Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Stadiger . . . anders mis jy Namakwaland se bekoring

Daar is talle clichés wat ’n mens waarsku daarteen om só voort te snel deur die lewe dat jy vergeet om voluit te leef, skryf Paul Kruger. Hy het dit opnuut weer besef toe hy vroeër vanjaar die Namakwa Nasionale Park besoek het.

Hier, in die Namakwa Nasionale Park, is daar nog 24 uur in elke dag. Die berusting kom lê in jou gemoed.Foto’s: PAUL KRUGER

Op die omslag van Leonard Cohen se seminale album Songs from the Road verwoord Leon Wieseltier sy herinneringe van die moderne psalmdigter se musiektoer waartydens die opnames gemaak is, ietwat anders.

“You cannot understand the ravishments of the road unless you overcome the logistical way of looking at things, which is perhaps the most powerful impediment that our hustling way of life puts in the way of experi-ence.”

Ons het onlangs die waarheid hiervan ervaar toe ons vir ’n paar dae gaan kampeer het by die mond van die Groenrivier wat deel van die Namakwa Nasionale Park uitmaak.

Hoewel die park ons bestemming was, was die reis soontoe, en terug, ewe veel van ’n belewenis.

Jy sal ver moet gaan soek om ’n plek te vind waar jy net soveel stilte sal ervaar. Nie in die fisieke sin nie – daarvoor sorg die see. Dis in jou gemoed waar die berusting kom.

Hier is daar inderdaad nog 24 uur in elke dag.

“Moedverloor” kon net sowel die plek wees waar die droefgeestige vlakte sy naam gekry het. Dit lê oorkant die Knersvlakte, en het sekerlik menige voornemende boer se wil geknak.

Met ons aankoms by Sanparke se kantoor stel ek my voor aan oom Petrus, wat saam met die ander personeel in netjiese huisies so ’n entjie weg van die kantore bly.

Dis nie duidelik of dit die harde klimaat of die jare is nie, maar hy lyk of hy al sy “verkoop teen datum” vir aftrede verbygesteek het, indien nie die “gebruik teen datum” nie.

Ons gesels, en ek noem dat dit vir my wonderlik is om so ver van die gedruis van die stad af hierdie vrede en stilte te kan ervaar.

“Tja,” sê hy. “Ek doen dieselfde as ek met vakansie gaan.”

Ons is nie bedrewe kampeerders nie. Inderdaad dreig ons nou al die laaste paar jaar om dit te doen met die aanskaf van twee stoele hier, ’n opvoutafel daar, en ’n ammunisiekis wat ons maand ná maand vul met messegoed, bekers, glase en al die kleiner snuisterye en gereedskap wat jy dink jy nodig kan hê.

Maar ons kom nooit sover nie. So twee weke gelede kom ek weer by die huis aan met ’n brosjure van die kampeerwinkel en wys vir Wietske, my wederhelf, die spesiale aanbod op slaapsakke.

“Jy dreig nou al so lank. Dis tyd. Bespreek.” Soos haar sinne, raak haar geduld ook korter.

Deel van my aftreebeplanning is om ’n passer en draaier te word. Ek wil stokkies draai en passe ry. As voorbeeld het ek altyd Groenrivier, tussen Bitterfontein en Garies, gebruik.

Ek wil nie net verbyjaag soos destyds, toe ons op Vredendal gewoon het, op pad om kantoorbesoek op Springbok te gaan doen nie. Ek wil stop, en as dit mooi is, koffie maak. Dalk selfs ’n vuurtjie brandsteek, soos hulle dit daar noem, en ’n vleisie braai. En, as dit laat raak, sommer tent opslaan en oorbly.

Dis toe presies wat ons doen.

Gelukkig, en danksy die moderne tegnologie, kan mens presies bepaal wat nodig is.

En dit was nogal baie, insluitend drink- en waswater, hout en ander noodsaaklikhede.

Dié naam stam glo uit die tyd toe ’n Skotse landmeter, diep die Knersvlakte in, besoek ontvang het van ’n landgenoot wat bottels van hul stamland se elikser saamgebring het . . .

Die basiese basis

Die park het 12 verskillende staanplekke, met die mooiste name, en almal dieselfde basiese geriewe.

Soos in baie basies.

Tussenin is daar nog ander plekkies, soos Galjoenbaai, wat ’n mens se gedagtes behoorlik op hol jaag, veral as jy ’n hengelaar is wat soms ook ’n vis vang, en bedrewe is in die kuns van smul aan hierdie koningskos.

Ons was die eerste aankomelinge op Groenrivier, en kon kies tussen die 12 stanings, elk toegerus met ’n lapa en chemiese longdrop met ’n roterende “klankdemper” om ’n besoek meer draaglik te maak.

Die gerief word darem daagliks gediens, en jou vullis verwyder deur die baie vriendelike amptenary.

Die naaste kampeerplek links, soos jy see toe kyk, is 100 m suid. Regs is die volgende staning, buite sig, 1 km noord.

Privaatheid is gewaarborg. Al daardie geriewe, net vir jouself.

