Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Speelgrond op die wye blou

Fraai, fraai, mooie Valsbaai! Dié idilliese en diep blou stuk oseaan bly verseker sonder weerga, veral wanneer jy op soek is na 'n prima buitelug speelplek. Jacques Marais het gaan soek na unieke strandjies naby Simonstad.

Welkom in Kroasië, hier reg op die randjie van Kaapstad! Jip, jy hoef nie oorsee te reis om die turkoois baaitjies en ongerepte strande van Split of Dubrovnik te ervaar nie, want die Kaapse Skiereiland spog met net soveel natuurskoon as die hele Midde-Europa.

Maar moenie my woorde alleen net so aanvaar nie: dís wat derduisende mense gedurende die pandemie gesê het toe hulle in ’n media-meningspeiling Kaapstad as hul nommer-een-bestemming gekies het om te besoek wanneer hulle weer mag reis.

Daar het jy dit: en noudat die inperkingsregulasies nog meer verslap is, kan jy na hartelus gaan stap, visvang en – hopelik binnekort – die oseaan terdeë geniet.

Die Kaapse Skiereiland spog met wêreldklas-wegsteekstrandjies. Die goeie nuus is, nou met inperking kan jy elkeen besoek voor die toeloop van toeriste in die Wes-Kaap arriveer. Foto’s: JACQUES MARAIS

Die goeie nuus is dat Simonstad spog met wêreldklas-wegsteekstrandjies en dat jy hier sal kan verken voor die toeriste van elders weer hierheen stroom.

Hoe verder jy van die stad self kan ontsnap, hoe beter is die kanse dat jy helder water en silwerskoon strandjies sonder mense – of rommel – gaan ontdek. Veral op een van daardie perfekte windstil winterdae kan jy net sowel in die Seychelle-eilande of aan Kroasië se kus wees.

Daar is dosyne baaitjies wat wag, met ougat name soos Windmill, Froggy Pond, Olifantsbos, Dias en Smitswinkelbaai wat hier reg teenaan Valsbaai wegkruipertjie speel. Skitterblou water, suiker-sand-lê-plekkies en geronde granietrotse ontvou prentjiemooi hier in die skadu van die Skiereiland se imposante pieke.

Die water van die Atlantiese Oseaan is dalk vrek koud, maar die branders stel nie teleur nie!

Die water mag nou wel aan die koel kant wees, maar die Atlantiese Oseaan is alombekend as een van die aardbol se mees diverse mariene ekosisteme en spog met vuurwarm avonture. Hier is ’n paar strande en unieke aktiwiteite wat jy nie wil misloop nie . . .

  • Olifantbos

Diegene wat smag na vars seelug (sonder ’n masker) kan ontsnap van die malle gejaag daar doer in Kaappunt.

Die 90 minute lange staptog tot by die skeepswrak van die Thomas T. Tucker is ’n puik roete vir die hele familie; begin by Olifantsbos en stap suid; ná sowat 1 km is my geheim . . . sekerlik een van die mooiste strandjies in die reservaat en daar’s ’n goeie kans dat die enigste voetspore joune is!

Boulders-strand, tuiste van Afrika-pikkewyne. Dié pragstrand word omring deur indrukwekkende granietrotse, maar omdat dit deel uitmaak va
  • Boulders-strand

Simonstad is wêreldwyd bekend vir die kolonie Afrika-pikkewyne wat hier nes geskop het.

Dié pragstrand word omring deur indrukwekkende granietrotse, maar omdat dit deel uitmaak van die Tafelberg Nasionale Park gaan die toegangsfooi jou beursie seermaak (maar dis is wel die moeite werd, want dié is een van die min strandjies waar jy vir die Suidooster kan wegkruip én saam met pikkewyne swem).

  • Dias-strand

Kaappunt bly nou maar een van die Skiereiland se grootste trekpleisters en is ’n lushof vir stappers, drawwers, voëlkykers en fietsryers.

    Dis nou wel ’n strawwe tog, maar Dias se steil trappies lei tot ’n tipiese paradysstrand, omring deur asemrowende rotswande en met van die Kaap se meer tegniese branderplankgolwe.

    Die Kaapse Skiereiland is een van die gewildste bestemmings vir plaaslike Kapenaars en toeriste. Benewens die prag van die natuur is daar talle buitelugavonture om aan te pak.
    • Windmill-strand

    Hou jou lyf Jacques Cousteau en verken die “Groot Blou” by dié strand sowat 1 km suid van Boulders. Jy kan skubaduik of snorkel en borrels blaas saam met robbe, streepkathaaie of selfs ’n sonvis, en jou tussendeur verkyk aan anemone en sagte korale tussen die seebamboes.

    • Smitwinkel-strand

    Dis sekerlik die mees onbereikbare strandjie in die hele Kaap!

    Daar is ’n weggesteekte voetpaadjie sowat ’n kilometer oos van Kaappunt se hoofhek en dit lei na ’n piepklein maar pragtige strandjie, omring deur ’n dosyn of so ou kothuisies.

    Hier voel jy egter ’n honderd myl van die beskawing af, so bring jou piekniekmandjie, ’n visstok en snorkelgoed.

    Ja nee, dis tyd. Die inperking is so te sê verby en die asemrowende Skiereiland wag op jou.

    Beste van alles, dit maak nie saak dat dit nou winter is nie, want die wind is stil en die branders is perfek – en met ’n duikpak aan is die water altyd warm!

    Hier is ’n paar webwerwe om te besoek indien jy lus is om na Valsbaai toe te laat waai:

    • Huur ’n see-kajak by www.paddlers.co.za, vind meer uit oor surfski by www.mockepaddling.com, of klop aan vir ’n skubakursus by www.piscesdivers.co.za.
    • Hope ander verblyf-, eet- en avontuuropsies is beskikbaar by www.simonstown.com – nou waarvoor wag jy!
    • Volg Jacques op Twitter @jacqmaraisphoto of bel hom by 083 444 5369 met enige opwindende avontuurgebeurtenisse of buitelugnuus.
    Meer oor:  Simonstad  |  Strande  |  Valsbaai
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.