Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Strandlangs van Yzerfontein na Jakkalsfontein

Jannie van Rensburg en ’n wekker is nie groot maats nie. Hy is feitlik altyd voor die wekker wakker om die skok van so ’n skielike wakkerword vry te spring. Vir sy staptog vanaf Yzerfontein na Jakkalsfontein moes hy egter die wekker vir 04:00 stel – om op te staan, koffie te maak en die dag wat voorlê rustig te beplan, betrag en oorweeg. 

Ons stap sou ongeveer 11 km wees – padkos dus vir minstens drie uur. Hiervoor het ek ’n derdekoppie kekerertjies oornag geweek en die volgende dag stadig gekook tot net sag.

Daarby het ek ’n handvol gehalveerde kersietamaties gevoeg, asook twee opgesnyde hardgekookte eiers, komkommer en seldery-vingers in stukkies gesny, ’n wieletjie fetakaas gekrummel, ’n soetmielie opgekook en die pitte ingesny, en les bes, ’n gerookte kasslertjop gepanbraai, opgesny in blokkies en bygevoeg.

Voetspore in die ongerepte strand tussen Yzerfontein en Jakkalsfontein. Foto: JANNIE VAN RENSBURG

Vir sous by die konkoksie het ek twee knoffeltoontjies, ’n groenrissie, gerasperde gemmer, sap van ’n suurlemoen, twee eetlepels sojasous plus twee eetlepels sesam-olie saam opgewoer met ’n handverwerker. Plus sout en peper na smaak.

Padkos is nie volledig sonder iets te drinke bo en behalwe vars water nie, en daarvoor staan my fles altyd reg vir varsgemaalde filterkoffie.

Ons stapgroep vir die dag, waaronder twee inwonende Jakkalsfonteiners – was tien sterk. Ons staptog was strandlangs van Yzerfontein na Jakkalsfontein.

Die feit dat die staptog strandlangs is, kan ’n mens maklik mislei om te dink dit gaan maklik wees. Moenie glo nie!

Die sand is by tye sag en jy sak soms enkeldiep weg, wat ’n stremming op die kuitspiere plaas.

Ek het in ’n stadium my stapskoene uitgetrek en kaalvoet ge­stap, maar myns insiens het dit die stap net moeiliker gemaak omdat jou voete dan meer wegsak.

’n Natuurlike tuin agter die duin by Jakkalsfontein.

Nog ’n derduiwel waarmee ek nie rekening gehou het nie, is blindevlieë! Jy stap nog so niksvermoedend en die volgende oomblik ervaar jy ’n steekpyn aan jou kuit of enige ander ontblote liggaamsdeel. Uit dure ondervinding dus, beveel ek ’n vlieëplak aan saam met jou padkos, water en koffie!

Ons was gelukkig om ’n paar dolfyne in die branders te sien baljaar. ’n Week of wat vroeër is ’n walvis ook in die omgewing opgemerk.

Jakkalsfontein bied ’n verskeidenheid wandelpaadjies in die natuurreservaat waar jy soms duikertjies, steenbokke, grysbokke, ratels en ander kleiner diertjies sal teëkom.

Daar is ook slange soos pofadders, kobras en boomslange, so hou maar in die paadjies en moenie sommer die fynbos invaar nie.

Waar die naam Jakkalsfontein vandaan kom, is ietwat van ’n raaisel, maar volgens die historikus dr. Dan Sleigh dateer dit uit die laat 1600’s.

In 1804 het die destydse regering Jakkalsfontein opsygesit vir wolskaapboerdery. In daardie jare was skaap glo harig eerder as wollerig.

Voor dit was Jakkalsfontein ’n oornagplek vir reisigers tussen Saldanha en Kaapstad. Dit moes ’n avontuurlike reis van drie dae gewees het, met ’n oorvloed van olifante, leeus, luiperds en wildehonde. Die gebied was dan ook bekend as Slagtersveld.

Dit sal natuurlik help om bevriend te wees met een van die sowat 96 permanente inwoners van Jakkalsfontein om toegang te verkry. Vir meer inligting skakel 022 409 2911, of stuur e-pos na admin@jkf.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.