Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Wes-Kaap spog weer met meeste Blouvlagstrande

Die Wes-Kaap spog weer met die meeste Blouvlagstrande, met 33 uit die 45 strande in die land wat aan die vereistes voldoen.

Die Kaapstad-metroraad het Woensdag aangedui dat tien strande in die metropool Blouvlag-status van die Wildlife and Environment Society (Wessa) ontvang het.

Muizenbergstrand is een van tien Blouvlagstrande in Kaapstad en een van 45 oor die land heen. Foto: Jaco Marais

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê in ’n verklaring die strande moet aan 33 kriteria in vier kategorieë voldoen, naamlik omgewingsonderrig en inligting, watergehalte, omgewingsbestuur asook veiligheid en dienste.

“Die Blouvlagstrande is geografies goed geplaas oor die metropool heen – van Silwerstroomstrand in die noorde, strande langs die Atlantiese kusgebied tot die afgeleë Bikini Beach langs Gordonsbaai se hawe in die suide. Dié strande word jaarliks deur duisende inwoners en toeriste besoek en die metroraad maak seker dat hulle ’n hoë standaard handhaaf.”

In Kaapstad is Bikini Beach, Kampsbaaistrand, Clifton se vierde strand, Vishoekstrand, Llandudno, Melkbosstrand, Mnandi, Muizenberg, Silwerstroomstrand en Strandfontein as Blouvlagstrande aangewys.

Daarby is Seaforthstrand in Simonstad ook deel van ’n proeftydperk waar dit Blouvlag-status kan ontvang.

Badroodien sê meer as 330 menseredders is van die tweede week van September af by swemplekke in die metroraad aan diens.

“In die 2018-’19-somerseisoen is ’n afname in verdrinkings van 50% waargeneem vergeleke met die vorige seisoen. Dit is vanweë ’n toename in opvoeding en bewusmaking oor die tipe gedrag wat swemmers in gevaar stel en danksy die dapperheid en waaksaamheid van ons menseredders.”

Die Overstrand-munisipaliteit het bevestig dat Grottostrand, Hawston en Kleinmond as Blouvlagstrande aangewys is, sowel as Castle Beach in Pearly Beach wat die eerste keer dié status ontvang.

Zahid Badroodien (in swart), burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid in Kaapstad, saam met menseredders op Muizenberg se strand, een van die Blouvlagstrande in die Kaapstad-metropool.Foto: Verskaf

Onrusstrand is ook deel van ’n proeftydperk op ’n voorlopige grondslag om uiteindelik as ’n Blouvlagstrand aangewys te word.

Wessa het Woensdag die 45 Blouvlagstrande in die V&A Waterfront in Kaapstad bekend gestel vir die seisoen wat op 1 November begin en tot 31 Oktober 2020 duur.

“ ’n Indrukwekkende 40% van die Blouvlagstrande is al tien jaar of langer deel van die program, terwyl sewe strande al 15 jaar en langer dié status geniet. Hierdie seisoen is daar ook vier nuwe strande wat ingesluit is.”

Vanjaar is daar 35 strande wat deelneem aan die “ontwikkelingsfase” van die program om mettertyd Blouvlagstrande te word.

Wessa is sedert 2001 verantwoordelik vir die aanwys van Blouvlagstrande in Suid-Afrika as deel van ’n internasionale program vir die bewaring van kusgebiede, die skep van bewustheid en opvoeding oor die omgewing en die bevordering van kusbestuur en goeie praktyk.

Daar word van elke Blouvlagstrand vereis om verskeie aktiwiteite vir omgewingsonderrig in die jaar aan te bied en doeltreffende bewaringsbestuur toe te pas.

Die ander Blouvlagstrande in die Wes-Kaap, per munisipaliteit is:

Kaap Agulhas – Struisbaai;

Hessequa – Witsand, Preekstoel, Lappiesbaai, Jongensfontein, Gouritsmond en Stilbaai-Wes;

Mosselbaai – De Bakke, Hartenbos, Klein-Brak, Santos en Glentana;

Knysna – Brenton-on-Sea;

Bitou – Robberg se vyfde strand, Keurboomstrand, Nature’s Valley, Lookout, The Dunes en Singing Kettle.

  • Die Blouvlagstrande in die Oos-Kaap is: Dolfynstrand, King’s Beach, Humewood, Hobiestrand, Kariegastrand en Kelly’s Beach.

  • Die Blouvlagstrande in KwaZulu-Natal is: Marinastrand, Trafalgar, Southport, Umzumbe, Hibberdene en Ushaka-strand.
Meer oor:  Kaapstad-Metroraad  |  Wes-Kaap  |  Blouvlagstatus  |  Strande  |  Blouvlagstrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.