Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Van alikreukel tot kanoroei deel van nuwe staproete

As jy nog nie langs die Suid-Kaapse kus in die omgewing van Stilbaai, Jongensfontein en Blombos gestap het nie, is dit nou die tyd. ’n Nuwe gemakstaproete is onlangs daar bekend gestel. Derek Odendaal vertel meer.

Die omgewing van die Alikreukel-staproete by Stilbaai bied ’n interessante verskeidenheid van seelewe, flora en rotsformasies.Foto’s: DEREK ODENDAAL

Stilbaai, sowat 80 km wes van Mosselbaai, is welbekend as ’n vakansiebestemming en het deur die jare al hoe gewilder geword.

Die kusstrook weerskante van Stilbaai bied besonderse natuur- en kultuurhistoriese skatte. Die Alikreukel-staproete belowe stappers ’n besonderse ervaring met die slagspreuk “Be fascinated by the mysteries of the past, while expe­riencing the delights of the present”.

Die alikreukel is die tweede-grootste skulpdier wat in die kuswaters van Suid-Afrika voorkom. Dit was ’n belangrike deel van die vroeëre kusbewoners se dieet – tot so ver terug as 160 000 jaar.

Vandag nog is dit ’n gewilde skulpkos, maar nie meer so volop soos voorheen nie. Hierdie groot seeslak het aan Suid-Afrika se nuutste kusstaproete sy naam gegee.

Die Alikreukel-staproete strek oor vier dae – drie daarvan loop ’n mens al met die kus langs, terwyl die een dag lekker afwisseling bied: ’n kajakvaart op die mooie Goukourivier en middagete op ’n olyfplaas. Die totale stapafstand is 42 km, plus die vier km wat geroei word.

Die indrukwekkende rotsboog naby Blombos.

Stappers slaap twee nagte in Jongensfontein en twee in Stilbaai. Hierdie gemakstaproete (slackpacking) bied natuurliefhebbers die geleentheid om al die skoonheid en verskeidenheid van die omgewing te geniet, asook om te kom delf in die kultuurhistoriese skatkis wat die vroeëre bewoners van die area vir ons nagelaat het.

Die bekende grot by Blombos, waar mense meer as 70 000 jaar gelede gewoon het, asook die antieke viskrale by Stilbaai, word ’n fassinerende deel van die staproete.

Die stapgids wat die groepe vergesel, dra interessante inligting aan stappers oor en sorg ook vir eerstehandse ervarings uit die natuur.

Die Alikreukel-staproete maak dit redelik maklik en gerieflik om hierdie pragtige en veilige deel van ons kus te leer ken en te geniet.

Slegs dagsakkies word saamgedra en die stappers oornag in baie gerieflike akkommodasie. Alle etes word ook voorsien.

Op dié gedeelte van die Goukourivier word daar met kajakke geroei.

Die moeilikheidsgraad van die roete is gemiddeld, met net die eerste dag wat as ietwat moeilik beskryf kan word. Die stapterrein wissel van klipperige en sanderige gedeeltes tot goeie voetpaadjies.

Die eerste dag se roete begin by Blombos, wes van Stilbaai, en loop oor ’n afstand van 16 km tot by Jongensfontein.

Die roete is bietjie ru op plekke, maar hierdie rotsagtige kuslyn vergoed stappers deur die indrukwekkende Blombosboog te sien, verby die Blombosgrot en antieke skulphope van die Khoi te stap, waarskynlik walvisse te sien in die lentetyd, asook ’n wilde stuk kus te stap waar min mense uitkom.

Die tweede dag strek oor 12 km en loop vanaf Jongensfontein tot by Stilbaai. Dit is ’n redelike maklike roete en bied stappers die kans om meer van die intergety-seelewe te leer, waarskynlik dolfyne in die branders te sien, die Khoi se antieke viskrale te bewonder, deur ’n melkhoutwoud te stap en die aand te proe hoe alikreukel smaak.

Op die derde dag word daar net so 3 km gestap en 4 km geroei op die Goukourivier. Hierdie dag sluit ’n besoek aan die Stilbaai-museum in, waar ’n uitstekende uitstalling oor die Blombosgrot se opgrawings bekyk kan word.

Die ruwe kus tussen Blombos en Jongensfontein.

Die groep word vandaar vervoer langs die Goukourivier op, tot waar die mooiste deel van hierdie rivierlandskap vanuit ’n kajak gesien kan word. Op die Kransfontein olyfplaas word daar dan lekker geproe aan ’n verskeidenheid olyfprodukte en middagete geniet. Daarna weer ’n entjie se roei en dan ’n rustige namiddag.

Die vierde dag bied die stappers ’n heel ander tipe kuslyn en natuurskoon. Die Geelkranse, oos van Stilbaai, is halfversteende sandduine met die interessantste lyne, teksture en vorms.

Dis ’n fassinerende stap van 11 km (of verder as die groep wil) oor hoofsaaklik sandstrande en die stappers word deur die gids ingelig oor die ontstaan en vorming van die sandsteenformasies.

Dit word met laagwater ge­stap om die mooiste in die seelandskap uit te bring.

Slegs twee staptogte word elke maand aangebied rondom springgety. Dit is spesifiek sodat stappers makliker kan stap en van die seeverskynsels beter kan sien.

Staptogte word vanaf September tot Junie aangebied, maar nie deur die Desember-vakansietyd nie.

Meer oor:  Jongensfontein  |  Stilbaai  |  Blombos  |  Kanoroei  |  Staproete  |  Omgewing  |  Buite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.