Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Waar’s dit lekker?

Daar is min dinge beter vir die siel as om te gaan slaap met die klanke van branders wat breek en wakker te word met ’n uitsig op die see, skryf Suzaan Potgieter ná ’n naweek by Lekkerwater in die De Hoop-natuurreservaat.

Die ses huisies by Lekkerwater het elkeen ’n uitsig op die see vanuit die bed én stort – omtrent ’n belewenis wanneer jy wakker word. Foto: Verskaf

Dit is maklik om te verstaan waarom die personeel by die Lekkerwater Beach Lodge daarna verwys as ’n stukkie paradys.

Sonder om te verlief te klink, moet ek egter byvoeg dat dit die soort plek is wat jou asem wegslaan en waar jy met ’n swaar hart (en voete) oppak ná jou verblyf daar.

Kilometers van stil, privaat strande strek voor jou uit, die fynbos en wild is oral te sien en op goeie dae sal selfs ’n walvis of twee jou welkom heet.

Ashleigh en Jaben, die lodge se bestuurders, is werklik die beste deel van die ervaring. Jy sal gou voel of jy vir die naweek by twee vriende kuier en nie op ’n vreemde plek is nie. Hulle laat jou dadelik tuis voel en gaan uit hul pad om die besoek so lekker en gerieflik as moontlik te maak.

Hier kan jy uitsien na kuiers rondom die etenstafel en vuur, met die rustigheid van die om­gewing wat jou laat vergeet van die besige lewe tuis. Ek het heelpad terug huis toe gewonder of hulle nie ’n vakante pos het vir nóg ’n personeellid nie . . .

Die privaat strand is doodstil en word slegs deur die gaste van die oord gebruik. Vanuit jou kamer kan jy op die bed lê en sekere tye van die jaar walvisse sien. Foto: Verskaf

Kulinêre bederf

Baie mense hou daarvan om tydens ’n vakansie by topklas­restaurante te gaan eet. Hoewel jy nie naby aan ’n dorp óf restaurant is nie, moet jy nie dink dat vyfsterkos buite die kwessie is nie.

Die span in die kombuis is ’n regte bederf en bied drie maaltye per dag wat sal maak dat jy jou lippe afkou én teruggaan vir ’n tweede bord (of selfs ’n derde).

Soggens kreun die ontbyttafel onder die vars vrugte, jogurt, muesli en iets te drinke, wat wissel van sap tot koffie. Hiermee saam is ook ’n warm ontbyt met spek, eiers en vars­gebakte brood – meer as genoeg vir energie vir die dag.

Vir middagete word ’n verskeidenheid van kos buite op die stoep of strand bedien in die vorm van ’n soort oestafel – slaaie, kase, kouevleis, brood en vele meer. Afhangend van wat beskikbaar is, kan jy ook uitsien na lekkernye soos viskoekies of pekelvis.

Die groot bederf is egter saans wanneer die kombuis uithaal en wys met ’n driegangmaaltyd.

Van liplekker soppe met varsgebakte brood vir voorgereg tot ’n heerlike soet nagereg om die aand mee af te sluit.

Die hoofgereg sluit onder meer tradisionele disse in soos bobotie die een aand en op die laaste aand braaikos met al die tradisionele bykosse soos slaai, pap, tamatiesmoor en vele meer.

’n Rots onder teen die strand dien as die ideale platform vir drankies teen sononder. Foto: Verskaf
’n Rots onder teen die strand dien as die ideale platform vir drankies tydens sononder. Foto: Suzaan Potgieter

Wat kan jy alles hier doen?

Of jy nou Lekkerwater besoek vir ’n rustige naweek of om aktief te wees en die natuur te waardeer – hier kan jy albei doen.

Op een van die oggende bied die gids ’n rustige stap teen die kuslyn af aan. Tydens dié stap sal die gids die biodiversiteit in die rotspoele en die see vir jou uitwys. Jy kan uitsien na seesterre, anemone, seeslakke en selfs ’n seekat as jy gelukkig is.

Seesterre is deel van die groot verskeidenheid seelewe op die stande. Tydens ’n staptog langs die kus sal stappers al hierdie diere, plante en meer kan sien. Foto: Suzaan Potgieter

Die natuurreservaat is veral bekend vir al die walvisse gedurende die tydperk Julie tot November. Die suidelike noorkappers en hul kalwe spog gereeld in groot groepe in die water. Benewens walvisse is daar ook dol­fyne en vele ander seediere.

