Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Wat brul so daar anderkant?

Vir Baaienaars is dit ewe ver van die middestad af tot by ’n wildpark met vier van Afrika se groot vyf as tot by een van die stad se grootste winkelsentrums. As ’n mens die uitstappie boonop met die nuwe Suzuki Jimny kan aanpak, is die keuse voor die hand liggend, skryf Willemien Green. 

Die drie leeuwyfies, Luca, Charlie en Kai, is gered uit haglike omstandighede in die Oekraïne en nou heerlik aan die speel in die veld onder die warm Afrika-son.Foto: Verskaf

’n Mens het nie regtig ’n rede nodig om ’n dag in die wildpark op jou drumpel deur te bring nie, maar as jy regtig een soek en jou man het ’n Suzuki Jimny tot sy beskikking en daar is ’n nuwe trop leeus te siene, het jy geen verskoning om nié te gaan nie!

Suzuki se klein 4x4 “jeepie”, het in 1970 vir die eerste keer in Suid-Afrika aangeland, dieselfde jaar as Sixto Rodrigues se “Su­garman”, en het sedertdien feitlik dieselfde kultus-status bereik. Trouens, as dit nie vir studielenings en wie weet wat nog alles was nie, sou Mnr. Green sweerlik self ons ou gesinsvoertuig vir dié oulike nommertjie ingeruil het!

Die Jimny is egter te klein vir ’n gesin. Hy is net 3.6 m lank en het net twee deure.

Al skuif ’n mens die voorste sitplekke vorentoe sodat nog twee passasiers agter sitplek het, is daar bitter min plek oor vir bagasie.

Vir twee mense op pad wildpark toe met ’n tas, ’n paar kampstoele en ’n sak hout of twee, is daar wel oorgenoeg plek. Boonop is die dingetjie so oulik, jy wil dit opvreet en hy voel asof hy gemaak is om mee te speel.

Die drie leeuwyfies wat uit haglike omstandighede uit Oekraïne gered is. Foto: Verskaf

Dit is met hierdie gedagtes dat ons die Jimny se neus op die M15, oftewel Kragga Kammaweg, ooswaarts swaai. Die 4-silinder 1.5 liter-enjin loop fluks op ’n gewone teerpad, maar dis nie iets waaroor ’n mens regtig opgewonde raak nie. Die outjie vang nogal die dwarswinde en ’n mens moet klou aan die stuurwiel.

Dis nie ’n luukse motor nie en die Jimny se instrumentpaneel gaan seker nie in almal se smaak val nie, maar die raakskerm vir die radio werk sonder moeite en dit is ewe maklik om jou selfoon met die motor se Bluetooth te konnekteer en tot irritasie van jou medereisigers oproepe te maak sonder dat jy die foon teen jou oor hoef te druk. “Ook niks gewoond nie,” is daar onderlangs gebrom.

Monty die jagluiperd lê luilekker onder ’n koelteboom.Foto: Willemien Green

By die wildpark se hek gee die ontvangspersoneel vir ’n mens ’n kaart van die park en ’n aanduiding van watter wild jy daar sal aantref. Bo en behalwe vir die splinternuwe leeutrop is daar ook jagluiperds, witrenosters, buffels, blouwildebeeste, kameelperde, verskeie bokspesies en ander kleinwild soos skilpaaie, yster-, bos- en vlakvarke, apies, jakkalse en hase.

Die paaie in die park is duidelik op die kaart aangedui sodat jy self kan rondrits om die wild te soek, maar jy kan ook ’n wildbesigtigings-rit bespreek.

Die meeste wild wei in die onderste deel van die park, betreklik naby aan dié roetes.

Die voëlskuiling langs die pad gee ’n mens kans om jou bene in die koelte te gaan rek en te kyk of jy dalk van die volop rooibors­jakkalsvoëls, ’n visarend, ’n skugter Knysna-loerie of een van die ander 200 voëlspesies hier gewaar.

Monty die jagluiperd kan skaars sy oë oophou so warm was dit op die dag in die Kragga Kamma-park gewees.Foto: Willemien Green

Die droogte het ook sy tol hier geëis en die meeste watergate in die reservaat is tans redelik droog, maar jy sal steeds ’n trop bokke en ander wild sien wat hulle dors kom les.

