Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
‘Een van die drie bestes in die Suid-Kaap’
Staproete ’n geologiese droom

’n Onlangse vraag by die ingang van die Nelsonbaai-grot op die Robberg-skiereiland oor hoekom hulle van Gauteng na die Suid-Kaap verhuis het, het van Heleen Coertze nie veel nadenke gevra nie. Haar antwoord het amper te eenvoudig geklink: om meer te kan stap.

Verkyk jou aan die . . . Strandkuns op die strand by Robberg in die Suid-Kaap.Foto’s: HELEEN COERTZE

    Die uitsig oor die Indiese Oseaan lyk deesdae waarskynlik nog presies dieselfde as ongeveer 12 000 jaar gelede toe die eerste mense die grot bewoon het. Magtige, skuimende branders het tóé reeds teen die veraf rotse van die oseaan gebreek.

    Dis juis in dié grot met sy breë rotsoorhang waar argeoloë stukkies oorblyfsels van Steentydperk-gereedskap en been van uitgestorwe spesies soos die reusehartbees gekry het.

    Met die seevlak wat toentertyd baie laer was as nou, het grasvlaktes na die suide tot by die horison gestrek en die grotbewoners mettertyd ook hul dieet van vleis na seekos aangepas.

    Elke herbesoek aan die klein 4 km lange beskermde skier­eiland, wat Plettenbergbaai van die Indiese Oseaan wegkeer, waarborg telkens nuwe uitsigte en natuurervarings.

    Steil afgronde met die Indiese Oseaan altyd om jou.
    Die Fonteinehut, ’n opgeknapte vissershuisie, vir oorslaap.
    Wees op die uitkyk vir die fauna en flora in die omgewing. Dis pragtig!

    Met ’n onlangse dagstap na die Robberg-natuurreservaat verwonder ons groepie stappers ons weer aan die sedimentêre kom wat as die nuwe Suider-Afrika-kuslyn ontwikkel het ná die Gondwana-splitsing van omtrent 120 miljoen jaar gelede.

    Ons verkyk ons aan die geologiese formasies uit verskillende tydperke wat die Robberg-skiereiland so ’n geologiese droom maak. Die spierwit Tafelbergkwartsietbrokke by seevlak verblind jou byna wanneer die sonlig daarop val.

    Oral op die stappaadjies is ook die oorheersende Robberg-formasies van sandsteen-konglomerate waarin ronde spoelklippe vasgevang is. Selfs op die strandgedeeltes lê die sand in egalige sandkunsstroke asof die Groot Kunstenaar met eie vingers patrone daardeur getrek het.

    Die naam “Berg van Robbe” of Robberg is deur die Hollandse seevaders aan die stukkie skiereiland gegee. Tog het die Portugese seevaarders so vroeg as die 15de eeu reeds die baai wat deur Robberg-eiland beskerm word, Bahia Formosa of Pragtige Baai gedoop.

    By Robberg baljaar dolfyne heeljaar in die branders, en van Julie tot November kan jy selfs walvisse hier sien. Boonop snork en blaf die robkolonie van ongeveer 4 000 robbe ongesteurd in die beskermde mariene gebied voort.

    Ons stap die Puntsirkelroete van 9,2 km gemaklik binne 4 uur klaar, met genoeg tyd vir koffie en piekniek langs die pad.

    Die roete neem jou oor rotsagtige gedeeltes naby die onstuimige see.
    Plankiespaadjies op die staproete help vir die bene én die senuwees!

    Dis ’n wonderskone dag, met net genoeg winterbyt in die lug om ’n goeie pas te handhaaf. Hoewel daar ’n korter Witsand­ roete van 5,5 km ook is om te stap, wou ons groepie dié keer eerder aan die wilde kant van die skier­eiland beweeg.

    Albei roetes begin saam op die Witsandpaadjie. Ons tonnel voort deur stroke bos en lappies fynbos. By die inligtingsbord oor die Kaapse pelsrobbe hurk ons vir ’n eerste teetjie en sien Plettenbergbaai dynserig in die verte wink.

    ’n Steilerige gedeelte met skerp afgronde aan jou linkerkant hou die oë op die pad. Jy hoor en ruik die kolonie Kaapse pelsrobbe, maar by die Witsandduin hou ons volgens die roetekaart reguit aan.

    Gelukkig is daar op die naelbytgedeeltes dik toue teen die oranje gepoetste rotsblokke waaraan jy kan vashou. As bewys van hoe rof die see hier kan raak, is daar reg op Die Punt oorblyfsels van ’n klipvissershuisie wat in 2008 deur ’n reusebrander platgeslaan is. Op strategiese plekke help die plankiesvoetpaadjies ook om net weer die senuwees te kalmeer.

    Hoewel meer as 100 voël­-s­pesies in die natuurreservaat opgeteken is, sien ons gelukkig lieflike oranjeborssuikerbekkies, rooivlerkspreeus en selfs ’n paar gespikkelde muisvoëls.

    Dassies skarrel oral op die eiland rond, maar die klein duikertjies, grysbokkies en bosbokke wat soms hier gesien word, was dié dag ekstra skaam.

    Die roete gaan ook by die Fonteinehut verby, ’n opgeknapte vissershuisie, kompleet met dek, vier stapelbeddens, kombuisie en eetplek. Hierna steek ons die smal sandstrook of tombolo oor en ignoreer die plankiespad om Die Eiland-gedeelte. Op die plankiespaadjie stap jy verby ’n broeikolonie kleinswartrugmeeus, wat soos babas aan die krys gaan as jy verbystap.

    Terwyl ons groepie stappers die middag deur die gedeelte The Gap na die parkeerterrein terugstap, wonder ek of die wit suikerkanne teen die westelike kant van die Robertsonpas aan Mosselbaai se kant en een van die drie beste dagstaproetes in die Suid-Kaap al blom.

    Weet dit!

    Nuttige wenke as jy hier stap

    • Daar is drie staproetes van wisselende afstande en moeilikheidsgraad. Al drie roetes beloon jou met geologiese kennis. Die langste roete is net oor die 9 km en die kortste neem minder as ’n uur.
    • Besoek beslis die Nelsonbaai-grot. Die Gwano-grot oos van The Gap is nie toeganklik vir besoekers nie.
    • ’n Goeie stapwenk is om warm klere saam te neem in die winter; dit kan koud en nat wees met ’n stormagtige see.
    • Mark Dixon is ’n gesoute gids wat die omgewing se fauna en flora goed ken. Bel hom gerus vir ’n begeleide stap by 082 213 5931 of besoek die webwerf www.gardenrouterail.co.za.
    • Meer inligting: www.capenature.co.za

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.