Dag een raak ons net tuis. Slaan tent op (’n uitdaging in die wind), leer verstaan die wysheid van my skoonma dat gedeelde eiendom, soos gedeelde slaapsakke, ’n verdomde ding is, en sien die magie van plantegroei wat in die mees barre omstandighede gedy ondanks die knellende droogte, danksy moeder natuur se manier om vir haar kinders te sorg.

Dis volmaan, en, soos Blondie sing, “The tide is high but I’m holding on . . .”

Inderdaad is dit ook baie laag. Daar spoel sloepe oop wat mense sonder duikbrille en -pakke kan ervaar. Die seelewe anderkant die bamboesgordyn is ineens toeganklik.

Tussen die verskillende kampe seelangs is daar ’n strook van so 6 km “dik sand”, soos die Sanparke-mense vir ons beduie. Net begaanbaar met ’n 4x4-voertuig.

Die meeste mense assosieer Namakwaland net met blomme, maar hier is ook pragtige sandstrande wat hemelskos oplewer.

Anderkant die spoor

Op dag twee ry ons terug, rigting Garies, om die kampe anderkant die onbegaanbare pad te bekyk en neem die kortpad oor Wallekraal. Foutjie.

Die pad is baie swak. ’n Mens ry langer as wat jy sou as jy liewer die laaste paar kilometer na Garies deurgedruk het.

Anders as in baie ander dele van die Weskus is daar in die Namakwa Nasionale Park pragtige sandstrande waar ’n mens kan gaan stap, as jy jou nie vermaak in die poele nie.

Die meeste mense assosieer Namakwaland net met blomme. Dis nie net die September-weelde wat kykwaardig is nie. Selfs te midde van die fel droogte slaag die geharde plantegroei daarin om, fyntjies, te gedy.

Soggens, as mens jou kop by die tentflap uitsteek, is jy sopnat van die dou wat hiervoor sorg.

As jy koponderstebo stap, is jy eintlik in ’n lushof van oorlewing. Sorg net dat jy fyn trap ook as jy hier stap.

Kyk, Namakwaland is nie vir sissies nie. Maar as jy hom met respek behandel, dan maak hy sy hart oop.

Padlangs

Dis nie net die park self wat ’n mens bekoor nie. Op pad daarheen is daar heelwat om te sien, vir die wat bereid is om fyn waar te neem.

“Moedverloor” kon net sowel die plek wees waar die droefgeestige vlakte sy naam gekry het. Dit lê oorkant die Knersvlakte, en het sekerlik menige voornemende boer se wil geknak.

Daar is ook voorbeelde van plekname wat ’n mens kan laat wonder waar dit vandaan kom.

“Douse-the-Glim” se oënskynlike Gaeliese oorsprong val vreemd op die oor, hier. Dit stam glo uit die tyd toe ’n Skotse landmeter, diep die Knersvlakte in, besoek ontvang het van ’n landgenoot wat verskeie bottels van hul stamland se magiese elikser saamgebring het.

Daar is tot laataand gevier en gefuif. Die volgende oggend, toe die son opkom, was dit eens te erg vir die gas, en hy skree: “Och, Jock, mon, douse the glim.”

Vat die pad regs! Van Bamboeskamp tot Bitterrivier, Swartfontein en Abjoel wag op jou.

Sou ’n mens op die N7 verby Garies ry, kry jy so 15 km voor Kamieskroon die Engelsman se graf. Laas toe ek daar was, was daar geen aanduiding daarvan nie, maar gelukkig het my kollega wat in die kontrei grootgeword het, vir my gaan wys.

Jy klim oor die draadheining en daar is die graf van lt. C.J. Darter, ’n Britse soldaat wat in die Anglo-Boereoorlog gesterf het.

Dit is glo die kleinste stukkie grond met eie kaart en transport in Britse besit, aldus die plaaslike reisiger se ensiklopedie Op pad in Suid-Afrika.

Plek-plek is daar nog oorblyfsels van die plekke waar vroeër marmer gemyn is.

Vele plaashuise blyk verlate te wees, en soms sien jy damme waarvan die mure moedeloos inmekaar gesak het.

Namakwaland, soos Afrika, is nie vir sissies nie, maar as jy dit met die nodige respek behandel, maak hy sy hart vir jou oop, soos ek glo destyds vir D.J. Opperman, toe hy dig:

Op die groot saaidag van die heelal het reeds ’n entjie duskant Wupperthal oor die kaal Noordweste ’n sakkie van die Heer se beste saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.

Dit geld net soveel vir die vriendelike mense van hierdie kontrei.

By ons tuiskoms is daar ’n versoek van Sanparke om ons ervaring te deel. Toe ek op die aftreklys klik, is al die parke daar, behalwe Namakwa.

Dalk som Wieseltier dit die beste op wanneer hy sê:

“Since we cling to a mainly instrumental view of the road, we have forgotten how to be travellers and we are tourists instead, sitting still before the window and watching the world speed past, when in fact we are the ones who are speeding and it is the world that is still, for those who possess the capacity for stillness.”

Is dit nie dalk tyd dat jy ook jou vermoë gaan toets nie?

Die ingang na Sanparke se Namakwa Nasionale Park.
Meer oor:  Omgewing  |  Toerisme  |  Buite  |  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.