Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Verken wynstreek in ’n zebrabussie

Daar is min dinge so lekker soos om ’n plek te verken sonder dat jy self agter die stuurwiel hoef te sit. Nou kan jy die Robertsonvallei verken deur op die Wine Valley Safari se 4x4-safarivoertuig te spring sonder om twee keer te dink oor daardie tweede glas wyn, skryf Denique Smith.

Hop op die Wine Valley Safari se 4x4-safarivoertuig om die Robertson-vallei in safaristyl te verken. Foto: Denique Smith

Franschhoek het ’n wyntrem wat jou neem na verskeie landgoedere al langs die Franschhoek- en die Stellenbosch-wynroete. Die Robertsonvallei doen iets soortgelyks, maar op ’n 4x4 – safaristyl!

Die Wine Valley Safari is verlede jaar bekend gestel, en beslis ’n aktiwiteit vir die hele gesin om Robertson, McGregor, Ashton en Bonnievale op ’n buitengewone manier te verken.

Dié vallei het talle wynkelders waar jy van die beste wynmakers se handewerk kan proe. En as wynproe nie genoeg is nie, kom smul dan aan al die olywe hier. Jy kan ook kyk hoe laventelolie gemaak word en met ’n bootrit op die Breërivier jou verkyk aan die omgewing.

Met my aankoms in Robertson het die 22-sitplek-safari-trokkie, met sy sebrastreep-kajuit, reeds gereed gestaan voor die toerismekantoor in Reizstraat. Die bestuurder en toergids, Andy Kama, maak jou padlangs wys oor die vallei en sorg dat jy sorgloos agteroor kan sit en die rit geniet.

  • Meer inligting: Doen die Wine Appreciation-toer as jy op die bootrit wil gaan. Die bootrit gaan gepaard met ’n piekniekstyl middagete. Dié toer vind op Maandae, Dinsdae en Woensdae plaas. Skakel 081 740 0145 of stuur ’n e-pos na info@winevalleysafari.com om jou plek te bespreek.
Andy Kama, bestuurder en toergids by Wine Valley Safari. Foto: Jared Ruttenberg

Olyf jou hier, olyf jou daar

By Marbrin, ’n bekroonde olyfplaas, word jy verwelkom deur die eienaar, Clive Coetzee, wat baie passievol is oor olywe. Hy neem jou op ’n olyfreis waar jy olywe, olyfolies (geure soos dille, vinkel en brandrissie is heerlik!), balsemasyne en tapenades met verskillende geure proe. Al dié lekkernye word geniet saam met tuisgemaakte brood wat Clive self gebak het.

Die olyfseisoen is van Maart tot Julie, maar jy kan enige tyd hier ’n draai maak om te sien hoe die olyfolie geproduseer word.

Marbrin is tans een van Suid-Afrika se toptien olyfolieprodusente en word beskou as die nommer-een-doending op Trip Advisor in die Robertson-omgewing.

Jy kan ook by die Owl’s Rest-olyf-en-laventelplaas, in die Klaasvoogds-distrik net buite Robertson, aanklop vir heerlike olywe. Hier kry jy ook ’n unieke begeleide toer (R75) deur die plaas waar jy kan sien hoe laventelolies en velsorgprodukte van laventel versigtig gedistilleer en geproduseer word. Probeer gerus hul tuisgemaakte laventelmuffins, olyfolie en vrugtestroop.

  • Meer inligting: Marbrin is in die Klaasvoogds-distrik ongeveer 14 km buite Robertson (in Ashton se rigting). Vir besprekings besoek hul webtuiste by marbrin.co.za of skakel 073 840 8228 of 078 916 3606 vir meer inligting. Vir besprekings by Owl’s Rest skakel 082 497 9329 of besoek www.owlsrest.co.za.
Die toere
Daar is drie roetes wat besoekers kan volg: die Wine Appreciation-toer wat Maandae, Dinsdae en Woensdae beskikbaar is en ongeveer 8 uur duur; die McGregor Village-toer wat elke Donderdag aangebied word en ook sowat 8 uur lank is; en die Freestyle Wine Valley Safari Hop-On Hop-Off wat elke Vrydag en Saterdag beskikbaar is en sowat 3,5 uur duur. Die pryse wissel van R180 tot R350 per persoon. Daar is ook spesiale pakkettoere wat Wine Valley Safari aanbied. Besoek www.winevalleysafari.com vir meer inligting of skakel 081 740 0145 om te bespreek.

Vul jou maag ná ’n lang dag

Ná ’n lang dag van wynproe en olywe eet, is dit net reg dat jy die dag behoorlik afsluit met ’n geurige bord kos. Net buite Robertson by Klaasvoogds-Wes, ’n gebied noord van die R60 tussen Robertson en Ashton, is Restaurant Succulent. Hier sal die sjef Werner Snoek jou aan tandoori- hoender, gerookte eendborsie, donkersjokolade-torte en ander heerlike disse laat smul. Die restaurant is die eerste in sy soort aan die voet van die Langeberg en bied ’n rustige eetervaring.

  • Meer inligting: Die restaurant is oop vir ontbyt van Woensdae tot Sondae vanaf 08:00 tot 10:00; vir middagete Vrydae tot Sondae vanaf 12:00 tot 14:00; en aandete op Woensdae tot Sondae vanaf 18:00 tot 22:30. Skakel 023 626 4134 om plek te bespreek.
Dié uitsig oor die Pat Busch-natuurreservaat vanuit die selfsorgtent by AfriCamps Robertson is iets om te beleef. Foto: Verskaf

Kampeer in styl

Is jy lus vir ’n goeie nagrus in die buitelug én in styl? Dan is AfriCamps die plek om te wees. Dié byderwetse selfsorgtente is in die Pat Busch-natuurreservaat en is sowat 17 km noordoos van Robertson op die Klaasvoogds-Wes-pad.

