Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Tyd vir gly, kyk of salig roei

Of jy nou hoog in die takke uithang, of in dieptes van die Stormsrivier duik - die Tsitstikamma-woud bied avonture in almal se smaak, skryf Liezel de Lange.

Roeiers maak reg om in die Stormsrivier op te vaar.Foto’s: Liezel de Lange

Glip deur die koffiekleurige waters van die Stormsrivier of gaan gly tussendeur die eeue oue geelhoutbome van die Tsitsikammawoud.

In sekerlik een van die mooiste dele van die land – en die mededinging is straf tussen die massa toerisme-aantreklikhede aan dié deel van die kus – kan jy allerlei avonture gaan beleef, al is jy geen hedendaagse Tarzan of meesterroeier nie.

Vir ’n (hele) paar rand kan die familie (die krose in ons geselskap was tussen nege en elf jaar oud) die kranse wat rondom die Stormsrivier uittroon of die allemintige ou bome gaan verken.

By Untouched Adventures net langs Sandy Bay, oftewel die klein strand aan die einde van die pad deur die Tsitsikamma Nasionale Park, kan jy ’n kajak en ’n lilo huur om die rivier te gaan verken.

’n Gids vergesel tot agt kajakke met 16 mense vir ’n drie uur lange avontuur op ’n slag. Jy roei rondom die rotse by die mond in en dan rivierop onderdeur die park se bekendste baken – die hangbrûe, van waar ’n massa ander toeriste jou staan en aangaap (natuurlike motivering om jou roeivaardighede blitsig op te knap).

Gidse neem besoekers aan die Tsitsikamma Nasionale Park twee-twee in kajakke om die Stormsrivier te verken.

Die roeiery is aansienlik makliker as wat ’n mens dink en jy glip-gly deur die water tussen die kranse deur, verby ’n grot vol vlermuise en tot by ’n oewer ’n ent verder. Hier klim almal op lilos en swem-roei in ’n nou skeur op, waar jy jou tyd verwyl deur jou buurman (of vrou) van sy lilo te probeer afgooi.

Ná ’n paar spronge vanaf die kranse is dit tyd om terug te keer.

Almal roei tot by ’n pier, wat lei tot by een van die houtpaadjies wat deel vorm van die 2 km lange staproete van Sandy Bay deur die inheemse woud tot by die drie hangbrûe. Aan die einde van die grootste brug lei nog ’n (aansienlik steiler) paadjie na ongelooflike uitsigte oor die woud en die see.

Hou jou kamera reg en moenie die kort stappie brûe toe laat verbygaan nie – dis met goeie rede waarom soveel toeriste hierheen stroom. As jy die gebied buite seisoen besoek, kan jy dalk foto’s neem sonder ’n paar Britte, Franse of Chinese (met maskers) daarop.

Vind ook by Sanparke meer uit oor die talle ander (langer) staproetes wat jou na ’n waterval of tot diep binne-in die inheemse woude neem.

’n Staproete van sowat 2 km vanaf Sandy Bay lei tot by die hangbrûe oor die Stormsrivier.

Snorkels en seeperdjies

Span die res van die dag uit op Sandy Bay en swem met jou snorkel en duikbril na die pont ’n paar meter die see in. Bekyk al die visse onder die oppervlak en as jy gelukkig is, sal jy dalk ook ’n seeperdjie teëkom. Skubaduikers kan ook by Untouched Adventures aanklop. Kry iets te ete en te drinke neffens San­dy Bay by die tent-restaurant met sy uitstekende uitsigte (die permanente restaurant het ’n paar jaar gelede afgebrand) of koop koeldrank en roomys in die park se winkel.

  • Kontak Untouched Adventures by 073 1300 689 of stuur ’n e-pos na bookings@untouchedadventures.com. ’n Kajaktoer kos so R550 per persoon en jy kan ook snorkeltoerusting by hulle huur.
  • Vind meer uit by www.sanparke.co.za.
Glip-gly 30 meter bo die grond van platform tot platform tussen die bome.

Hoog in die takke

’n Ent verder (Port Elizabeth se kant toe) langs die N2-snelweg is die Stormsrivier Village, ’n piepklein dorpie wat allerlei toerisme-aantreklikhede bied.

By Tsitsikamma Canopy Tours gespe hulle jou in ’n harnas vas, sit ’n helm op jou kop en stuur jou dan om op tien kabels tussen platforms tussendeur die boomtoppe te gly. As jy gelukkig is, sal jy Knysnaloeries teëkom, maar moenie te veel strelende bosgeluide verwag nie – daarvoor is hier te veel toeriste.

Die platforms is tot 30 meter bo die grond en kan mense met hoogtevrees ’n bietjie laat sweet, maar die uitsigte oor die woud heen is inspirerend. Boonop is dit groot pret om teen die kabels af te gly.

Trek gemaklike skoene aan en sorg dat niks los is of uithang nie, anders gaan jy dalk jou selfoon of donkerbril op die vloer van die woud moet gaan soek. Die hele uitstappie duur sowat drie uur en ’n mens stap voor en ná die tyd ’n entjie tot by die voertuie.

Beloon jouself ná die uitstappie met ’n hamburger of ’n erg indrukwekkende melkskommel by Marilyn’s 60’s Diner op die dorp. Dié legendariese eetplek spog met ’n rits klassieke motors op uitstalling, swart-en-wit blokkiesvloere en pienk mure en musiek van legendes soos Elvis blêr uit die luidsprekers.

  • Die glip-gly tussen die boomtoppe deur kos R660 per persoon en sluit ’n ligte ete in. Bespreek veral in skoolvakansies vooraf want die toere word vinnig vol. Kontak hulle by 042 281 1836, stuur ’n e-pos na adventure@ gardenroute.co.za of besoek die webblad by www.canopytour.co.za.
Meer oor:  Sanparke  |  Tsitsikamma  |  Reis  |  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.