Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Versorging van seelewe

Daar is 9 000 diere in die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad en die mense wat hier werk, weet wat elkeen se behoeftes en giere is. Van Teddy, die 25-jarige pikkewyn, tot Bob, die groenskilpad wat breinskade het. Maar wat gebeur agter die skerms in dié reuse-onderneming? Elsabé Brits het ’n dag lank daar gaan kuier.

Simon Lee, saam met Bob, een van die ouer groenseeskilpaaie wat by die Twee Oseane-akwarium is vir langtermyn-rehabilitasie. Bob het breinskade opgedoen – dit het drie maande se sorg geneem voordat hy uiteindelik al die plastiek kon uitskei, onder meer stukke ballon. Foto: Elsabé Brits

’n Klomp geelkuifpikkewyne wat by die trappe opspring, baie kostelik, begroet jou vroegoggend agter die skerms in die Twee Oseane-akwarium.

Dié wat nie juis lus is om die trappe op te spring nie word gedra.

Nadat hulle gevoer is, is hulle op pad van hul slaapplek na die akwarium se seewierwoud, waar hulle tot 14:00 moet bly.

Volgens Shanet Rutgers moet hulle ses tot agt uur se oefening per dag inkry om gesond te bly.

Maar Grommit is nie vandag lus vir swem nie en bly alleen agter op die binnenshuise “strand” waar hulle oornag.

Dié bedreigde geelkuifpikkewyne kom op die eiland Tristan da Cunha voor en almal wat nou hier bly, is langs die Suid-Afrikaanse kus gevind – van skepe oorboord gegooi.

Want nie een van hulle swem ooit tot hier nie. Hulle word aangehou as “troeteldiere” op skepe en die verhale is onmenslik wreed.

Krish Lewis in die laboratorium in die Twee Oseane-akwarium met jellievisse wat hy groei. Foto: Elsabé Brits

Renée Leeuwner, kommunikasiebestuurder, sê die jongste een wat gevind is, is ’n kuiken van 11 maande oud en Teddy (25) is die oudste.

Hulle kan egter nooit weer terugkeer na hul eilandtuiste nie, omdat hulle te gewoond is aan mense en dalk siektes na die kolonie kan terugneem.

Lank voordat die akwarium soggens sy deure open, is die 80 permanente werkers en 40 vrywilligers reeds op hul pos. Hulle maak skoon, ruil ligte om en verf hier en daar sodat die uitstallings mooi is.

’n Span is reeds op soek na ’n rob in die Kaapstad-hawe nadat hulle berig ontvang het dat hy ’n hoek en vislyn in sy mond het. “Die see is mos ’n asblik,” sê een van die mense wat hier werk. Alles beland daarin. Hulle het ook al ’n dooie selakant met ’n tjips-pakkie in sy maag gekry.

Tersia Greenstone is op pad om Okkie, die seekat, te voer. Twee sardyne en ’n vet garnaal. Gister was dit witmossels.

“Elke seekat het sy eie persoonlikheid.”

Shanet Rutgers besig om die geelkuifpikkewyne te voer. Foto: Elsabé Brits

Hy weet sy kos kom en loer vanuit sy wegkruipplek toe sy die deksel oopmaak. Die oomblik toe sy haar hand in die water steek, reik hy uit met sy pote.

Dit krul om haar arm. Sy vryf hom, streel oor sy lyf terwyl sy hom voer. Hulle laat die seekatte elke drie maande weer vry. Greenstone sê baie van die visse wat hier is, hou ook daarvan om gestreel te word.

Op met die trappe in die gebou, sien jy die oop bokant van die groot tenks. Dit gee jou ’n ander blik op wat jy deur die dik glas besigtig. Daar is ook die veearts se spreekkamer, X-strale word geneem, medikasie en kos word berei.

’n Ent verder is ’n kwarantyngebied waar ’n groenseeskilpad behandel word wat nog ernstig siek is weens plastiek wat sy ingekry het.

Sy moet met ’n buis gevoer word, omdat sy nog nie self kan eet nie. Die meeste van die skilpaaie is óf beseer en/óf het plastiek in hul mae.

Baie klein karetskilpaaie spoel ook uit tydens die broeiseisoen. Hulle word gered omdat te min van hulle volwassenheid bereik. Dié akwarium het ’n groot en suksesvolle redding-en-rehabilitasieprogram vir seeskilpaaie, wat dan weer vrygelaat word. Vanjaar is 225 gered en 35 herstel nog. Elkeen swem in sy eie klein area.

Ayrton King met een van die Westelike Luiperdskurwepaddas. Foto: Elsabé Brits

Twee keer per dag moet elkeen kos gelykstaande aan tussen 5% en 10% van sy liggaamsgewig gevoer word, sê Talitha Noble van die rehabilitasiesentrum.

