Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Vlieghengel: Leer by die meester

Henkie Altena het van kleins af graag saam met sy pa, Henk, in die see gaan visvang. Hy het op Beaufort-Wes grootgeword en die naaste see was in die Tuinroete. 25 jaar gelede het ’n T-hemp met die woorde “Fishing is Life” sy hengelbelangstelling in ’n ander rigting gestuur, vertel Tisha Steyn.

"Ek het in ’n winkel op Beaufort-Wes gestaan toe ’n man my uit die bloute nader en vra of ek in vlieghengel belang stel. Ek was totaal uit die veld geslaan toe hy al sy vlieghengeltoerusting vir my aanbied.”

Bennett Murray het al sy vlieghengeltoerusting – ’n stok, katrol, lyn en ’n boks vol soutwatervlieë – vir Henkie gegee.

Henkie Altena met ’n bul van ’n gespikkelde knorhaan wat by Karoolskraal met ’n vlieg gevang is. Foto: Kyle Reed

’n Kosbare present

“Só het my vlieghengel met ’n present begin,” vertel hy. “Dit was nog voor YouTube, en ek het boeke oor die onderwerp gekoop en op die laerskool se rugbyveld begin leer lyngooi.”

Dis nogal ’n moeilike tegniek om aan te leer: “Dit gaan oor balans tussen die stok, lyn en katrol.” Anders as by gewone hengel met ’n hoek, sinker en aas, is die vlieg feitlik gewigloos.

“Die tegniek om die lyn te gooi kom neer op ’n verplasing van kinetiese energie wat van jou arm na die stok en die lyn oorgedra word,” verduidelik hy.

Henkie gooi die lyn behendig in die Breederivier. Foto: Kyle Reed

Flous die vis

Waar jy die vis gaan soek, verskil van vis tot vis. “Die visse waarop ons fokus, jag op ’n spesifieke plek en manier, en jy moet jou vis én jou gooi ken.”

Die gespikkelde knorhaan, byvoorbeeld, wat in strandmere en riviermondings voorkom, maak jag op modderkrewels wat in modderbanke woon. Die vis staan op sy kop en blaas met sy bek water in die krewel se gat sodat die krewel uitskiet, en dan word hy ’n maaltyd.

“Om ’n knorhaan te vang het jy ’n nr. 7, 8 of 9 stok met bypassende katrol en dryflyn nodig. Die vlieg moet ’n modderkrewel naboots. Jy gooi die dryflyn waar jy weet die knorhaan jag, en dan trek jy die lyn baie, baie stadig in om die tipiese beweging van die modderkrewel na te boots.”

Dit kos vernuf en geduld om ’n vlieg te bind. Henkie gebruik sterk sintetiese gare, ’n hoek van vlekvrye staal en sintetiese materiaal omdat dit duursamer is.

“Die doel van die vlieg in ’n natuurlike kleur is om te lyk soos ’n seediertjie wat vir ’n vis soos sy gunstelingbrekfis lyk.”

Die Karoolskraal-vlieghengelkamp op die plaas Rhenosterfontein, Witsand. Foto: Kyle Reed

Nog ’n toevallige ontmoeting

In 2003 het Henkie Fly Dot Fish geskep, wat hengeltoere in Suider-Afrika onderneem het. Drie jaar gelede het hy en Victor Ives, Fly Dot Fish se sjef, op Witsand vir ’n groep kliënte van die vlieghengelwebtuise Fly Talk kos gemaak. Attie Gunter, eienaar van die plaas Rhenosterfontein langs die Breederivier, het die groep genooi om daar te kom braai.

“Ons het die braai op Karoolskraal gedoen, en toe ek die plek die eerste keer sien, het ek vir Vic gesê ons moet hier ’n vlieghengelkamp maak.”

