Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Verander ’n lewe . . . op jou fiets

Die Change a Life-liefdadigheidsorganisasie het reeds duisende mense se lewens gehelp verander, maar sy het nooit gedink dit sou haar ook op so ’n diep vlak aanraak nie, skryf Terésa Coetzee.

Die luggie is maar dun daar in Sabie toe ons Vrydagoggend met ons bergfietse voor die statige klipgebou van Mbula Estate regmaak om te begin ry. Jou longe protesteer reeds met die eerste bultjie uit.

Die roetes op die toer het elke dag iets anders gebied. Foto’s: ZC Marketing Consulting

“Lugdruk”, is almal se verskoning en ek hoop heimlik hulle is reg, want skielik twyfel ek aan my fiksheid.

Die oomblik toe ons tussen die digte denneplantasies begin inry en die oop grondpaaie groet, gaan dit darem beter. Maar ook net totdat die eerste lang bult voor ons uitrys. Sabie is nie plat nie, maar gelukkig is die eerste waterpunt sommer vinnig op ons pad, waar ons met allerhande lekkernye soos kondensmelkinspuitings, dadelkoekies, toebroodjies, droëworsies en energiedrankies verkwik word.

Foto:

Vandag maak ons geskiedenis met die begin van die heel eerste Merchants Change a Life-bergfietstoer wat in Sabie plaasvind. Wat die volgende vier dae op ons gewag het, het my wildste drome oortref.

Ons is 24 fietsryers wat aan hierdie toer deelgeneem het en buiten dat ons vir vyf dae op die hande gedra sou word en boutique-bergfietsry op sy beste sou beleef, het ons mekaar mettertyd beter leer ken en ’n hegte kameraderie het ontstaan.

Ons het bowenal ’n diep bewustheid ontwikkel van waaroor Change a Life nou eintlik gaan en hoe die lewens van minderbevoorregte mense regstreeks deur hierdie organisasie en fietsren geraak word.

Die bekende uithou-atleet Martin Dreyer, wat al sewe Dusi-kanowedvaarte en die uitmergelende Freedom Challenge-bergfietsmarathon gewen het, was een van die ryers en al die geld wat ingesamel is, gaan na sy sportakademie.

In die vyf dae het Dreyer ons ’n intieme kykie gegee in dit waaroor die akademie gaan en ons kon kennis maak met sy sportmanskap en groot hart.

Die Change a Life-liefdadigheidsorganisasie het reeds duisende mense se lewe gehelp verander, maar ek het nooit gedink dit sou my ook op so ’n diep vlak aanraak nie.

Die uithou-atleet Martin Dreyer.

Om lewens te verander

Toe Ursula du Plooy, medestigter en toerleier van Change a Life, my sowat ’n jaar gelede begin vertel het van die verskillende projekte waarin hierdie organisasie sy geld en aandag ploeg, het ek intuïtief geweet hierdie is nie maar net nog een van die vele organisasies wat fietstoere reël onder die vaandel van liefdadigheid nie.

Groot maatskappye se name is aan Change a Life verbind: FNB, RMB, die JSE, Dimension Data, Merchants en vele meer. Deur die jare het ’n verbintenis met hierdie organisasie byna ’n statussimbool geword.

Eugene Beck, uitvoerende hoof van RoadCover, en Ursula du Plooy, toerleier van Change a Life.

Vorige jare is baie luukse Change a Life-padfietstoere regoor die wêreld gehou, met gaste wat vir liefdadigheid getrap het. Die afgelope dekade het die Mike Thomson Change a Life Trust meer as R40 miljoen ingesamel vir die bekamping van misdaad en jeugontwikkelingsprojekte.

Die afgelope vier jaar het Change a Life sy aandag veral toegespits op die ontwikkeling van jong sportsterre in ons land en die Martin Dreyer Change a Life-akademie was een van die begunstigdes.

Dreyer het die akademie in 2008 gestig om te help om die lewe van jong, voorheen benadeelde swart mense te verander. Sy visie was om ’n program te ontwikkel waarin waardevolle lewensvaardighede aan jong mense in KwaZulu-Natal se Dusi-vallei geleer word. Sy droom was om mededingende kajakkers te ontdek en hulle in sportsterre te help ontwikkel.

George Todd, uitvoerende groephoof van Merchants.

Dreyer het in 2007 saam met die jong Thulani Mbanjwa begin oefen en in 2008 was Mbanjwa die eerste swart roeier wat die Dusi gewen het (hy en Dreyer was saam in ’n span). In daardie stadium het hy in ’n afgeleë gebied in die Vallei van Duisend Heuwels gewoon sonder water of elektrisiteit.

Ná die Dusi het Mbanjwa vertel hy gaan met sy wengeld ’n huis vir sy familie bou.

“In die tyd toe ek en Thulani daar in die Dusi-vallei geoefen het, het baie van sy swart vriende saam met ons geoefen. Hulle het verweerde, stukkende kano’s gehad, maar hul talent en wilskrag het my verstom.