Die water word met ultraviolet en filters gesteriliseer en daar word glad nie met kaal hande aan die kleintjies gevat nie.

Bob en Alvi, albei ouer groenseeskilpaaie, is hier vir langtermyn-rehabilitasie. Bob het breinskade opgedoen – dit het drie maande se sorg geneem voordat hy uiteindelik al die plastiek kon uitskei, onder meer stukke ballon. Die probleem is dat skilpaaie nie geopereer kan word om die stukkies uit die spysverteringskanaal te haal sonder om die dop te beskadig nie.

Soos eendjies in ’n ry stap die geelkuifpikkewyne elke dag van en na die plek waar hulle bly en swem. Foto: Elsabé Brits

Alvi is blind in sy een oog. ’n Groot stuk plastiek wat in sy keel vasgesit het, is deur ’n veearts in ’n moeilike operasie verwyder.

Die duiker Simon Lee gaan haal Bob en Alvi een-een uit die groot tenk om te kom eet. Weg van mense in ’n kleiner swemarea.

Vandag is soetrissies op die spyskaart. Dit is baie soos die natuurlike seeslaai wat hulle eet. Hulle kry ook wortels, ertjies, broccoli en ander groente wat dieselfde voedingswaarde as hul natuurlike kos het.

“Hulle het baie spesifieke bakterieë in die spysverteringskanaal wat gesond gehou moet word,” sê Lee.

Bob gebruik sy vinpote om die soetrissie mee vas te hou en te eet. Alvi is nie vandag lus vir eet nie en hulle laat hom begaan.

Bob, sê hulle, is lieftallig en hou daarvan om gestreel te word. Wanneer jy kom kielie, swaai hy sy lyf. Maar Alvi en hy moet liefs apart eet, want dié kan geniepsig wees. “Soos ons het hulle ook buie,” sê Lee.

Binnekort gaan hy en Ayrton King die visse voer, terwyl die besoekers kyk en luister. Danksy spesiale toerusting kan Lee onder die water met hulle praat.

Opvoedkunde is ’n groot deel van die akwarium, sê Leeuwner. Skole kom ook hierheen vir spesiale werksessies.

Krish Lewis se laboratorium is af met die trappe in die kronkelgange waar hy korale asook jellievisse teel. Hoewel jellievisse seksueel kan voortplant, kan jy hulle ook kloon, sê hy.

“Hulle is soos die kakkerlakke van die oseaan, daar sal altyd van hulle wees,” sê Lewis. Uit ’n poliep van ’n jellievis, wat soos ’n klein anemoon is, kan jy ’n jellievis kweek, solank hy net die regte voedingstowwe kry.

Indien ’n poliep nie kos kry nie, of dit te warm is, word hy ’n “rofie” en dan kan hy 20 jaar of langer net so bly totdat die omstandighede weer gunstig is sodat hy verder kan groei.

Simon Lee en Ayrton King, twee duikers by die Twee Oseane-akwarium, maak gereed om te duik en die visse te voer. Foto: Elsabé Brits

Die onsterflike tipes jellievisse kan ook weer in poliepe verander wanneer hulle seerkry, en hulself begin kloon. Lewis kweek die jellievisse vir die uitstallings en vir dié jellievisse wat ander eet.

Maryke Masson, die kurator van die akwarium, is aan die stuur van sake. Sy sê hulle het 250 spesies en net twee daarvan kom nie van ons twee oseane nie: Die harlekynvisse – van die rolprent Finding Nemo, omdat die kinders hulle wil sien. En die groot Japanse krappe.

“Hierdie is die beste hotel vir visse. Want in die see word hulle heeltyd gejag of hulle jag iets anders. Ons wil vir geen spesies stres veroorsaak nie.

“Daarom gaan baie navorsing oor wie kan by wat gaan, wat werk en wat nie,” sê sy.

Die omgewing word ook verryk. Geen dier moet stres ervaar of verveeld wees nie.

Alle spesies wat te groot raak, gaan terug see toe. Elke drie tot vyf jaar word die haaie vrygelaat. Maar daar is dié wat moet bly, soos Rita die Tobie wat by die brilpikkewyne is. Sy is hier uitgebroei, en dit is haar tuiste, sy sal nie elders kan oorleef nie.

Die akwarium gebruik tussen 6 en 7 miljoen liter water en 10% daarvan word elke dag vervang. Sowat 1,2 ton kos word per maand gebruik. Die kwaliteit word elke dag getoets.

“Die idee is om mense te inspireer dat hulle ook die see wil behou soos dit is. Die akwarium is ’n venster op die see, op dit wat jy nie aldag kan sien nie.

“Daar is ’n verband tussen die see en die land – alles is een,” sê Masson.

  • Brits is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Twee Oseane-Akwarium  |  Kaapstad  |  Seelewe  |  Versorging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.