere raadpleging en deel­name van die publiek. Die roetes is Swartboskloof na Sosyskloof (’n redelik maklike een van so 7 km), Panorama (’n bielie van 17 km met ongelooflike uitsigte), Swartboskloof (nog ’n pragtige maar vermoeiende stap van 18 km) en dan Tweede Waterval, ook 7 km.

Ons het besluit om die Tweede Waterval-roete te stap. Parkeer jou voertuig aan die verste kant van die sirkelpad, net anderkant ’n bruggie. Van daar volg jy ’n duidelike voetpad langs die Eersterivier met geleidelike op- en afdraandes.

20 minute nadat jy begin stap het, is daar ’n paadjie wat na regs swenk na die eerste waterval. ’n Uur of wat later kom jy by die afdraai na die tweede waterval. Dit begin steil en word al hoe steiler teen die kloof op.

Vir diegene met hoogtevrees raak dit ’n uitdaging, want op plekke beweeg die paadjie gevaarlik naby aan ’n loodregte val na benede.

Dan skielik is jy omring met inheemse bome, mosbegroeide rotse en ’n kristalhelder, kabbelende bergstroom. Van hier af klouter jy oor rotse tot by Tweede Waterval, waar ’n verleidelike poel jou inwag vir ’n yskoue maar verkwikkende swem.

  • Die stap, met verposings vir asemskep, koffie en middagete, was omtrent 8 km en het vier en ’n half uur in beslag geneem. CapeNature is genader om kommentaar, maar het teen druktyd nog geen terugvoering gegee nie.
Meer oor:  Stellenbosch  |  Stappers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.