“Nadat ons die Dusi gewen het, het ek besluit om terug te gaan na die vallei en nog atlete te vind en te help ontwikkel. Ek het met my tentjie tussen die mense gaan woon en uiteindelik was daar tien entoesiastiese roeiers wat saam met my geoefen het. Dit was die begin van die akademie,” sê Dreyer.

Hy het daardie jaar vir Du Plooy gaan sien met ’n pleidooi om sy atlete finansieel te help en dit was die begin van ’n baie vrugbare werkverhouding tussen Dreyer se akademie en Change a Life.

Die Martin Dreyer-akademie het intussen uitgebrei en spesialiseer nou in hardloop, fietsry en kanovaarte. Vanjaar was die akademie se twee ryers die eerste swart span wat in die Absa Cape Epic geëindig het en 15 van die akademie se roeiers was in die top-30 tydens vanjaar se Dusi-wedvaart.

In 2015 het John Ntuli die Munga-bergfietsmarathon gewen en sedertdien vaar baie van die hardlopers uitnemend by die nasionale Warrior-byeenkomste.

Dis hoe dit lyk as jy onder die water jou fiets trap. Foto:

Die hart van die Laeveld

Baie van die bospaaie daar in Sabie is op private grond en derhalwe ontoeganklik vir Jan Alleman en sy fiets, maar Piet van Zyl, uitvoerende hoof van York Timbers, het uit sy pad gegaan om ons tot in die hart van die bosplantasies en die enkelspoorpaadjies wat dit deurkruis, te laat ry.

Fietse in die bos. Foto:

Jonothan Scott, ’n ou hand met roetebeplanning, het vir die vier dae se roetes gesorg en Jaco van Staden, wat die gebied soos die palm van sy hand ken, het van die roetes help uitlê en bou. Die resultaat was ’n goeie kombinasie van bospaaie, enkelspoorpaadjies en gespesialiseerde “cross country”-roetes wat deur die mooiste dele van ons land loop. Bowenal het ons dikwels na ons asem gesnak by die asemrowende uitkykpunte oor die magtige valleie.

Soggens, nadat ons ’n vyfster-ontbyt by Mbulwa geniet het, het ons teen 09:00 se kant in die pad geval. Die afstande het elke dag gewissel, maar moenie dink dis vir sissies nie.

Sebastian Whelan, hoof van kognitiewe outomatisasie van Old Mutual, het agterna laggend vertel dat hy daardie eerste dag deur al vyf fases van rou gegaan het toe hy besef het hy is heeltemal te onfiks vir die 50 km wat op hom gewag het: van ontkenning, woede, onderhandeling, depressie tot aanvaarding. Alles in goeie gees, darem.

Deurentyd is ons bederf met wonderlike waterpunte en elke middagete is op besondere plekke aangebied. Op die eerste skof was dit by ’n waterval en die volgende dag het ons net duskant die hemel – een van die hoogste punte in die Laeveld – vir middagete gestop.

Smiddae ná elke skof is almal met ’n massering van die moeë spiere bederf. Die bekommernis oor die was van jou fiets of enige meganiese probleme is aan Richard Lee oorgelaat.

Saans het ons vir ’n gourmet-maaltyd aangesit, terwyl daar geëet, gedrink en gelag is oor die dag se avonture.

Daar was wel groot konsternasie aan die einde van die tweede skof, toe ons vier verskillende drywende bruggies moes oorsteek. Ek was een van dié wat my fiets vir ’n swem gevat het en was baie verlig toe ek later hoor ek was nie die enigste slagoffer nie.

Die Change a Life-gemeenskap het al duisende mense gehelp en hul lewe op die een of ander manier verander. Die missie is om hierop voort te bou.

Gedurende die vier dae op my fiets het ek soveel emosies ervaar. Ja, daar was tye toe daardie bulte jou spiere gevreet het, maar dan was die wete dat daar mense is wat baie swaarder as jy kry altyd daar en dat niks in die lewe wat die moeite werd is, sommer net maklik is nie.

Foto:
Elke waterpunt was een groot piekniek. Foto:
By die waterpunte was daar alles en nog wat, van baie gesonde eethappies tot soetgoed wat die suikervlakke mooi opgestoot het.
Dr. Malepule Mseleku, ’n ginekoloog van Johannesburg.
Foto:
Piet van Zyl, uitvoerende hoof van York Timbers.
Een van die vele heerlike piekniekplekke met ’n pragtige uitsig waar daar eers gestop en lafenis gekry is.
Terésa Coetzee en Martin Dreyer se vrou Jeannie laat hulle nie deur ’n bietjie water afskrik nie.
Yvette Roberts, besturende direkteur van Pro Print.
Watwou EPO. By Change a Life kry die ryers kondensmelk-inspuitings om die energievlakke aan te hits.
Mbulwa Estate wat langs die Longtom-pas geleë is. Foto:
Foto:
Foto:
Ursula du Plooy. Foto:

Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Fietsry  |  Reis  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.