Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Swanesang: ‘Buite’ groet met ’n vol hart

Dis vandag Buite se laaste uitgawe. Drie redakteurs van Buite kyk terug op dié bylaag wat Dinsdae hul liefde vir die natuur, buitelugavonture en moet-besoek-plekke met die leser gedeel het.

Eben Human:

Die Burger se lesers het oor baie jare gewoond daaraan geraak om op Dinsdae in hul Buite-bylae oor buitelewe, natuurlewe en avonturiers te lees. Dit was stimulerende leesstof.

Eben Human sport
Eben Human

My eerste artikels oor die Kalahari was in 1975 toe bittermin mense dit nog op ’n stamperige grondpaadjie van 300 km van Upington na die Gemsbokpark gewaag het. Buite het baie artikels oor die Kalahari en ander mooi natuurplekke geplaas.

Daar is geskryf oor staproetes, fietstoere, kampeer, hengel, kanovaart, sterrekyk, tuinmaak en voëlkyk en die agterpaaie wat lei na plekke soos wildtuine, die Kalahari, Namakwaland, Boesmanland, die Richtersveld, Cederberge, Drakensberge, die Hel, Baviaanskloof en Afrikalande.

Teen 1987 was ek twee jaar lank direk betrokke by die bylaes. Buite was toe dikwels ’n bylae van agt bladsye en soms selfs 12 op Dinsdae met gedugte ankerskrywers soos dr. Morné du Plessis, uitvoerende hoof van WWF-Suid-Afrika, met sy gewilde “Voëlpraatjies” en die botanis Ernst van Jaarsveld met sy “Vra vir Ernst”, tesame met ’n staprubriek. Om ná ’n lang loopbaan as sportskrywer daarna teen 2005 kans te kry om Buite se redakteur te word, was soos ’n droom wat bewaarheid is.

Francois Williams van die sakeredaksie het my toe saam met hom na ’n mediakonferensie in Constantia genooi en voorgestel aan die ontdekkingsreisiger Kingsley Holgate.

Toe ek daarna my eerste dag as Buite-redakteur begin met die nuus dat Holgate vir ons ’n geborgde reeks oor sy Outside Edge-ekspedisie om Afrika gaan skryf, het my kollegas vir my gelag. Hulle het my regtig nie geglo nie.

Holgate was uiteindelik seker my mees pligsgetroue en stiptelike verslaggewer. Of hy in ’n tropiese reënstorm in die Kongo of in ’n woestyn soos die Wes-Sahara was – sy kopie was altyd betyds vir publikasie.

Die omgewingsverslaggewer Jorisna Bonthuys kon gesaghebbend oor natuursake skryf en Jacques Marais, ’n goeie vriend van Holgate, het Buite sterk ondersteun met sy avontuurberigte. Die ondersteuning van Engelssprekendes soos Du Plessis, Marais, Holgate en Karen Watkins (stap) was maar net nog ’n aanduiding van die status wat Buite onder sy lesers geniet het nie.

Fotokompetisies het ook baie gewild geword en natuurfotograwe soos Hannes Lochner en Basie van Zyl kans gegee om te ontpop. Johann van Tonder kon ’n gesaghebbende fotografie-rubriek skryf en was saam met ’n top-fotograaf soos Jean du Plessis van ons beoordelaars.

Lise Beyers se Veldkos-rubriek is deur die lesers verwelkom en sy was daarna ons kosskrywer. Daar was terselfdertyd waardevolle bydraes van Mariska Spoormaker – redakteur van Buite in die Oos-Kaap, Tisha Steyn van die Suid-Kaap, oud-kollegas soos Ilse Bigalke, Marzahn Botha, Eunice Visagie en Ludwig Visser, asook rubrieke oor hengel (Tobie Brummer), wyn (Johann Crafford), Fourie Kotze (fietsry) en sterrekyk (Auke Slotegraaf).

Daar is berig oor Namibië en die jaarlikse blommeseisoen, asook oor avonturiers soos Riaan Manser, Johan Badenhorst (Voetspore), Leana Niemand en Mike Horn. Diere- en voëlnavorsers soos Philip Stander, Quinton Martins, Peter Steyn, Fritz Eloff, Gus Mills, Lana Muller en Kobus (JduP) Bothma het aandag gekry saam met die spinnekopkenner Norman Larsen.

