Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Stadig-stadig op die mosaïekroete

Draai jy af na Sedgefield, die skone kusdorp tussen George en Knysna, verwelkom oorspronklike mosaïekkunswerke jou oral. Dié bekoorlike plek staan uit as een van die Suid-Kaap se kusjuwele, meen Heleen Coertze.

Die vrolike moordwalvis Orca by die ingang van Underwater World op Sedgefield. Foto’s: HELEEN COERTZE

Jy kan bloot nie anders as om stadiger te stap of te ry wanneer jy van hierdie tong-in-die-kies kunswerke raakloop nie.

Die dorpie sluit op internasionale vlak aan by ’n Italiaanse eweknie wat ook die stadiger lewenstyl voorstaan en staan as die eerste Cittaslow-dorp in Suid-Afrika bekend.

So wag Slow die skilpad jou gedienstig by die dorpie se inligtingsentrum in wanneer jy jou aanmeld vir die mosaïekroete-avontuur. Ons ontmoet Jacky Weaver, voorsitter van die organisasie Masithandane, laatoggend by die einste sentrum, waar sy ’n vinnige oorsig gee van die mosaïekroete en die werk wat dié organisasie sonder winsbejag doen.

Sedgefield, in die hartjie van die Tuinroete en omring deur mere en natuurlike woude, het nie regtig kosmetiese trekpleisters nodig nie. Tog is vanaf die ontstaan van die mosaïekprojek in Februarie 2008 daarop gefokus om toerisme te stimuleer en die hele gemeenskap van Sizamile, Smutsville en Sedgefield te betrek.

Met die Masithandane-mosaïektoer hoor jy sommer ook hoe ’n gemeenskapsprojek meegehelp het om ’n hele dorpie te verfraai, werk te skep en vaardig­hede aan te leer.

Die mosaïekroete verwoord subtiel en sigbaar dít wat die woord “Masithandane” beteken, naamlik “Laat ons mekaar liefhê”. Om dus op een van die fraai mosaïekbankies langs die meer te sit, of jou rommel in een van die versierde vullishouers langs die straat te gooi, gee aan ’n alledaagse handeling spesiale betekenis.

Slow die skilpad by Sedgefield se inligtingsentrum.

Die projek is aanvanklik begin met klein opdragwerke soos huisnommers, logo’s vir onder­nemings, tafels en versierde bankies al langs die meer. Maar wanneer jy deesdae voor die Moth-gedenkmuur in dié kusdorpie staan, is jy verbyster – verbaas hoe vaardig die kunstenaars selfs emosies soos die leed en verlies van oorlog deur kleur en tekstuur weergee.

So begin die rooi papawers op die velde van Vlaandere (as ’n simboliese verwysing na gesneuwelde kamerade uit die Tweede Wêreldoorlog) as ’t ware voor jou oë wieg in die besonderse mosaïekkunswerk.

Met ontwerp en verskillende elemente word die eeue-oue kunsvorm steeds dwarsdeur die wêreld gebruik om inligting weer te gee en selfs te protesteer.

Jim Bachor, ’n bekende mo­saïekkunstenaar, beeld “vriendelike protes” uit deur visuele skoonheid na die sypaadjies van Chicago te bring.

Die kleurryke seekat Octypus met sy lang mosaiëkarms.

Hy vul die gate in die strate van die grote stad met ’n sementmengsel en transformeer die gevaarlike, onooglike hindernisse tot kleurvolle mosaïekkunswerke met blomme as tema.

By die Children’s Wall by die Smutsville-gemeenskapsaal word die temas onderwys, toerisme, seelewe en erfenis duidelik op byna 40 m2 deur kinder­kunstenaars uitgebeeld. By The Family, buite die Sedgefield-poskantoor, het die pa, ma, kind en oulike hond al vele verbygangers laat glimlag.

  • Opdragwerke is welkom.
  • Fietse kan by Cycleworx op Sedgefield gehuur word om die roete deur te trap. Bel Eugene by 072 464 1439.
  • Groepe is welkom vir interaktiewe mosaïekopleidingsprojekte.
  • Loer gerus na die webwerf www.masithandane.org.
  • Kaarte van die roete is beskikbaar by Sedgefield Info by 044 343 2007.
  • Groepe van 2 tot 32 mense kan op ’n begeleide toer gaan.
  • Toere moet vooraf bespreek word by Jacky Weaver by 082 414 2133 of weaver­jacky@gmail.com.

Die unieke mosaïekperde­heining by die Mandala-veeartspraktyk, die eerste opdragwerk aan die Masithandane-inisiatief, laat jou beslis stadiger verbyry op die N2-deurpad. In die hartjie van Sedgefield klop Heart­beat of Sedgefield, ’n veelkleurige mosaïekhart van mosaïekteëltjies.

Die visuele mosaïekprojek het ook buite Sedgefield se grense kreatiewe reaksie ontlok toe gr. 12-leerlinge van die Hoërskool Outeniqua in George opgelei is om mosaïekkuns op ’n bankie en planthouer by hul skool te skep.

Met Expedi­tion Africa in 2016, het 54 spanne van 4 lede elk oor die wêreld heen saam met plaaslike kunstenaars, kinders en vrywilligers deelgeneem om ’n reusagtige Afrika-kaart te skep vir die sportbyeenkoms.

Kunswerke word ook geïnkorporeer as deel van die dorpie se feeste en spesiale geleenthede en vorm as’t ware die dekor met sulke geleenthede: Op 21 Maart het Orca die vriendelike mosaïekmoordwalvis en Octypus, die reuseseekat by die Octopus Garden by Scarab Vil­lage saam met die musikante van Watershed geruk en rol voor 370 piekniekgangers.

Met ongeveer 52 kunswerke wat verspreid deur die dorpie aangetref word, het Sedgefield die onbetwisbare mosaïekhoofstad van Suid-Afrika geword. Die hartklop hier is beslis stadiger, met baie tyd vir die fynere dinge.

Die Tree of Life voor die dorp se poskantoor.
Meer oor:  Sedgefield  |  Toerisme  |  Buite  |  Doendinge  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.