Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Verken dié landskap soos pelgrims

Rugsak op die rug en stapstewels aan die voete kan flukse mense nou die Oos-Vrystaat op ’n nuwe manier verken. Die eerste groep stappers het einde verlede jaar die splinternuwe Sungazer-pelgrimstog gestap.

Die Sungazer-staproete neem stappers deur die plaaslandskap van die Oos-Vrystaat.Foto’s: Lientjie Mentz

’n Pelgrimstog is vir elke mens ’n unieke ervaring. Vir sommige is dit ’n geestelike ervaring. Vir ander ’n manier om saam met familie en vriende ’n avontuur aan te pak. Vir almal is dit beslis ’n geleentheid om in die natuur te kom en daardie lui kantoorstoel-spiere te sterk.

Die Sungazer-staproete is die gevolg van Reneé Wolfaardt en Karen Passier van die Paul Roux-bewaararea se geesdrif en passie. Karen het die Camino de Santiago in Spanje gestap, en dit is ’n droom van Reneé waarby sy nog wil uitkom. Die twee vroue wou dié besonderse ervaring ook hier in die Vrystaat aan mense bied. Nie net is dit ’n wonderlike manier om die omgewing te sien nie, dit bied ook nuwe toerismegeleenthede en neem stappers na van die mooiste lodges en gastehuise in die landskap tussen Paul Roux, Rosendal en Fouriesburg.

Daar is vier opsies tot stappers se beskikking – die volroete wat oor 11 dae en 12 nagte strek, ’n korter roete wat vyf dae en ses nagte insluit, ’n fietsryroete wat vyf dae en ses nagte behels, asook ’n naweekroete wat drie nagte en twee dae se stap insluit.

Ons het die naweekroete ge­stap. Dit sluit ’n deel in wat ook op die langer roetes gestap word.

Sandsteenkranse langs die pad op die Sungazer-staproete.

’n Staproete met ’n verskil

Wat dié naweekroete ’n bietjie anders as tradisionele naweekroetes maak, is dat dit drie nagte insluit. Die meeste naweekroetes is korter op die tweede dag om voorsiening te maak vir reistyd huis toe. Op die Sungazer-naweekroete stap mens egter die tweede dag 22,9 km ver.

Die begin

Die naweekroete begin die eerste aand (dit hoef nie noodwendig oor ’n naweek te wees nie) in Paul Roux en ons het in die Dunlin B&B tuisgegaan, waar Caro­lise Appels ’n heerlike aandete in die Pink Tricycle langs die gastehuis voorgesit het.

Die volgende oggend om 06:00 al is ons elk ’n ontbytpakkie in die hand gestop en in ’n minibussie opgelaai. Die rit via Bethlehem het sowat ’n uur geduur en ons het in Slabbert gereed gemaak vir die staptog. Die Slabbert-boereverenigingsaal word op die langer roetes as oornagpunt gebruik en die boerevereniging het spesiaal vir die Sungazer-roete badkamergeriewe laat inrig.

Vir ons was dit die beginpunt. Ons was geseën met ’n perfekte dag om as pioniers dié roete aan te durf. Die plaaspaaie was stil, die veld grasgroen ná onlangse reën en die lug ’n diepblou.

Die eerste dag se stap was 18,9 km ver tot by die Willow­dene-gasteplaas, en glo my, die Oos-Vrystaat is nie plat nie!

Braaivleis en heerlike slaaie was die aandete by die Uitzicht-gasteplaas op die laaste aand van die staproete.

Eet lekker

Die meeste staproetes is óf roetes waar jy alles wat jy nodig het self dra, of die nuwer “slack­packing”-roetes waar jy net jou middagete en drinkgoed dra; jou bagasie word aangery. Die Sungazer is iets tussenin omdat jy jou eie klere, middagetes vir twee dae en drinkgoed vir die dag moet dra, maar aandetes en ontbyt is ingesluit in die prys.

By Willowdene moes ons net ons aandete self in die oond opwarm en daar was drinkgoed teen billike pryse te koop. Die pragtige sandsteenhuis was vir dié aand ons private tuiste.

Laaste opdraand

Ek was bekommerd dat daar baie verkeer op die grondpaaie sou wees, maar daar is nie so baie plase in die omgewing waar ons gestap het nie en regtig min voertuie. Ons het lekker loop en gesels en dikwels gestop vir foto’s.

Die laaste dag was nogal ’n stewige ent pad en veral die opdraand van die S199 tot bo by die Uitzicht-wildplaas was nogal taai. Moet vir geen oomblik dink die roete is maklik net omdat dit nie bergpaadjies volg nie!

By Uitzicht is ons bederf met ’n heerlike braaipakkie en slaaie. Ons kon die vleis in die gerieflike binnebraai gaarmaak terwyl ons die pragtige sonsondergang van doer bo oor die omgewing by Fouriesburg kon geniet.

Ná ontbyt die volgende oggend, het die wit minibus ons weer kom oplaai en teruggeneem na waar ons voertuie veilig by Dunlin geparkeer was.

Dis nie jou tradisionele stap-akkommodasie nie! Stappers slaap gerieflik en eet heerlik voorbereide kos op dié roete.

Sungazer-paspoort

Byna ons hele groep, behalwe die twee kinders, het taamlik onlangs ’n deel van die Camino de Santiago in Spanje gestap en ons ken dus die pelgrimtradisies. Reneé en Karen het iets van die tradisies by die Sungazer ingesluit soos ’n paspoort wat stappers saamdra en by die verskillende oornagpunte laat stempel.

Die ouvolk

Die roete se naam kom van die ouvolk wat in dié omgewing voorkom. Die Smaug giganteus is skubberige koggelmanders wat van insekte leef en nie soos ander reptiele eiers lê nie, maar geboorte aan hul kleintjies gee.

Reneé en Karen hoop om met dié roete ’n bewustheid oor hierdie inheemse reptiele te skep.

Meer oor:  Oos-Vrystaat  |  Staproete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.