’n Jaar later het Henkie met Attie daaroor gepraat, wat ingestem het om in vennootskap met Fly Dot Fish te gaan. En só het die eksklusiewe Karoolskraal-vlieghengelkamp op die oewer van die Breederivier op private grond sowat 7 km vanaf Witsand tot stand gekom.

Die kampeerplek is ideaal vir soutwatervlieghengel, want soutwater stoot van die riviermonding by Witsand af op tot verby Karoolskraal. In die breë, stilvloeiende rivier kom naas knorhaan ook kabeljou en leervis (garrick) voor.

En met ’n gesoute vlieghengelaar aan jou sy wat jou help om jou tegniek te verfyn, kan jy al drie binne 24 uur vang en vrylaat.

Henkie nooi ook altyd een of meer bekende vlieghengelmeester om saam te kampeer en hul kundigheid te deel.

Dit is mense soos MC Coetzer, afrigter van die Protea-vlieghengelspan, Philip Meyer, voormalige lid van die span en Suid-Afrikaanse kampioen-vliegbinder, Conrad Botes, waarskynlik die land se beste kabeljou-vlieghengelaar, en Jannie Visser, wat op sy beurt ’n spesialis-knorhaan-vlieghengelaar is.

Die vis wat gevang word, word weer vrygelaat. Foto: Kyle Reed

Kampkuier

Die Karoolskraal-vlieghengelkamp is in ’n vallei tussen twee heuwels en word met ’n grondpad bereik.

Om die laaste 200 m aan te durf het jy ’n voertuig met ’n redelike grondvryhoogte nodig, anders kan Henkie jou met die bakkie by ’n veilige parkeerplek gaan haal.

Die kamp, wat 100 m vanaf die rivieroewer af is, bestaan uit ses boogtente wat elk met ’n opslaanbed en matras toegerus is – jy moet jou eie beddegoed (’n slaapsak sal werk), handdoeke, drinkgoed en vlieghengelgerei saambring.

“As ’n paartjie ’n tent wil deel, gebruik ons die ander tent vir hul bagasie,” verduidelik Henkie.

“Drie maal per dag word propperse kos in ’n toegeruste kombuistent deur Karoolskraal se sjef, Bjorn Losper, voorberei en in die eettent by ’n regte tafel in regte breekware voorgesit.”

Daar is ekotoilette en warmwaterstorte.

Besoekers het ook toegang tot ’n afsonderlike kampvuur-kuier­area. Daar is geen elektrisiteit nie en net beperkte selfoonontvangs.

Vlieghengelaars wat darem ’n idee het waaroor dit gaan, sal baie baat vind by die ervaring wat Henkie tot hul beskikking stel sonder enige ekstra koste.

“Ek help hulle om hul tegniek te verbeter, en indien hulle belang stel, hoe om vlieë te bind.”

Volgens Henkie is daar groeiende belangstelling van mans en vroue van alle ouderdomme in die sport.

Die meeste besoekers kom van Kaapstad, wat drie uur se reis vanaf Karoolskraal is, terwyl die res dikwels varswater-vlieghengelaars is wat uit die binneland na George vlieg, ’n motor huur en binne drie uur by die kampplek is.

’n Minimum van drie mense en ’n maksimum van ses word toegelaat sodat elkeen persoonlike aandag kan geniet. Die kampe word twee maal per maand aangebied, en die datums is op die webblad beskikbaar.

Die koste beloop R1 200 per persoon per nag, wat drie maaltye per dag en die kundigheid van die meester-vlieghengelaars insluit.

  • Hoe kom jy daar? Omdat Karoolskraal op private grond geleë is, is dit nie toeganklik vir almal nie. “Wanneer jy plek bespreek, sal ons vir jou presies beduie hoe om hier te kom,” sê Henkie.
  • Meer inligting: Besoek die webtuiste by www.flydotfish.com of kontak Henkie Altena by henkie@flydotfish.com of 082 782 4452.
Meer oor:  Vlieghengel  |  Henkie Altena  |  Beaufort-Wes  |  Visvang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.