Bouwerk aan die grootste labirint ter wêreld wat uit duisende spekboombome bestaan, begin in Januarie by Stellenbosch.

Foto: WIKIPEDIA
The Great Labyrinth of Africa is ’n projek wat deur Heart Capital by Stellenbosch Bridge Smart City naby Klapmuts en die Landbouskool Elsenburg buite Stellenbosch gebou sal word. Die labirint-kenner Terry de Vries is die ontwerper van die Groot Labirint.
Die projek is ongeveer drie jaar gelede met Heart Capital se Wonder Plant-inisiatief begin. Hulle het 300 spekboombome gekoop, die steggies afgekap en dit, asook ander nodige materiaal, aan inwoners in verskillende townships, waaronder Khayamandi, voorsien.
Die inwoners het toe die bome by hul huise gekweek tot ongeveer ’n jaar gelede toe Heart Capital die bome by die telers begin terugkoop het. Wat met 300 bome begin het, het vermeerder tot meer as 100 000 bome.
Die labirint sal 230 m x 230 m groot wees, dieselfde grootte as die Groot Piramide van Giza, wat vanuit die ruimte gesien kan word. Klimaatsverandering is die rede vir dié projek.
Hoekom ’n spekboom?
Die spekboom is ’n vetplantboom wat inheems is aan Suid-Afrika. Hulle kan tussen 2 m en 5 m hoog word en leef tot ongeveer 200 jaar. Die spekboom is tien keer meer effektief om koolstof te verminder as tropiese reënwoudbome.
Een volwasse spekboom kan 8,5 kg CO2 per jaar verwyder. Hulle kan ryp, vuur en droogte oorleef, en dit is baie maklik om die bome te kweek.
Meer inligting: info@heartcapital.co.za | www.greatlabyrinth.co.za
Bronne: Eikestadnuus; www.greatlabyrinth.co.za