Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Veldkos: Waterblommetjiepot

Vir lank het Lise Beyers haar kampkosresepte met Buite-lesers gedeel. Die watertandgeregte is terug en haar eerste resep is gepas met die oog op die Waterblommetjiefees in die Boland Saterdag.

Kyk, dis mos nou die plek om jou waterblommetjiepot te maak –tussen die waterblommetjies!Foto: LISE BEYERS

As ek saans ná werk die strate van die Paarl invaar vir ’n bietjie oefening, hang die kaggelrook hier teen die hange van Paarlberg.

Die lug is ysig, maar die winter het darem sy eie skoonheid.

Hierdie weer laat my behoorlik na waterblommetjiebredie smag. En verskoon die cliché, maar dan begin neurie ek, sonder om te dink, die Liedjieboer oftewel Anton Goosen se “Waterblommetjies in die Boland”.

En as ek by Wellington se waterblommetjie-damme op die plaas De Pont verbyry, kan ek my nie keer om op die grondpad langs die damme af te draai en ’n bietjie te kyk hoe die blomme gepluk word nie.

Die plate blomme wat bo-op hierdie damme pronk, is tog te pragtig, en ek raak skoon hartseer wanneer hierdie plukseisoen tot ’n einde kom en die water stadig minder word.

Laas jaar was ons egter bietjie in die knyp met die droogte wat gesorg het dat my gunsteling-wintergereg nie so gereeld op die spyskaart kon wees nie – waterblommetjiebredie.

Maar vanjaar lyk dinge darem effe beter en die damme hier by die Paarl en Wellington blink mooi van hierdie pragtige blommetjies.

So terwyl die winter nog in die lug is, steek die kaggel aan, maak die rooies oop en maak jou eie waterblommetjie-pot met ’n pluksel vars waterblomme.

Vir ’n gesonde pot blomme genoeg vir 6 honger mense maak jy so:

  • 1,5 kg lamsribbetjie en skenkel
  • 1 kg vars waterblommetjies
  • 4 aartappels, geskil en in groot blokke gesny
  • 1 groot ui, fyngekerf
  • Sout en peper na smaak
  • Die sap van drie suurlemoene (of meer)
  • 2 heel naeltjies
  • ¾ koppie water
  • ¾ koppie witwyn

Maak jou pot warm en braai jou vleis tot effe bruin. Voeg die uie by en braai tot hulle deurskynend is. Geur met ’n bietjie sout en peper, nie te veel in hierdie stadium nie. Voeg dan die helfte van jou waterblomme by.

Dan kom die wyn, water en naeltjies by en prut die pot stadig met die deksel op vir ’n uur en ’n half. Moet dit nie onnodig roer nie, maar kyk nou en dan of daar nog genoeg vloeistof in die pot is. Indien nie, voeg nog ’n bietjie water of witwyn by. Voeg nou die res van die blomme en aartappels by en die suurlemoensap. Waterblommetjiebredie moet ’n kenmerkende peper- en suurlemoen-geur hê, dus, voeg nou nog peper by as dit nie heeltemal reg proe nie.

Ná ’n verdere 45 minute gaan jy ’n pot vol winter bedien.

Kom kuier saam!

Kom kuier Saterdag in die Agter-Paarl by die Waterblommetjiefees by die wynkelders Windmeul, Rhebokskloof, Boland en Domaine Brahms en smul aan ’n fees van waterblommetjie-geregte ook gepaar met die kelders se bekroonde wyne en dies meer. Daar sal vele vermaak en pret vir die jongspan ook wees.

Meer oor:  Veldkos  |  Waterblommetjiepot  |  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.