Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
'Langste glykabel' gaan sorg vir groot sports

Met die opening van die nuwe glykabel in Mosselbaai, word die lys van adrenalien-avontuur-doendinge in die gebied letterlik oor die drumpel, of in dié geval oor die Indiese Oseaan, gestoot. Pret-en-adrenalien-geesdriftiges sal binnekort teen ’n spoed van tot 80 km/h oor die Indiese Oseaan kan gly.

Die bou van die nuwe glytou in Mosselbaai, wat jou teen ’n hengse spoed oor die Indiese Oseaan sal neem, is tans aan die gang. Hierdie foto’s is geneem tydens die Installeringsfase. Foto’s: VERSKAF

Nadat die Mosselbaai-munisipaliteit in 2017 toestemming gegee het vir die oprigting van ’n glykabel, het die adrenalien behoorlik begin pomp in Mosselbaai met sy gematigde weer en lieflike uitsigte.

Dié bekoorlike dorpie aan die Tuinroete gaan eersdaags die langste “oor-die-oseaan”-gly­kabel ter wêreld hê. Tydens ’n rit (of gly!) met die 1,1 km lange gly­kabel gaan jy ongelooflike uitsigte hê oor die oseaan, die ruwe rotse doer onder en met ’n bietjie geluk aan jou kant, dalk ook iets van die seelewe.

Daar word verwag dat tussen 8 000 en 10 000 mense per jaar na dié nuwigheid gaan stroom.

Die hoofkabel is reeds van bo, vanaf die rotse by die Van Riebeeck-sportkompleks, tot by die dek van die akwarium by Die Punt aangebring en die laaste af­ronding aan die sisteem is nou aan die gang. Die ankertoue word volgens ingeligte bronne binnekort losgemaak en dan begin die sports. Solank jy ouer as ses jaar is, nie swanger is nie en minder as 120 kg weeg, wag hier definitief vet pret op jou.

Dit is ook nie nodig om self enige akrobatiese toertjies met ’n selfoon of videokamera uit te haal nie, aangesien die blitsrit deur Mossel Bay Zipline se kameraspan afgeneem en op sy Facebook-blad geplaas sal word.

Die langste “oor-die-oseaan”-gly­kabel ter wêreld in wording in Mosselbaai. Foto: VERSKAF

Volgens Clinton Lerm, een van die direkteure van die firma agter die oprigting van die nuwe avontuurgerief, was die belangstelling in die nuwe glykabel oorweldigend. Volgens hom het SA Forest Adventures, die moederagentskap, deurentyd bemarking op sosiale media gedoen en was daar reeds meer as 500 000 regmerkies op Mossel Bay Zipline & SA Forest Ad­ventures se gekombineerde platforms.

Dié enig-in-sy-soort-buite-doending gaan ’n reuse-impak hê op avontuurtoerisme in die gebied. Daar word verwag dat tussen 8 000 en 10 000 mense per jaar na dié nuwigheid gaan stroom.

Wanneer is dit oop vir die publiek? Geen spesifieke datum is al bekend nie, maar luidens die Mossel Bay Zipline se webtuiste sal dit in Februarie wees.

Meer oor:  Mosselbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.