Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Voëls wat ons verenig

Toe James Gradwell sy honde vir ’n stappie neem op ’n suikerplantasie in Zoeloeland, KwaZulu-Natal, en ’n vreemde motor gewaar, was hy op sy hoede.

“Ek het die motor genader en die bestuurder, Sithembiso “Blessing” Majoka, het my gegroet met ’n groot glimlag en nog ’n groter kameralens!

Foto: iStock

“Hy was al die tyd besig om namakwaduifies af te neem,” vertel Gradwell.

Majoka, ’n veldgids en fotograaf by die Ethekwini-munisipaliteit, en Gradwell, ook ’n fotograaf, het nommers uitgeruil, vriende geword en ’n paar keer ná hul ontmoeting saamgekuier.

Toe Gradwell sowat ’n maand gelede ’n Natallyster gewaar, het hy vir Majoka – ’n bekende in KwaZulu-Natal se bewarings- en voëlkykergemeenskap – dadelik laat weet. Majoka en ’n groep van sy voëlkykervriende het gehaas om die lifer te kan kiek.

Verlede maand het die twee vriende saam ’n Zoeloeland-voëlkykdag aangepak en meer as 50 voëls op een dag gesien – onder meer ’n groenkolpensie, ’n watertrapper, ’n witaasvoël, ’n swartkatakoeroe en ’n manglietvisvanger.

“Dankie, Blessing, dat jy my belangstelling in voëls weer aangewakker het,” skryf Gradwell op Birdlife South Africa se Facebook-blad, waar hy foto’s van hul dag deel.

Ek het terloops vandeesweek van Gradwell en Majoka op Facebook gelees.

My gedagtes het dadelik gespring na die Amy Cooper en Christian Cooper-voorval (geen verwantskap) in Central Park, New York, vroeër vanjaar.

James Gradwell

Dis twee stories met soveel ooreenkomste – twee swart voëlkykers en twee wit mense wat besig is om met hul honde te stap.

Suid-Afrika en Amerika word ook albei gekwel deur rassespanning en enige geskil het die potensiaal om bitter gou in ’n rasseherrie te ontaard.

Indien jy die Central Park-broehaha gemis het, volg hier ’n kort opsomming.

Christian Cooper, ’n wetenskapskrywer, lid van die Audubon-direksie en ’n swart voëlkyker, was vroeg in Mei besig om voëls te kyk in die Ramble, ’n gedeelte van New York se bekende Central Park waar honde ten alle tye op leibande moet wees.

Dis ’n broeiplek vir skaars trekvoëls wat uiteraard deur weerbarstige honde versteur sal word. Sy paaie het gekruis met die van Amy Cooper, ’n wit New Yorker wat besig was om met haar spanjoel te stap. Die hond was egter nie aan ’n leiband vasgemaak, soos die parkreëls vereis, nie.

Sithembiso “Blessing” Majoka

Toe Christian haar vra om haar hond aan ’n leiband te sit, het sy hom beskuldig dat hy haar probeer intimideer. Hy het die voorval op sy selfoon opgeneem, waarna sy gedreig het om die 911-noodnommer te skakel.

“Ek gaan hulle vertel ’n swart man is besig om my af te neem en my lewe te bedreig,” skree sy vir hom in die video.

Amy is summier afgedank en strafregtelike vervolging staar haar in die gesig vir dwarsboming van die gereg. Die voorval het ook lig gewerp op die vooroordele en uitdagings waarmee swart voëlkykers dikwels te doen kry.

“Organisasies soos Birdlife SA en die Birdlife Port Natal-voëlkykklub is wel oorwegend wit,” sê Majoka. “Maar hulle werk ontsettend hard en gaan uit hul pad uit om swart voëlkykers ook in te sluit en ons te ondersteun.

“Ekself is ’n sprekende voorbeeld daarvan. Ek het al so baie ondersteuning by my wit mede-voëlkykers ontvang. Bygesê, daar is steeds baie uitdagings vir swart voëlkykers – toerusting, boeke, voëlkyk-apps en reis bly duur onkostes. As jy tussen dit moet kies en om kos op die tafel te sit vir jou gesin . . .

“Gelukkig verstaan my gesin darem my liefde vir voëls!”

Die Suid-Afrikaanse weergawe het ’n veel beter uitkoms gehad.

Carla Lewis

Gradwell en Majoka kyk nou saam voëls, leer meer by mekaar oor fotografie en die natuur, en het heerlike avonture waar hulle op soek is na hul volgende lifer. ’n Diep gedeelde liefde vir die natuur, fotografie en Suid-Afrika het hulle genoop om ooreenkomste, nie verskille nie, raak te sien.

Twee soortgelyke scenario’s, twee uiteenlopende uitkomste.

En dis iets wat my tans hoop gee vir ons land.

Birdlife South Africa het meer as 200 gemeenskapsvoëlgidse opgelei wat nou geen inkomste as gevolg van die inperking kan verdien nie.

Die gidse is afhanklik van plaaslike en internasionale ekotoeriste en daar word verwag dat dit nog lank gaan wees voordat die Suider-Afrikaanse toerismebedryf uit sy floutes gelig gaan word. As daar nie toeriste is nie, verdien die gidse nie ’n inkomste nie.

Birdlife SA het ’n Covid-19-hulpfonds van stapel gestuur om verligting te bied vir die gidse wat tans nie kan werk nie.

Die fonds word deur Birdlife SA administreer en begunstigdes kan deur die organisasie aansoek doen vir finansiële bystand. Besoek www.birdlife.org.za/birdlife-guide-relief-fund/ vir meer inligting.

Help 'n voëlgids

Birdlife South Africa het meer as 200 gemeenskapsvoëlgidse opgelei wat nou geen inkomste as gevolg van die inperking kan verdien nie.

Die gidse is afhanklik van plaaslike en internasionale ekotoeriste en daar word verwag dat dit nog lank gaan wees voordat die Suider-Afrikaanse toerismebedryf uit sy floutes gelig gaan word. As daar nie toeriste is nie, verdien die gidse nie ’n inkomste nie.

Birdlife SA het ’n Covid-19-hulpfonds van stapel gestuur om verligting te bied vir die gidse wat tans nie kan werk nie.

Die fonds word deur Birdlife SA administreer en begunstigdes kan deur die organisasie aansoek doen vir finansiële bystand. Besoek www.birdlife.org.za/birdlife-guide-relief-fund/ vir meer inligting.

Meer oor:  Buite  |  Birdlife  |  Voëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.