By Restaurant Succulent het jy ’n uitsig oor die vetplant-tuin wat honderde vetplante, kaktusse ingesluit, van Suid-Afrika bevat. Foto: Denique Smith

Elke tent is toegerus met twee aparte slaapplekke (slaapplek vir tot vyf mense) en het ’n groot dek met ’n tafel, dekstoele en ’n braai – met ’n uitsig oor die reservaat. Dis ook toegerus met ’n kombuis, badkamer, dagbed en binnenshuise houtstoof vir gesellige winteraande (die beddens het ook elektriese komberse).

Vir snikheet somerdae is hier lugverkoeling.

As jy die omgewing wil verken, kom stap dan op een (of almal) van die drie staproetes.

In die tentekamp kan jy ook op die plaasdam roei of, as die weer dit toelaat, op die grasperk jou eie piekniek hou.

  • Meer inligting: Koste beloop R1 140 per nag vir twee mense, R200 per ekstra persoon, R100 per ekstra kind. Wanneer jy jou bespreking maak, kan jy ook vra vir ’n ontbytmandjie wat by jou tent afgelewer word. Dit sluit in muesli, jogurt, vars eiers, spek, brood, vrugtesap, koffie, vrugte, kaas, botter, konfyt en beskuit. Skakel 063 170 4222 vir meer inligting of besoek www.africamps.com.
By Owl’s Rest kan jy onder ’n sambreel ’n heerlike koffie met ’n laventel-muffin geniet. Foto: Denique Smith
Loer in by Owl’s Rest-olyf-en-laventelplaas vir heerlike olywe en laventelolies. Foto: Denique Smith
Clive Coetzee se olyfplaas, Marbrin, is ’n gewilde trekpleister onder inwoners en toeriste. Hier kan jy verskillende olywe en olyfolies proe. Foto: Jared Ruttenberg
Die sjef Werner Snoek, eienaar van Restaurant Succulent, berei een van sy heerlike disse vir die gaste voor. Foto: Jared Ruttenberg

Blyplek

Kontak McGregor Country Get­aways vir jou wegbreeknaweek of vakansie in die Robertsonvallei. Van blyplek in selfsorgkothuise en -huise tot gastehuise in McGregor, Bonnievale en Robertson is beskikbaar.

Meer inligting: 023 625 1409 | info@mcgregor-accommodation.co.za

Feeste in die omgewing

Die Robertson Slow-wynfees vind van 9 tot 11 Augustus plaas. Deelnemende restaurante en wynplase bied verskeie intieme kos- en wyngeleenthede aan, terwyl daar op die laaste dag van 10:00 tot 14:00 ’n boeremark op die plaas Klipdrift gehou word. Besoek robertsonslow.com vir meer inligting.

Wine On The River word oor die naweek van 11 Oktober op die plaas Goudmyn gehou. Meer as 250 wyne van 30 produsente is beskikbaar om te proe. Daar is ook kosstalletjies, musiek, vermaak vir die kinders en bootritte. Besoek wineontheriver.com.

Die McGregor-Poësiefees is in 2013 vir die eerste keer gehou en is ’n móét vir liefhebbers van dié kunsvorm. Dit vind vanjaar van 23 tot 25 Augustus plaas. Vir meer besoek mcgregorpoetryfestival.co.za.

  • Besoek die Vrolijkheid-natuurreservaat, wat 15 km suid van Robertson en 7 km van McGregor langs die McGregorpad is.

Hier is drie staproetes om van te kies:

Die Heron-roete

Afstand: 3 km

Graad: Maklik

Roete: Die roete is redelik plat en neem jou na twee damme in die reservaat. Daar is twee voëlskuilings by die boonste dam en een by die laer dam.

Die Rooikat-roete

Afstand: 19 km

Graad: Veeleisend

Roete: Die sirkelroete neem jou deur die Elandsberge met ’n uitsig oor Robertson, die Langeberge en Riviersonderendberge. Dit sal jou ongeveer agt uur neem om te voltooi. Daar is geen water langs die roete nie, so neem jou eie saam (2 liter of meer per persoon).

Die braille-roete

Dié roete is relatief nuut en is vir gesiggestremde besoekers wat die eerste paar kilometer van die Heron-roete volg. Dit bring jou tot by die eerste voëlskuiling en terug. Borde met interessante inligting in braille is langs die roete aangebring.

  • Gooi dikwielspore!

Die reservaat het ook ’n bergfietsroete van 8 km wat jou deur die reservaat neem. Dit sal jou ongeveer ’n uur neem om te ry. Neem kennis, dis baie warm in November tot Maart. As jy hier kom stap of fietsry (in die warm maande), begin liefs vroegoggend en vermy dit om op die warmste tyd van die dag te begin.

Permitte vir stappers kan by die reservaat se ingang gekry word.

Meer inligting: 023 625 1621 (navrae) | 021 483 0190 (besprekings) | capenature.co.za

  • Die liewe ou donkie

Eseltjiesrus, ’n geregistreerde liefdadigheidsorganisasie, is sowat 5 km buite McGregor. Dié toevlugsoord vir afgeleefde donkies wat uit haglike toestande gered is, kan jy van Donderdae tot Sondae vanaf 10:00 tot 16:00 besoek.

Meer inligting: 023 625 1593 | info@donkeysanctuary.co.za

Meer oor:  Buite  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.