Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Vrywilligers help walvisse die knoop deurhak

Die migrerende walvisse langs die kus van Suid-Afrika blyk in getalle aan die groei te wees, maar daarmee saam ook die aantal voorvalle waarin dié diere in vissersnette en toue verstrengel raak. Lourens Schoeman het met Michael Meyer van die South African Whale Disentanglement Network (SAWDN) hieroor gesels.

Die mense van die SAWDN help ‘n verstrengelde walvis in Tafelbaai.Foto: VERSKAF

Teen die tyd toe Suid-Afrika in 1979 die kommersiële vangs van walvisse verbied het, was daar na raming slegs 300 tot 600 boggelrugwalvisse in Suid-Afrikaanse waters oor.

’n Onlangse opname deur Chris Wilkinson en navorsers van die Universiteit van Pretoria se soogdier-navorsingsinstituut dui daarop dat dié getalle oor die afgelope 40 jaar met tot soveel as 100 keer vermenigvuldig het. Wilkinson en sy span het die walvisse getel wat verby ’n uitkykpunt by Cape Vidal aan die kus van KwaZulu-Natal geswem het op hulle jaarlikse migrasieroete na hul teelaarde in Mosambiek. Die verstommende afleiding wat hulle gemaak het, is dat daar meer as 30 000 walvisse in die westelike deel van die Indiese oseaan teen die kus van Afrika is.

Weeklikse koerantopskrifte

Dit is heuglike nuus vir omgewingsbewustes, maar ongelukkig gaan dit ook gepaard met byna weeklikse koerantopskrifte oor beseerde of verstrengelde walvisse en walvisse wat op strande uitspoel.

Dit is om hierdie rede wat die South African Whale Disentanglement Network (SAWDN) in 2006 in die lewe geroep is.

“Dit is eintlik gestig ná ’n toename in onervare weldoeners wat mes-in-hand die see ingeduik het om sulke verstrengelde walvisse te probeer red. Dit was duidelik ’n resep vir ’n ramp en gelukkig was geen van hierdie pogings fataal nie.

“Die red van verstrengelde walvisse is baie gevaarlik, veral sonder die regte gereedskap en die deeglike opleiding wat die vereniging aanbied. SAWDN is juis op die been gebring sodat walvisse met gespesialiseerde gereedskap gered kan word,” sê Michael Meyer, voorsitter van die SAWDN.

Die mense van die SAWDN help ‘n verstrengelde walvis Naby Kaappunt. Foto: NSRI

Die SAWDN bestaan tans uit vrywilligers van organisasies soos die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), die KZN-Haairaad, die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, Sanparke, die polisie, Bayworld en verskeie operateurs van walvistoere en haaiduikekspedisies.

Meyer sê die statistieke tot hulle beskikking dui op ’n toename in verstrengeling oor die laaste twee dekades. Daar is egter eers sedert die ontstaan van die SAWDN ordentlik van verstrengelings boekgehou. Dit kan dus wees dat daar voorheen meer gevalle was as wat aangemeld is. “Dit is moontlik dat dit weens die oplettendheid van die publiek en SAWDN toegeneem het,” sê hy.

“Ons is tans in ’n lae-siklus periode, maar daar is ’n vergelykbare toename in verstrengelings gedurende die periode waarin ons boekhou. Dit dui moontlik op die herstel van die boggelrug- en noordkapperwalvisbevolkings van tussen 7 tot 10% per jaar.”

Gebrek aan hulpbronne

Die organisasie se gebrek aan hulpbronne het sy operasionele gebied meestal tot KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap beperk, waar die meeste verstrengelings aangemeld word. Vrywilligers het egter ook al in die Oos-Kaap hand bygesit om verstrengelde diere te red. Die mees onlangse voorval was sowat twee weke gelede by Port Alfred.

Meyer sê die grootste kopseer vir SAWDN is die feit dat mense wat ’n verstrengelde walvis opmerk baie keer nie naby die walvis bly tot die SAWDN se lede opdaag nie.

“Aangesien walvisse baie vinnig in enige rigting kan beweeg, mag dit nie vir die reddingspan maklik wees om die walvis op te spoor nie.

“Tans het die organisasie nie lugondersteuning om verstrengelde walvisse in die see op te spoor nie. As voorbeeld het ons onlangs verneem van ’n verstrengelde walvis in Tafelbaai. Ten spyte daarvan dat ons gebruik gehad het van ’n klein vliegtuigie wat die gebied twee keer gefynkam het, kon die reddingspan nie die walvis vind nie.

“Ons het gelukkig die walvis sowat ’n maand later opgespoor nadat ’n eko-toerisme-vaartuig by die walvis gebly het totdat die reddingspan kon opdaag.”

Hy sê hoewel die walvisse in die meeste gevalle suksesvol bevry word, is daar uitsonderings.

“Dit gebeur soms dat ons ’n walvis slegs gedeeltelik kan bevry, hoofsaaklik weens die spoed waarteen hulle beweeg en omdat die reddingspan nie naby genoeg kan kom nie.

“Ongelukkig kan enige tou in die water ’n walvis verstrengel, want hulle is lief om met toue te speel. Selfs ankertoue aan ontspanningsvaartuie kan hulle verstrengel. In baie gevalle is dit egter toerusting wat in die water gelos word om deur die nag te week.”

Die SAWDN moedig vissermanne gereeld aan om hulle toerusting verantwoordelik te gebruik.

“Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye reik visvangpermitte uit waarin die voorwaardes rakende die verstrengeling van walvisse en hoe om dit te voorkom uiteengesit word. Dit is uiteraard tog die verantwoordelikheid van die departement om visvangmetodes toe te pas of in te kort. SAWDN werk saam met die owerhede om sulke veranderinge toe te pas,” sê Meyer.

‘Dankbare’ walvisse

Is dit waar dat walvisse “dankie” sê nadat hulle, of ’n kalf wat verstrengel was, bevry is?

“Ongelukkig is dit een van die grootste mistastings om te dink ’n walvis weet die reddingspan is besig om hulle te help,” sê Meyer.

“Die waarheid is eerder dat hulle mense as roofdiere beskou. Ons reddingspanne word altyd geleer om baie versigtig en op hulle hoede te wees vir die ergste reaksie en gevaargebiede te vermy wanneer hulle naby die walvisse kom.

“Almal is baie meer versigtig wanneer hulle met noordkapperwalvisse werk, aangesien hulle gewoonlik baie nors en aggressief is. Hulle is ontsettend kragtig, terwyl boggelrugwalvisse (nie almal nie) maak of hulle die boot bestorm, of luid trompetter terwyl die reddingspan haar kalf bevry!”

Tog is daar uitsonderings. In 2016 het ’n span van SAWDN ’n verstrengelde boggelrugwalvis in Tafelbaai gehelp.

“Die walvis het aggressief geword toe hy die druk van die werkstou voel. Soms het die walvis gereageer op die mes soos dit deur die toue sny, maar hy was baie rustiger as wanneer ons aan die werkstou trek. Ons het stil-stil gewens alle verstrengelde walvisse het soos hy opgetree!

“Toe ons gedink het ons het al die toue verwyder, het die walvis tot by die boot geswem en sy lyf gedeeltelik op die drywende pont gesit. Die walvis was in geen stadium aggressief nie. Die span was van mening die walvis se gedrag was tekenend van dankbaarheid om verlos te word van verstrengeling. Hy het selfs die mense wat ’n monster van sy vel geneem het vir genetiese toetse geïgnoreer.

“Dit is ’n mooi gedagte om te glo dat die walvis werklik dankbaar was. Maar was dit werklik so?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.