Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Welkom aan die wynkus!

Kreef. Yskoue water. ’n Wildewragtigkuslyn. Verruklike rooivleis. Lekkerbekbokkoms. Wawyd oop vlaktes. Sonsondergange . . . dáár’s vir jou ’n paar dinge waarvoor die Namaqua-Weskus en sy mense ’n klop op die skouer verdien, skryf Jacques Marais.

Niklaas le Roux en Henzil Love van Doornkraal. Foto: Jacques Marais

Maar ’n bewonderenswaardige wynstreek? Tot onlangs was die omgewing meer bekend onder die berugte bokswynbende, eerder as ’n bestemming waar fynproewers neus in die glas vir mekaar grootoë kon maak. Dink weer, ou maat.

Die goeie nuus is egter dat die Namakwalanders nie opstêrs geraak het oor hul wyn nie.

Neem nou maar vir Jan Ponk van Zyl van Fryer’s Cove. Hy het ’n 30 km lange pyplyn tot by Doringbaai gelê sodat hy hier teen die kus kon wyn verbou. Gaan kuier egter in die ou hawegebou vir ’n wynproe en hy sal praat dat die spoeg spat oor allesbehalwe die pryse wat sy sauvignon blancs landwyd losslaan.

Marilize Retief en Sybrand Teubes van Teubes Wines.
Kyk net hierdie uitsig van Fryer’s Cove.
Die Teubes Wines Platter.

Vat van hier die pad binneland toe verby Papendorp tot by die sendelingdorpie Ebenhaeser, en ewe skielik ontdek jy ’n heel ander wynjuweel.

Doornkraal se wynstokke word in stand gehou deur twee van die grootste gentlemen in Suid-Afrika.

Jy sal tien teen een die ooms Henzil Love en Niklaas le Roux hier tussen die druiwestokke raakloop, waar hulle onder die wakende oog van Dirk de Bruyn van Namaqua Wines werk aan een van die land se nuutste gemeenskapsprojekte. Die wingerde word nog met ’n ou tuigperd geploeg, en loop oor van vrede, tradisie en rustigheid.

My wynproe begin in alle erns by Namaqua Wines se Die Keldery-restaurant. Ek was te oud vir die Jelly Tots-en-vrugtesap-kinderpret, maar kon heel guitig aan die kampioenkultivars teug.

En die kos is uit die boonste rakke – met alles van watertandlekker seekos, pastas en gebraaide espetada tot uitsonderlike biefstuk en slaaie.

’n Unieke rooibos-en-wynparing by Klawer Cellars.

Ná ’n wyn-en-biltong-proe vat ons die pad na Teubes Wines. Hierdie familiewynlandgoed spesialiseer in prima organiese kultivars, en die gevoel wat jy kry is ’n mengsel van so ’n bietjie Weskus met ’n titseltjie
Pro­vence en Toskane daarby. Een ding is seker: Moenie hier die Karoobossie Kap Klassiek misloop as jy ’n aanhanger van gehaltevonkelwyn is nie.

Die laaste stopplek op pad terug na Kaapstad was die immer vriendelike Klawer Cellars. Dié plek bly een van die N7 se lekkerste kuierplekke. Die rooibosvermoet is legendaries as ’n sagmaakgeskenkie vir menige skoonma. ’n Nuutjie hier is die rooibos-en-wynparing, ’n streeklekker gourmet-ervaring en beslis die moeite werd.

En dít, mense, is net die begin van die hope pret en wynplesier wat op jou wag hier aan die Namaqua-Weskus.

  • Vir meer besonderhede, gaan loer by www.visitnwc.com.
Sewe Namaqua-Weskus-kelders om by te stop:

Bellpost Wines is weggesteek tussen Vredendal en Lutzville op die R362. Net ’n klein gedeelte van sy druiwe word gebruik om wyn onder die Bellpost-etiket te produseer, maar die Thiart-familie wéét hoe om wyn te maak. Hul wyne, lekkerste koffies in die kontrei en uitgebreide jenewerkroeg is beskikbaar by die ThiArt-restaurant in die Maskam Mall.

  • Meer inligting: www.bellpost.co.za

2 Namaqua Wines se wyn­makers het oor dekades geleer hoe om die beste uit hul wingerde te kry. Elke wyn word sorgvuldig met noukeurige aandag gemaak en dus weet jy elke teugie gaan oorloop van die spesifieke terroir.

  • Meer inligting: www.namaquawines.com

3 Fryer’s Cove Vineyards se wingerde is teenaan die R362 na Doringbaai, minder as 600 m van die Atlantiese Oseaan. Jy sal nie sommer op ’n lekkerder plek sit met ’n sauvignon blanc of pinot noir in die hand as op hierdie skilderagtige hawe met sy prag­panorama oor die baai nie.

  • Meer inligting: www.fryers­cove.co.za

4 Seal Breeze is teen die oewer van die Olifantsrivier, net verby Lutzville. Geniet wyne in die prag­tuin of kuier in die kelder met die wynmaker, Joan Wiggins. Unieke, eksklusiewe wyne word hier nog met die hand gemaak.

  • Meer inligting: wined.co.za

5 Klawer Cellars is deel van die Rooibosroete en om jou rooibosavontuur te verbeter, bied Klawer nou ’n rooibos-en-wynparing. Die kelder het al talle pryse gewen en bied ’n uitsonderlike verskeidenheid wit- en rooiwyne, asook dessert- en vonkelwyn, en druiwesap.

  • Meer inligting: www.klawer­wine.co.za

6 Doornkraal is ’n gemeenskapswynbouprojek in vennootskap met die Namaqua-wynmakery. Die klein wingerde in Ebenaeser word steeds volgens eeue- oue landboutradisies bewerk. Die wyn is beskikbaar by Die Keldery asook by Namaqua se aanlyn winkel.

  • Meer inligting: www.namaquawines.com.

7 Teubes Wines is op die R363 net buite Vredendal en word reeds meer as drie dekades deur die Teubes-familie bewerk. Maak ’n dag daarvan; wandel of trap fiets langs die plaaspaaie en sluit jou dag af met ’n wynproe en puik kos.

  • Meer inligting: www.teubes­wines.co.za

    Meer oor:  Wyn  |  Wynkus
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.