“Ons het darem genoeg drinkwater vir die diere,” sê David Cantor, mede-eienaar van die park. “Dit is hoofsaaklik die veld en natuurlik die paaie wat nie in die droogte herstel kan word nie wat die meeste daaronder ly. Gelukkig het ons ’n borg wat help met voer vir die wild.”

Die rowwe paaie is natuurlik nie ’n probleem vir die Jimny (en die uitgelate bestuurder) nie en op die op- en afdraandes is hy in sy element. As passasier hoef ’n mens ook nie benoud vas te skop teen die afdraandes nie, want die Jimny rem met die enkele druk van ’n knoppie homself teen die steiltes af. Vir die bestuurder voel dit aanvanklik effe aardig om nie sy voet op die rempedaal te hou nie.

Sit gerieflik agteroor en onderneem ’n twee uur lange wildrit in die Kragga-Kamma-park. Foto: Willemien Green

Die Jimny, wat normaalweg deur die agterwiele aangedryf word, is effens steeks om oor te skakel na vierwielaandrywing, maar daarna is hy groot sports op die grondpad.

Die bome in die bosse aan die bo-kant van die kamp maak pragtige natuurlike tonnels oor die pad en as jy gelukkig is, sal ’n duikertjie of grysbokkie rats by jou kar verbyspring en in die bosse verdwyn.

Die bokke is veilig van die ses jagluiperds en die leeus, want dié word in ’n aparte kamp gehou en ’n mens moet deur ’n veiligheidshek ry as jy hulle te sien wil kry.

Die pad wat teen die koppie op en af kronkel eindig digby die restaurant met die leeukamp daar neffens.

Bring jou verkyker saam, want by die leeukamp is ’n platform waarop jy kan gaan staan, om te kyk of jy die leeus kan sien. Op ’n warm dag is dit moeilik om hulle tussen die ruigtes te gewaar, want kat se kind skuil graag onder die koeltebome tussen die ruigtes.

Twee Burchell-sebras wei en veg teen die vlieë.Foto: Willemien Green
Die kameelperd kou lustig aan die voer wat nou tydens die droogte in die Oos-Kaap vir die diere uitgesit word.Foto: Willemien Green

Met ons besoek het die leeus aan die bo-kant van die kamp onder ’n boom gelê en net so nou en dan het een luilekker uitgerek en so effens van posisie verander.

Dit het fyn beplanning gekos om dié leeus wat nou die Afrika-son so op hulle lywe geniet in die Kragga Kamma-wildpark te vestig.

Lionel de Lange, ’n oud inwoner van die Baai, het verlede jaar ’n reddingspoging van stapel gestuur om dié arme diere uit die haglike omstandighede waarin ’n rondreisende sirkus hulle in ’n hok in die Oekraïne agtergelaat het, hierheen te bring.

Lionel is die direkteur van die Lawrence Anthony Earth Organisation wat hoofsaaklik daarop toegespits is om bruinbere in die Oosblok-lande te red. Hy het van die leeus se lot te hore gekom en die eienaars van die Kragga Kamma-wildpark, wat ook huisvriende van hom is, gekontak.

David en die ander mede-eienaars van die park het ingestem om die leeus in die park te huisves en Lionel het gehelp om die reddingspoging te bewerkstellig.

Die bosbokkies wei sommer naby aan die roetes in die park.Foto: Willemien Green

Ná ’n groot geldinsamelingspoging en geweldige rompslomp met hope papierwerk om toestemming en die regte permitte te verkry en ook die voorbereiding in die park om vir hulle ’n veilige hawe te gee, is die leeus uiteindelik in November verlede jaar in die park vrygelaat.

David sê dit was ook ’n emosionele proses en die leeus pas nou uitstekend in hulle splinternuwe 15 000 m² kamp aan. Dis immers 500 keer groter as die beknopte betonhok van 30 m² waarin hulle voorheen saamgebondel was.

Hou ook buite die leeukamp jou oë oop vir die park se vier witrenosters, Chuck, die bul, en Bembi, die koei, en twee kalfies, Bonnie en Tank.

Dié foto wys hoe Tank in 2017 onder die wakende oë van sy ma, Bella, speel. Bella is ongelukkig verlede jaar deur stropers in die park afgemaai.Foto: Media24 Argief

Albei die kalfies is ongeveer twee jaar oud.