As jy meer van ’n land- as ’n seemens is, kan jy op ’n middag­uitstappie gaan wat as die fynbosstap bekend staan.

Uitasem en doodmoeg sal jy beslis ná die tyd wees, maar dit is met elk tree die moeite werd.

Hier sal jy die verskillende soorte fynbos, ander plante, dassies en selfs ’n voëlspesie of twee gewaar.

Saans terwyl die son sak, word drankies op die rotse teen die see geniet, en almal sit saam aan vir aandete.

Daar is ook meer as genoeg af tye om te rus of self te ontdek. ’n Bottel wyn en ’n kombers kan enige tyd ingepak word om op die strand te geniet.

  • Besoek bit.ly/LekkerW vir ’n besprekingsvorm. Jy kan ook ’n bespreking per e-pos doen by reservations@natural­selection.travel of deur 021 001 1574 te skakel.
Middagete word soms op die stoep bedien en bestaan uit ’n verskeidenheid van slaaie, vis, vleis, kase en meer. Foto: Suzaan Potgieter
Het jy geweet?

Die stuk grond waarop die Lekkerwater Beach Lodge in De Hoop staan, was eens de tuiste van oudpres. FW de Klerk se vakansiehuis, ofte wel sy “Camp David”, waarheen hy ontsnap het. In 1994 is die stukkie grond aan Cape­Nature teruggegee, waarna dit verhuur is. Die huis het egter in 2015 ná ’n donderstorm afgebrand.

Natural Selection het later ’n suksesvolle voorstel ingedien oor wat om met die stukkie grond te doen, en die Lekkerwater Beach Lodge, waarvan die deure vanjaar oopgemaak is, is toe gebou.

Tariewe en voordele

Verblyf by Lekkerwater is beslis nie goedkoop nie, maar neem in ag dat alles ingesluit is.

Die koste sluit in drie maaltye per dag, alle niealkoholiese en alkoholiese drankies, die uitstappies en die vervoer na Lekkerwater vanaf ’n parkeergebied in De Hoop (veral gerieflik as jy nie ’n 4x4-voertuig het nie).

Dit kos tussen R2 900 en R5 120 per persoon indien twee mense ’n huisie deel.

Die lodge werk volgens sekere datums wanneer jy kan kom en weer die plek moet verlaat. Besoek die webtuiste vir meer inligting hieroor en vir besprekings.

Daar is spesiale tariewe vir Suid-Afrikaners as hulle deel vorm van Natural Selection se Explorers Club. Dié klub vereis eenmalige aansluitingsgeld van R1 000 en is die res van jou lewe geldig. Voordele sluit in 20%-afslag vir verblyf by Lekkerwater en enige van sy eiendomme in Namibië en Botswana. Lede kry ook ’n spesiale tarief van R2 900 per persoon per nag as hulle 30 dae voor die tyd bespreek.

Besoek www.naturalselection­explorers.travel vir meer inligting.

Ry só: Wat om te weet

Lekkerwater is net meer as drie uur se ry vanuit Kaapstad en bied beslis die geleentheid vir ’n bietjie kuier in ander dorpe.

As jy vroeg genoeg in die pad val, kan jy by ’n padstal of twee stop en ontbyt geniet om die langpad effe korter te laat voel.

Saam met jou bespreking kry jy presiese aanwysings na die lodge wat elke dorp en die kilometers wat jy moet ry tot by die volgende afdraai aanwys.

Hulle verkies dat jy teen 14:00 by die Lekkerwater-parkering aankom sodat hulle jou na die huisies kan neem.

Wees op die uitkyk vir die Peregrine-plaasstal op die N2 ná die Sir Lowryspas as jy ’n bietjie bene wil rek, koffie wil kry of iets wil kry om te hap. Die padstal is bekend vir sy lekker pasteie.

As jy varsgebak en ’n heerlike ontbyt soek, kan jy altyd by die Ou Meul-bakkery in Riviersonderend aanklop – die ontbyt-croissant is ’n bederf.

Vandaar is dit reguit na De Hoop met die aanwysings wat presies aandui waar om af te draai. Dit kos R50 per persoon per nag om toegang tot die natuurreservaat te kry en daar is geen kaartgeriewe nie. Maak dus seker jy trek kontant wanneer jy iewers stop.

By die Lekkerwater-parkering sal ’n personeellid jou met ’n koue drankie verwelkom, waarna jy na die huisies geneem sal word.

Meer oor:  De Hoop-Natuurreservaat  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.