Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Terug om die Epic onder nuwe vaandel aan te durf

Dis altyd snaaks hoe ’n mens in veelfase-marathons mense raakloop en julle dae aaneen saam in die veld ry. En soms in ander renne beland julle weer saam in die veld.

Terésa Coetzee, Hendrik du Toit en Gregory Kuhnert by die eindpunt van verlede jaar se Cape Pioneer Trek in Oudtshoorn.

Ek en my spanmaat Bonny Swanepoel het in 2018 in die Cape Epic soms saam met twee Afrikaanse mans Hendrik du Toit en Dirk Joubert gery. Die ordentlikste twee ouens wat altyd baie geduldig was as ons hulle op die afdraandes opgehou het. (Ek het Hendrik gewaarsku dat ek sy vrou nog gaan vertel hoe hy by die afdraandes afjaag.)

Kort ná daardie jaar se Epic het ek ’n berig oor die hele ervaring geskryf wat in Beeld en Die Burger gepubliseer is. Ek het daarna ’n e-pos gekry van Hendrik waarin hy my bedank vir die berig en sê dat ek en Bonny hom en Dirk op die Epic geïnspireer het. Die brief was onderteken: Hendrik du Toit, hoof- uitvoerende bestuurder, Investec.

Jy kon my behoorlik met ’n veer omtik, want hierdie gentleman het nooit laat blyk dat hy die grootbaas van een van die grootste beleggingsmaatskappye in wêreld is nie.

Op verlede jaar se Cape Pioneer Trek het Hendrik op die heel eerste dag so in die ry vir my hallo gesê en hartseer vertel dat sy goeie vriend en Epic-spanmaat, Dirk Joubert, skielik ná ’n oefensessie in Stellenbosch gesterf het.

Hendrik en Dirk was van Sub A tot matriek saam op skool en hegte vriende. (As jy saam ’n Epic oorleef het, kan jy maar weet julle kan die wêreld saam versit.) Hendrik het daardie dag vir my gesê Dirk se dood het hom laat besef hoe kort die lewe eintlik is. En dat ’n mens nie een dag vanselfsprekend moet aanvaar nie.

Op vanjaar se Tankwa Trek-bergfietsbyeenkoms loop ek en Bonny die vriendelike en nederige Hendrik sowaar weer raak.

Nee, sy vrou het gesê hy mag nie vanjaar weer aan die Epic deelneem nie, was sy spottende antwoord toe ons hom vra.

Bonny Swanepoel en Terésa Coetzee ry vanjaar die Cape Epic as die Beeld-Ninety One-span. Hier is hulle by die eindpunt van die Tankwa Trek van 2020. Foto: ZCMarketing
Dormakaba se Robyn de Groot bring jare se ondervinding saam met haar na vanjaar se Absa Cape Epic. Foto: Ewald Sadie

Die dag ná Tankwa Trek laat weet my Epic-spanmaat van vanjaar, Petro Labuschagne, my dat sy nie vanjaar die Epic saam met my sal kan ry nie – tot my groot hartseer en verdriet. Ek begin rondskarrel soos ’n afkop hoender, want om ’n maand voor die Epic ’n nuwe spanmaat te vind is nie ’n maklike taak nie.

Ek skryf vir Hendrik ’n e-pos in die hoop dat ek sy vrou kan ompraat dat hy saam met my kan ry, maar hy laat weet hy sal eenvoudig nie kan nie. Hy skryf dit sal ’n skande wees as Bonny nie weer saam met my kan ry nie. Investec gaan op 16 Maart skei en noteer as Ninety One en hulle sal Bonny eerder help om my spanmaat te wees.

En net daar met sy en die bemarkingsbestuurder, Kotie Basson, se hulp vorm ek en Bonny die nuwe Beeld-Ninety One-span wat hierdie jaar die Epic gaan ry!

Terésa Coetzee

Daar is vanjaar net 20 vrouespanne wat die Epic gaan ry en ons is net agt Suid-Afrikaanse spanne wat ons land verteenwoordig. Ons bevind ons in die goeie geselskap van ander vroue soos Annika Langvad, Jennie Stenerhag, Robyn de Groot en Jenny Rissveds.

Ons name word nou sommer ook saam met ryers soos Jaro Kulhavy, Howie Grotts en Christoph Sauser genoem wat ook onder die Ninety One-vaandel ry.

  • Is jy ’n Beeld- of Netwerk24-leser wat vanjaar die Epic gaan ry? Laat weet ons asseblief en as jy spesifieke vrae en kwellinge het waarmee ons kan help.

* Stuur ’n e-pos na teresa.coetzee@media24.com

Meer oor:  Epic  |  Terésa Coetzee  |  Bergfiets  |  Fietsry  |  Fiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.