Tank se ma, Bella, is verlede jaar wreedaardig deur stropers afgemaai, maar gelukkig het Bembi haar oor hom ontferm en laat selfs soms toe dat hy aan haar drink!

Ongelukkig moes al die renosters se horings verwyder word om die stropers te ontmoedig.

Suzuki Jimny feite:

Prys: Vanaf R264 900

Enjin: 1,5 L Petrol met VVT

Ratkas: 5 spoed handrat

Wringkrag: 130 nm @ 4000 rpm

Aandrywing: laestrek of outomaties

Die oulike Suzuki Jimny is ’n fees om te bestuur in die wildpark.Foto: Willemien Green

“Ons het nou ’n versterkte veiligheidstelsel en die renosters word 24 uur per dag dopgehou,” sê David.

Gaan maak ná jou wildrit ’n draai by die restaurant en kry by die binneste tafels lafenis teen die hitte binne of bestel jou eet en drinkgoed en gaan sit op die dek. Hiervandaan het jy ’n skaflike uitsig op die jagluiperds se kamp en as jy gelukkig is, kom vreet een van hulle dalk aan die kos wat daar vir hulle uitgesit is.

’n Hangbruggie oor ’n dammetjie verbind die dek van die restaurant met die “Monkey Walk”, ’n 400 m-lange wandelpad wat bo in die bome gebou is en vanwaar jy die inheemse bos van nader kan bewonder en die manewales van die apies kan dophou.

Die piekniek-gedeelte is veilig afgesonder en besoekers is welkom om daar ’n vleisie op die kole te gooi. Ry dan daarvandaan rustig na die uitgang van die park. As jy nog nie gereed is om huis toe te gaan nie, kan jy verblyf bespreek in een van die oornaghuisies, of die safari-tent.

By die hutte kan jy sommer op jou stoep sit en die bokke en varke dophou wat in die omgewing wei en dalk van nader kennis maak met ’n nuuskierige volstruis wat sal kom dagsê as jy vroegaand sit en kyk hoe die son sak.

Laataand klink die roep van die jakkalse in die verte op en nou, vir die eerste keer, kan jy ook ’n leeu in die park hoor brul.

As selfs dít nie vir jou genoeg is nie en mits jou bankbestuurder ’n baie vriendelike mens is, kan jy deesdae ook vir jou ’n permanente blyplek in die park aanskaf.

David sê dié huise se uitleg is so beplan dat die gevoel van ’n wildpark behoue sal bly met genoeg ruimte waar die diere ongehinderd kan rondloop sonder dat die mense hulle pla.

“Dit sal ook bydra tot die toekomstige behoud van die park wat as ’n private wildpark geregistreer is. Mense wat hier kom koop en woon, is natuurliefhebbers en hou self ook sommer ’n oog oor die diere in die park.”

’n Trop springbokke wat water by een van die watergate in die park gaan soek het trek in volle vaart weg toe hulle ons gewaar.Foto: Willemien Green
Die hangbrug vorm deel van die “Monkey Walk” en bied ’n uitsig oor inheemse bos en gee jou die geleentheid om die manewales van die ape dop te bou. Dit lei ook na die park se restaurant.Foto: Willemien Green
Kameelperde in die park.Foto: Willemien Green
Besoekers kan ook piekniek hou in die park.Foto: Willemien Green
Kragga Kamma-wildpark:
  • Besoek die park in die winter van 08:00 tot 17:00 en in die somer van 07:00 tot 18:00.
  • Toegang kos R90 per volwassene en R40 vir skoliere van drie tot 18 jaar en kinders jonger as drie kan die park gratis besoek.
  • Wildritte duur ongeveer twee ure en kos R230 per persoon.
  • Dit kos R160 per persoon om Monty, ’n jagluiperd, van nader te leer ken.
  • Skakel 041 379 4195 of 083 410 2883 om jou plek vir ’n wildrit of in die oornag-fasiliteite te bespreek.
  • Sluit jaarliks aan en word ’n lid van die Kragga Kamma-wildpark en besoek die park enige weeksdag vir die jaar.
  • Dit kos R500 vir twee volwassenes en R700 vir ’n gesin van vyf persone vir per jaar.
  • Vir meer inligting, besoek die park se webtuiste by www.kraggakamma.co.za
Meer oor:  Suzuki Jimny  |  Toerisme  |  Doendinge  |  Bewaring  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.