Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Waterjuffer wat vuur en droogte oorleef het

Theewaterskloof.

Die blote noem van dié dam se naam is genoeg om Kapenaars te herinner aan die fotobeelde van swart boomgeraamtes in ’n beenwit landskap waarmee die nuusmedia die werklikheid van ’n ongekende droogte in die Boland by die publiek tuisgebring het.

Spesbona angusta, die waterjuffer wat sy kleur binne sekondes van ligblou na diepblou en terug kan verander na gelang van die temperatuur en lig, byvoorbeeld wanneer daar ’n wolk voor die son inskuif.

Soos niks anders nie het die verskrikking van ’n leeggeloopte Theewaterskloofdam die argelose verbruik van water in en om die Moederstad stopgesit en inwoners laat saamwerk om ’n dreigende Dag Zero af te weer.

Die winterreënval was vanjaar steeds ondergemiddeld, maar deur die gemeenskap se volgehoue inkorting van waterverbruik en danksy goeie neerslae in laat Oktober is berig dat Thee­waterskloofdam onlangs die 75%-vlak verbygesteek het.

Natuurliefhebbers wat die omgewing ken, was baie bekommerd oor die effek van die droogte op die biodiversiteit van die sensitiewe omgewing naby die dam.

Toe hewige veldbrande boonop bydra tot verdere habitatverlies, is gevrees dat die doodsklok gelui het vir die uiters skaars en bedreigde inheemse waterjuffertjie, Spesbona angusta, wat net in dié spesifieke vleiagtige gebied en stil, begroeide poele in stadig vloeiende stroompies voorkom.

Normaalweg is die volwasse Spesbona net gedurende die lente- en vroeë somermaande te vinde. Bevrugte eiertjies word in die waterige, modderige omgewing gelê.

Daaruit ontwikkel die larwes wat onderwater deur verskillende stadiums groei totdat die volwasse insek maande later op die bestemde tyd uit sy “dop” breek, kompleet met vlerkies en asemhalingsorgane toegerus om die laaste fase van sy leeftyd buite die water deur te bring.

Dié unieke klein lid van die naaldekokerfamilie is daarvoor bekend dat hy hom soos ’n verkleurmannetjie in die insekwêreld gedra.

Die eerste Spesbona is in 1920 in die Cederberge naby Ceres ontdek, maar daarna is die spesie as uitgestorwe beskou totdat dit 82 jaar later in 2002 in die Theewaters-bewaringsgebied herontdek is.

In Oktober 2017 het die waarde van burgerlike wetenskaplikes se fotobydraes klinkklaar geblyk toe Jean Hirons, ’n amateur van Hoekwil in die Suid-Kaap, se foto’s uit die Sedgefield-omgewing opslae gemaak het onder Odonata-geesdriftiges.

’n Pienk blomhofie.

Dit is dadelik deur die deskundige paneel as Spesbona uitgeken. Etlike ander amateurs se fotorekords uit die gebied tussen Sedgefield en Knysna het sedertdien gevolg.

Wat Theewaters se waterjuffers betref, het almal asem opgehou toe die dam byna heeltemal opgedroog en die veld afgebrand het.

Genadiglik het die natuur egter sy eie oorlewingstrategie gevolg: die winterreëns het gekom, dit het weer lente geword, en Spesbona is verrassend genoeg steeds op sy plek. In al sy volmaakte glorie. Hoe dit gebeur het, kan ons net raai, maar sy naam beteken nie verniet “goeie hoop” nie. En die hoop het nie beskaam nie; ons kleingeloof wel.

Die herstel van die fynbos in die Theewatersgebied is tans ’n wonderlike skouspel.

Nuwe saailinge van die proteafamilie wat deur die brand geaktiveer is, staan plek-plek soos hare op ’n hond se rug. Biesies en dekrietpolle het geil teruggegroei langs die waterpoele en stroompies.

Fyn veldblommetjies lok kewers en skoenlappers. Klein geel disas en moederkappies en ander wilde orgideë tref die oplettende oog.

En ons is baie dankbaar.

  • Du Toit is ’n geregistreerde waarnemerlid van die Virtuele Museum van die Universiteit van Kaapstad se dieredemografie-eenheid by die Fitzpatrick-Instituut.
Meer oor:  Theewaterskloofdam  |  Reis  |  Buite  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.