Die skrywer Deon Meyer het destyds oor sy motorfiets-avonture geskryf en ná hom in my tyd ook Mouton van Zyl, Jolandie Rust, Lodie de Jager, Rufus Dreyer en Francois Steyn. Ook vroue soos Erina Botha (voëls), Maryke Roberts (reis), Engela Duvenage (wetenskappe) en Ilse Zietsman (reis) het hul merk gemaak. Stephan Theron se stapavonture, Johan Steenkamp en sy vrou, Lynette, se reise in Afrika en Pieter Strauss se waardevolle bydraes oor Boesmanland se rotskuns en Namakwaland se musiekmakers, was vir my nog hoogtepunte.

Die jong Albert Retief het eksklusief aan Buite berig oor sy epiese reis met openbare vervoer van Japan deur China, Kazakstan, Turkye, Israel en Egipte tot in Kaapstad.

Die Burger se huidige redakteur, Willem Jordaan, en sy voorganger, Bun Booyens, is self groot buitelewe-entoesiaste en was saam met die ander redakteurs groot ondersteuners van Buite.

Die koms van digitale media (en die uitbreek van die pandemie) het Buite uiteindelik baie negatief geraak. Vir my was dit half tragies dat Buite in sy sterwensure sy beste redakteur ooit in Malani Venter gehad het. Ná my aftrede het ek haar joernalistieke loopbaan met groot belangstelling en bewondering gevolg.

Die huidige virus-pandemie het die mensdom opnuut bewus gemaak van ons swak verhouding met die natuur. As ons gaan toelaat dat ’n tegnologie-gedrewe samelewing ons verder vervreem van die natuur, sal die nageslag ons uiteindelik kwaai verwyt.

Dis hoekom ek vandag treur oor wat nou met Buite gebeur.

Mariska Spoormaker:

Mariska Spoormaker
Mariska Spoormaker

Met hierdie laaste uitgawe van Buite is dit soos om gestroop by die graf van ’n geliefde mens, met ’n ruim hart vir sy naaste en die natuur, te staan. Een wat jou altyd die beter, gesonder, meer avontuurlike natuur-alternatief gewys het en waarbinne van die interessantste mense vriende geword het – net soos Buite deur die jare gedoen het.

Die verlies is intens. Nie net het Buite gehelp om ’n wye verskeidenheid natuur-, avontuur- én besoekers-opsies aan avontuurlustiges en reisigers te bied nie, maar Buite het baie mense, al lesende, ook in hul sitkamers laat saamreis en saam geniet.

Onder Malani Venter se leiding het die Buite-opsies ver oor provinsiale en soms selfs oor landsgrense gestrek. Dankie vir die saamreis en dankie vir die geleenthede gebied om deel van Buite se redaksie te kon wees.

Malani Venter:

As ’n redakteur voel jy soos ’n mislukking as die produk wat onder jou hande was, moet toemaak, ongeag die rede. In dié geval ’n virus. Dinsdae is nou bittersoet vir my. Eben en Mariska het alles mooi opgesom – ek wil nie veel meer sê nie, behalwe: Dankie vir elkeen se bydrae – van die leser wat ’n tuin- of sonsondergangfoto met ons gedeel het, tot die gereelde skrywers wat soos vriende geword het.

Malani Venter

Dankie aan dié wat my op my tone gehou het – veral wanneer die verkeerde voëlspesie op ’n foto beskryf word of as ’n spelfout ’n leeservaring minder lekker gemaak het. Dit word opreg waardeer.

Sonder die pragfoto’s en artikels van buitelug-avonturiers en reisliefhebbers soos Jacques Marais, Ilse Zietsman, Maryke en Clifford Roberts, Engela Duvenage, Jannie van Rensburg, Heleen Coertze, Lise Beyers, Jackie Doman, Jackie Pienaar-Brink, Michelé O’Connor, Tobie Brummer, Tisha Steyn, Cassie du Plessis, Corrie Laubscher, Mouton van Zyl, Marzahn Botha, en natuurlik Eben en Mariska, sou my werk nie so maklik gewees het nie. Hou aan om jul passie en liefde vir die natuur en ons land met almal te deel.

Dankie aan al die mense agter die skerms wat Buite elke week help uitbring het – die grafiese ontwerpers, bladopmakers en subs. En laastens, dankie aan Buite se advertensie-rep, Erika Ackhurst, wat elke maand geduldig na idees vir ekstra projekte geluister en gesorg het vir ’n paar nuwe enkel-bylaes elke jaar – Wintervakansie, Somervakansie, Wildreservate en Reis.

Ek groet Buite en Die Burger met ’n seer, maar vol hart, want ek kyk terug op ’n tyd van wonderlike stories én mense!

Meer oor:  Buite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.